Skrywer: Jana Snyman
Poppie Nongena
Kry jou springmielies en lekkerste kombersie gereed en kom kyk saam met Afrikaans.com na hierdie jaar se gunsteling- Afrikaanse filmtreffers. Hierdie jaar met al sy geite, het nog steeds goue treffers opgelewer. Afgesien van ’n harde grendeltydperk, waar die filmbedryf baie swaar gekry het, kyk ons graag na die films wat hierdie jaar hul merk gelaat het, en deur elke hindernis die weg na die silwerskerm gebaan het.
Of jy jou lyf tiener hou en soetsappige romanses verkies, en of jy meer van die ernstiger kant van die lewe hou, ons het iets vir almal se voorkeure. Kom kyk saam …
Die regisseur Christiaan Olwagen en vervaardiger Helena Spring, het ’n vars aanslag op Elsa Joubert se boek, Die swerfjare van Poppie Nongena, probeer uitbeeld. Die film vertel die verhaal van ’n Xhosasprekende vrou wat vrede vir haarself en haar gesin soek ten midde van erge omstandighede in Suid-Afrika. Die film speel af in ’n era waar swart vrouens noodgedwonge hul tuistes moes verlaat om in swart tuislande te gaan woon. Boetes en arrestasies het deel gevorm van hul verwysingsraamwerk en die vrees vir die toekoms vir hulself en hul gesin. Poppie se man, Stone, word skielik siek, en die owerhede beskou Poppie as ’n onwettige burger. Die fliek kyk na Poppie se dade en handelinge in ’n tydperk van politieke onrus, en ook hoe sy alles in die stryd werp om nie van haar kinders en woonplek afskeid hoef te neem nie…
Draaiboek: Draaiboek deur Saartjie Botha en Christiaan Olwagen. Gebaseer op die roman Die Swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert. Regisseur: Christiaan Olwagen Vervaardiger: Helena Spring Medevervaardiger: Roelof Storm Rolverdeling: Clementine Mosimane, Anna-Mart van der Merwe, Chris Gxalaba, Rolanda Marais, Dawid Minnaar, Lida Botha, Nomsa Nene |
Griekwastad
Met ’n regisseur soos Jozua Malherbe en vervaardigers soos onder meer Tim Theron, Cobus van den Berg, Tracey Lange en Deon Meyer, kan ’n mens nie anders as om in afwagting te wees op wat volg nie. Hierdie grumoord het die hele land tot stilstand gebring. Die film gee ’n kykie op die moorde op die jong Marthella, haar pa Deon en haar ma Christel, wat koelbloedig geskiet is. Slegs Don, hul seun, kon ontsnap. Kolonel Dick de Waal kry opdrag om die moorde te ondersoek en die moordenaar vas te trek. Wie sal die skuldige wees…
Draaiboek: Tertius Kapp Regisseur: Jozua Malherbe Vervaardigers: Tim Theron, Cobus van den Berg, Tracey Lange, Deon Meyer Rolverdeling: Arnold Vosloo, Alex van Dyk, Jody Abrahams, Tim Theron, Albert Pretorius, Esther von Waltsleben, Deon Lotz, Ira Blanckenberg, Johan Botha, Lida Botha, Sisanda Henna, Marvin Lee Beukes, Rolanda Marais, Brent Vermeulen |
Vergeet my nie
Regisseur Danie Velts en vervaardiger Danie Bester skep ’n film waarmee elke person., hetsy oud of jonk, kan vereenselwig. Hierdie avontuur- en liefdesverhaal is vir almal. Die film speel aanvanklik af in die mooi studentedorp, Potchefstroom. Na ’n mislukte verhouding, pak Mardaleen haar tasse en durf sy die groot stad Londen en sy liggies aan. In Londen ontmoet sy vir Hugo, ’n stoere Namibiese boerseun wat haar voete onder haar uitslaan. Tog kan sy nie van haar diepgewortelde vrese ontslae raak nie. Hoe durf sy alles vir ’n man prysgee, veral ’n belowende loopbaan? As Hugo jare later weer aan haar deur kom klop, sal Mardaleen steeds die stadsliggies bo die rustige liefde van haar boerseun kies?
Regisseur: Andre Velts Vervaardiger: Danie Bester Draaiboekskrywer: Tarryn-Tanillie Prinsloo Rolverdeling: Marguerite van Eden, Sean-Marco Vorster, Kenley Swart, Pietie Beyers, Fiona Ramsey, Elani Dekker, Amalia Uys, Leché Joubert, Rikus Strauss, Arno Greef |
Moffie
Oliver Hermanus neem die kyker terug na 1981 – tydens menige jongman se verpligte dienspligjare destyds in Suid-Afrika. Die bloedjong Nicholas moet noodgedwonge twee jaar diensplig onder die ou apartheidsregering uitdien. Daar moet hy sy seksuele identiteit wegsteek en onderdruk en veral seker maak niemand kom iets agter van sy gevoelens vir ’n mederekruut nie. Kommunisme en gesagsbeheptheid is deel van hul realiteit, en of Nicholas nou reg is of nie, die weermag is wreed, en die bevelvoerders ongenaakbaar…Sal hulle iets vermoed? En wat hou die toekoms in?
Draaiboek: Oliver Hermanus en Jack Sidey Vervaardigers: Eric Abraham, Jack Sidey Regisseur: Olivier Hermanus Rolverdeling: Kai Luke Brümmer, Matthew Vey, Ryan de Villiers, Stefan Vermaak, Wynand Ferreira, Shaun Chad Smit, Rikus Terblanche, Hendrik Nieuwoudt, Dale Lourens, Brendan van Zyl, Ludwig Baxter, Jan Combrink, Lian Smit, Mitchell Christy, Nicholas van Jaarsveld, Jordy Gurr, Martin Munro |
Toorbos
René van Rooyen vertel ’n verhaal wat elke kyker sal aangryp. Gebaseer op Dalene Matthee se boek, Toorbos, word die verhaal van ’n jong bosvrou uitgebeeld waar sy veg teen die ontworteling van die laaste bosbewoners in die Knysna-gebied. Karoliena Kapp se liefde vir die bos, en haar wortels wat diep gegrond is in hierdie stukkie aarde word ’n probleem omdat haar hart nie net aan die bos behoort nie, maar ook aan Johannes, die man wat sy liefhet. Tog is ware liefde blind, en is die innige stryd in Karoliena veel meer as die stryd wat in die woud afspeel. Karoliena moet getrou bly aan haarself, haar beginsels en liefde vir die bos, ongeag haar verbintenis met Johannes. Sal sy swig voor sy sjarme en die nuwe lewe wat hy haar bied? Of sal sy voortgaan om die bos en sy inwoners te probeer red?
Vervaardiger: André Scholtz en Dries Scholtz Regisseur: René van Rooyen Draaiboek: René van Rooyen Rolverdeling: Elani Dekker, Stiaan Smith, Ira Blanckenberg, Clare Marshall, Ivan Abrahams, Gretchen Ramsden, Dirk Vermeulen, Paul Eilers |
Wesens
Met Wesens, het Derick Muller gesorg vir ’n genre wat die Suid-Afrikaanse mark se aandag getrek het. Met ’n “Karoo sci-fi” soos die skrywer en vervaardiger dit noem, word die unieke wetenskapsfiksie ’n werklikheid. ’n Kameraversamelaar kom af op ou 8 mm- en 16 mm-filmrolle en oudiobande wat beeldmateriaal wys van hoe vier intelligensiediens-agente in 1967 ’n vreemde voorwerp ondersoek wat op ’n plaas in die Karoo geland het. Die beeldmateriaal word vertoon in die rolprent en fliekgangers word meegevoer deur hierdie ongewone gebeurtenis uit die verlede waar die raaisel van die vreemde voorwerp opgelos moet word. Is dit net fiksie, of steek daar waarheid in?
Vervaardiger: Derick Muller Regisseur: Derick Muller Draaiboek: Derick Muller Rolverdeling: Pietie Beyers, Randy Januarie, Albert Maritz, Pierre Nelson, Conradie van Heerden, Rayno von Schlicht |