Meningstukke / Lindie van Gass
Januarie voel altyd soos drie dekades wat kompak binne 31 dae verpak is, met die eerste dekade wat die langste voel. Dis skokkend hoe baie mense bereid is om skuld te maak net vir Desemberuitgawes. Kersfees is veronderstel om ‘n wonderlike tyd van die jaar te wees, waartydens ons omring word met ons geliefdes en onsself knuppeldik eet. So lekker as wat dit is om ons mense te bederf en te gee en gee en gee – so hard tref realiteit jou as jy in Meimaand steeds jou kredietkaart probeer afbetaal as gevolg van die Kersseisoen.
Probeer die volgende stappe om dit te voorkom:
- Moenie ’n geskenk koop net vir sommer nie … ’n 2019-studie beweer dat daar tot $15.4 biljoen aan geskenke bestee word wat nie eintlik deur die ontvanger benodig of begeer word nie. Vra eerder wat iemand nodig het en hou dit prakties … Nog ’n idee is om eerder ’n ervaring of geskenkbewys te koop.
- Stel ’n begroting op en hou daarby! Klik hier vir ’n gratis Kersfeesbegrotingstemplaat in Excel of hier vir ’n PDF-weergawe en beplan jou spandering … doen dit sommer vandag!
- Gebruik jou spaargeld wys. Beleggingsrekeninge, noodfondse en ander spaargeld wat eintlik gemik is op iets anders, moet nie nou skielik getap word vir in-die-oomblik aankope nie. Weerstaan die versoeking!
- Gebruik lojaliteitsbesparings en geskenkbewyse. Suid-Afrika het van die beste lojaliteitsprogramme by winkels en jy kan dit maklik gebruik om te help betaal aan jou uitgawes gedurende Desember.
- Betaal die kredietkaart af aan die begin van Januarie– en as dit begin lyk asof jy dit nie sal kan doen nie, want die skuld raak te veel – draai bietjie die krane toe en hou op spandeer.
- Vergelyk pryse en snuffel vir winskopies. Moet nie net die eerste beste ding koop nie, kanse is baie goed dat daar iemand is met ’n beter prys.
- Begin ’n sinkfonds in Januarie vir volgende jaar se Desemberuitgawes! As jy sien jy spandeer ongeveer R5000 ’n jaar aan Kersgeskenke, spaar elke maand ’n deel daarvan sodat jy dit volgende Desember skuldvry kan doen. R5000/12 is byvoorbeeld R416.66 per maand. Dis aansienlik makliker om R416.66 elke maand eenkant te sit, as om skielik R5000 in een maand te spandeer. Om nie eers te praat van die onnodige uitgawe op rente as jy eers in skuld indelf nie.
Ek is self skuldig daaraan om Desember net te wil spandeer … Dit is egter jy wat die las gaan dra as jy nie matigheid voor oë hou nie. Wees wys. Haal Januarie asem sonder iemand wat oor jou skouer kyk in afwagting vir hulle deel van jou salaris. Soos hulle sê: “As dit jou vrede kos, is dit te duur.”
Oor en uit.
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!
