WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books
– teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom! Klik hier.
Afrikaans.com en Exclusive Books het saamgespan om die jaar se top 20- Afrikaanse verkopers bekend te stel. Hierdie jaar met al sy uitdagings het nietemin baie talent opgelewer, met bekende titels soos Prooi en Hans gee Herklaas Horings, wat ‘n paar maande op die topverkoperlys was en menige boekwurm met avontuur en spanning bekoor het. Marita van der Vyver het oudergewoonte lesers bekoor met haar indiepte kyk na die Grensoorlog, Angola en ook Suid-Afrikaner wees. Sophia Kapp, het soos altyd nie teleurgestel nie, en het harte bekoor met haar liefdesverhaal wat ‘n kykie bied na ware liefde oor afstande en grense heen. Die lys van boeke is veelsydig en belowe om elke boekwurm hierdie vakansie te bekoor en besig te hou! Kom kyk saam met Afrikaans.com na hierdie jaar se topkeuses! Klik die skakel en lees saam…
1. Hans gee Herklaas horings |

Hans gee Herklaas horings
Rudie van Rensburg
Hans van Kraaienburg, verlosser van Huis Madeliefie se oumense, se vriend, Vasie, nooi hom vir ‘n vakansie op Hermanus, as gaste van dié se neef Herklaas. Daar gekom, vind hulle Herklaas in die sop: die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, wil sy blyplek koop en herontwikkel – maar Herklaas wil nié trek nie. Toe Grond se kriminele handlangers hardhandig raak, besluit Hans dat Herklaas ‘n stel horings moet kry om Grond trompop te loop.
2. Die Brug: Na die hel en terug in Angola |

Die Brug: Na die hel en terug in Angola
Deon Lamprecht
In vergeelde foto’s van drie dekades gelede staan oopgesigseuns vol bravade voor Ratel-gevegsvoertuie. Hierdie dienspligtiges van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep staan aan die begin van hul reis diep in Angola in om vir volk en vaderland te gaan veg.
In ’n bloedige geveg op Valentynsdag 1988 en in die doodsakker by Tumpo, sou hul jeugdige onskuld egter sneuwel. In die hitte van die gevegte kom die besef: Nou gaan dit nie oor ideologie nie, maar om oorlewing. Na die oorlog gaan die lewe voort, maar die vrae en geestelike letsels wyk nie.
In 2018 keer ’n groep van die ouddienspligtiges terug na Cuito Cuanavale op soek na afsluiting – en om die wrak te vind van die Ratel waarin ’n makker op die laaste dag van die oorlog gesterf het. Die Brug vertel van hul reis van jong man na veteraan en gee ook ’n stem aan die vroue in hul lewe. Dit is ’n verhaal van ontnugtering, maar ook van trotse kameraderie en genesing.
3. Merk |

Merk
Rudie van Rensburg
Kassie het geglo sy speurderdae is getel na die Medusa-pedofielsaak, en sy hartaanval. Maar ses maande tuis bring perspektief – hy is ‘n speurder in murg en been. Terug by die Spookeenheid word hy en kollega Rooi Els dadelik by die diep kant ingegooi: Hulle moet ‘n reeksverkragter vastrek – een wat sy slagoffers met ‘n brandyster merk. Is die skuldige die man wat beskryf word as “‘n weerwolf met die sperm van ‘n wildehond”? Of lê die antwoord by die spesifieke merk wat hy op sy slagoffers laat?
4. Maggie: My lewe in die kamp |

Maggie: My lewe in die kamp
Maggie Jooste
Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek en haar lewe ingrypend verander. Na maande in huisarres word sy en haar gesin na ‘n konsentrasiekamp in Natal gestuur. Hier ervaar hulle honger, onsekerheid en verlies, maar ook soms op ‘n verrassende wyse die goedhartigheid van Britse soldate. Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ‘n verhaal van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en vriendskap oor vyandsgrense heen.
5. Erfgeld is Swerfgeld |

Erfgeld is Swerfgeld
Johan Bakkes
Johannes Bakkes is die geliefde skrywer van andersoortige reisverhale, soos Ons is moertoe en Norrevok. Hierdie boek is meer persoonlik; hier skryf hy homself oop. Die subtitel is Reis na binne, die -ste -ste plek – want hy is altyd op soek na die koudste, warmste, hoogste, droogste plek om te besoek.
Hier word humoristiese vertellings oor sy reise afgewissel met sy pa se wolhaarstories en lewendige geskiedenisvertellings. Hy en sy seun vind aanklank tydens nog ‘n onbesonne reis. Sy liefde vir sy familie is tasbaar. Gerrit Rautenbach noem die manuskrip sy beste skryfwerk nog en blootstellend anders. Bakkes lê homself bloot in sy weerloosheid, vrees en krankheid.
Hy wys wie hy was in die ou bedeling en hoe hy probeer hand bysit in die nuwe bedeling, wat hy nie gekies het nie. Dis ‘n dapper, aangrypende reis vol humor en deernis.
6. Kanaän |

Kanaän
Sophia Kapp
Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is ‘n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ‘n skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ‘n uitweg – ‘n jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.
7. Donkerdrif |

Donkerdrif
Deon Meyer
‘n Koelbloedige moord by die Kaapse Waterfront, wat dalk verband hou met geheimsinnige briewe wat geskorste luitenante Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang het. Maar eers moet Bennie-hulle op Stellenbosch soek na ‘n verdwene student, en die spoor vat van die eiendomsagent wat die kooptransaksie van Donkerdrif, korporatiewe swendelaar Jasper Boonstra se peperduur wynplaas, behartig het. Stadigaan besef die speurders al hul ondersoeke het ‘n gemene deler: die donkerste drif, gierigheid.
8. Anton Goosen – Liedjieboer |

Anton Goosen – Liedjieboer
Hanlie Retief
Na 40 jaar se rock ‘n roll in Afrikaans vertel die legendariese Anton Goosen nou sy volle verhaal, soos neergepen deur die bekroonde joernalis Hanlie Retief. Die vader van Afrikaanse rock skryf oor sy grootwordjare in die Vrystaat, sukses en roem, sy lewe op die langpad, die Musiek-en-Liriek-era, die hoogtepunte en teleurstellings langs die pad. Aangrypend, eerlik en vol humor: Dit is die lewe van Anton Goosen. ‘n Lewe teen die stroom op.
9. Grensgeval |

Grensgeval
Marita van der Vyver
Die bloedbevlekte brief wat Theresa tussen haar eksman, Theo, se besittings ná sy dood ontdek, skeur haar lewe oop. Vir jare het sy haar rug op Theo gedraai, ’n man wat sy laaste twee dekades in ’n inrigting moes deurbring.
Só ook het sy die land se verlede weggestoot, die tyd toe tienerseuns gestuur is om op die Grens te veg – ’n plek en ’n oorlog waarvan mense tuis bittermin geweet het. Vir Theresa self was dit ’n tydperk van eerste liefdes, disko’s en vakansies by die see.
Theresa besef gou die brief wat aan Theo toevertrou is, is deur ’n sterwende Kubaanse soldaat geskryf en aan sy pasgebore kind gerig – iemand wat, indien hy of sy nog leef, nou reeds veertig jaar oud sal wees. Theresa weet in haar siel sy moet Kuba toe: om die soldaat se kind te vind, om die brief te besorg, om vir Theo en ook vir háár boete te doen. In die swoelende, afgeleefde Kuba, tussen sy kleurryke motors uit die vyftigerjare en geurige sigaarrook, vervleg Theresa se lewe intiem met diegene wat in Angola as “die vyand” gebrandmerk is. Só ontrafel sy wat dit beteken het om groot te word in die Suid-Afrika van daardie tyd.
10. Bloedsteen |

Bloedsteen
Irna van Zyl
Dinge ontrafel vinnig wanneer iemand speuradjudant Storm van der Merwe se ma voor ‘n trein op Paddington-stasie instamp. Storm moet Londen toe, al is sy tot oor haar ore met ‘n moordsaak: Beebee Bukelwa Babu, befaamde Suid-Afrikaanse modeontwerper, lê leweloos in ‘n luukse hotel op Hermanus.
Hande om Storm te help met die ondersoek na Beebee se dood is min, want protesaksie lê die dorp lam. Boonop sweep ‘n charismatiese profeet die skare tot ‘n histerie op.
Storm besef gou dit is nie net haar ma se lewe wat in gevaar is nie. Sy is self ‘n teiken. Intussen probeer haar ekskollega, Andreas Moerdyk, nou ‘n privaat speurder, om ‘n skaars, rooi diamant van onskatbare waarde op te spoor. Van Londen se donker strate tot Antwerpen se diamantebeurs, van Port Nolloth se verlate kuslyn tot Storm se geliefde Hermanus, ontvou die storie in Irna van Zyl se derde misdaadroman teen die pas van ‘n sneltrein.
11. 1 Recce – Volume 2: Agter Vyandelike Linies |

1 Recce – Volume 2: Agter Vyandelike Linies
Alexander Strachan
Daar was hewige vuurgevegte, oorwinnings, maar ook verliese . . . 1 Recce, Agter vyandelike linies, neem die leser tot in die Recces se ‘binnekamer’. In hul eie woorde vertel Recce-operateurs van die lewensgevaarlike operasies wat hulle onder groot geheimhouding in die laat 1970’s in Angola en Rhodesië uitgevoer het.
Die leser sien die operateurs sweet in die vliegtuig of duikboot en beleef die gevaar wanneer hulle in die nagdonker riviere met krokodille trotseer. Die spanning en adrenalien loop hoog wanneer die Recces springstof in ‘n treintonnel diep in vyandelike gebied plaas, of ‘n groot brandstofbergingsplek in ‘n Angolese hawestad in ‘n vlammehel omskep.
Die wat daar was, vertel van die spanning, afwagting, vrees, adrenalien, moegheid, dors en hartseer wat hulle beleef het, maar ook van die humoristiese momente en die vriendskapsbande wat gesmee is.
12. Dit proe soos huis |

Dit proe soos huis
Herman Lensing
In Dit proe soos huis eer Herman Lensing sy ma met sy uitsonderlike talent. Hy weef haar gunstelingresepte, passie vir kos en hul eie stories ineen. Dit is resepte van onthou dié – ‘n kosverhaal wat dit wat is, verbind met dit wat was. Kos is liefde en in die kombuis klop die hart van die huis.
13. Kook en geniet |

Kook en geniet
S. J. A. de Villiers
Kook en geniet het in 1951 vir die eerste keer verskyn. Met meer as ‘n halfmiljoen eksemplare in druk is dit ongetwyfeld dié klassieke Suid-Afrikaanse kookboek. Generasies is grootgemaak en het self leer kook aan die hand van die boek. Kook en geniet dek alles wat jy ooit oor kook kan of wil weet – van hoe om bestanddele te meet, oonde optimaal te gebruik, groente voor te berei en vleis gaar te maak, tot hoe om kos perfek te vries – naas die meer as 700 ekonomiese, beproefde en geliefde resepte. Dink aan Japie se gunsteling, waterblommetjies of souskluitjies.
14. Die Biblioteek aan die Einde van die Wêreld |

Die Biblioteek aan die Einde van die Wêreld
Etienne van Heerden
Prokureur Ian Brand stuur ’n ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op ’n kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak. En al hoe gereelder slaan ’n kruisboogmoordenaar in die moederstad toe . . . Dié tergend aktuele roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar “die waarheid” klaarblyklik ’n onhaalbare ideaal is.
15. Die Belydenis |

Die Belydenis
Jodi Picoult, Daniel Hugo
Die ontdekking van ’n dooie baba in ’n skuur op ’n Amiese plaas in Amerika dreig om ’n jong vrou se lewe te verwoes. Omstandigheidsgetuienis dui daarop dat die 18-jarige Katie Fisher, ’n ongetroude Amiese meisie wat glo die pasgeborene se ma is, vir die moord verantwoordelik is. Katie hou vol: sy het nie die baba vermoor nie.
Terselfdertyd vlug Ellie Hathaway, ’n ontnugterde advokaat, na familie wat in dieselfde streek woon om haar kop skoon te maak. Haar tannie is verwant aan Katie en kort voor lank stem Ellie teensinnig in om Katie te verdedig. Ellie word as Katie se toesighouer aangestel terwyl sy op borgtog is en moet boonop by die Fishers intrek. Om Katie te verdedig, moet Ellie haar nie net diep ingrawe in ’n wêreld wat radikaal van haar eie verskil nie, maar ook ’n manier vind om Katie volgens háár verwysingsraamwerk te verstaan. Wanneer ’n man uit haar verlede weer sy verskyning maak, word Ellie terselfdertyd gedwing om haar eie vrese en begeertes te konfronteer.
Uit die pen van die gewilde skrywer van My Sister’s Keeper verskyn dié boeiende verhaal van twee vroue . . . en een geheim.
16. Sewe-en-veertig |

Sewe-en-veertig
Irma Venter
Sarah Fourie kry halfvier op ’n koue wintersoggend ’n oproep van Mosela Mosholi, ’n ou vriendin uit haar tronkdae. Sarah moet nóú kom, Kaapstad toe. Datameester Mosi se rekenaars voorspel ’n vierde moord op ’n toeris binne die volgende paar dae en Sarah met haar kuberkrakerkennis moet kom help. Sarah kan nie nee sê nie. Sy ken Mosi al jare lank, en haar skuld is groot. Sy sleep haarself uit die bed, gryp ’n oornagsak, en bel vir Jaap. Want Jaap Reyneke moet saam – sy jare as polisieman is al raad wat sy het indien ’n moordenaar in die moederstad skuil.
Dit is ’n onvoorspelbare, donker Kaapstad wat op Jaap en Sarah wag. ’n Stad waarin misdadigers die toutjies trek, waar hommeltuie bokant jou stilweg tred hou van goeie én minder goeie dade, en toeriste salig onbewus is van dit wat in Clifton en Kampsbaai broei.
17. Prooi |

Prooi
Deon Meyer
Griessel en Cupido soek nie dié yskoue docket nie. Johnson Johnson, oudpoliesman, se lyk is gekry langs die treinspoor in die Karoo. In Bordeaux geniet Daniel Darret sy eenvoudige lewe, tot hy verplig word om nog een keer te jag – op die korrupte president van sy tuisland. Kan die Valke hom betyds keer? Kan Daniel die Russiese agente ontglip wat hom probeer elimineer? En gaan Bennie als oorleef om eindelik vir Alexa Barnard te vra om te trou?
18. Die SAW en Cuito Cuanavale |

Die SAW en Cuito Cuanavale
Leopold Scholtz
“Dit gebeur dikwels dat ’n skietoorlog deur ’n tweede oorlog gevolg word. Dié oorlog word nie met ammunisie of kartetse gevoer of met tenks en bomwerpers nie, maar met woorde. Die oorlog word as’t ware op papier oorgeveg.”
In 1987/’88 het die stowwerige klein Angolese dorpie Cuito Cuanavale die toneel van die laaste gevegte van die Grensoorlog geword.
Vandag is dit die fokuspunt van ’n openbare debat oor wie dan eintlik die Grensoorlog gewen het. Die alliansie van die Angolese MPLA-regering, Kuba en die Namibiese bevrydingsbeweging Swapo voer aan dat die Suid- Afrikaanse Weermag (SAW) Cuito Cuanavale as afspringplek wou gebruik om die hoofstad Luanda in te neem, maar dat hulle die SAW gedwing het om uit Angola te onttrek.
Dit het uiteindelik gehelp om ’n einde aan apartheid te bring, beweer hulle. Die SAW-leierskap handhaaf egter dat Cuito Cuanavale nooit vir hulle ’n ernstige doelwit was nie en dat hulle geen planne gehad het om die Angolese regering omver te werp nie. Tientalle SAW-dokumente oor hierdie tydperk is onlangs gedeklassifiseer.
Leopold Scholtz het dit bestudeer om vas te stel wat die ware doelwitte van die SAW in hierdie finale, beslissende gevegte van die Grensoorlog was. Hy bespreek ook sleutelgevegte en ondersoek waarom een kant of die ander gewen of verloor het. Die boek getuig van wat gebeur wanneer oorlog, politiek en propaganda met mekaar vervleg raak.
19. Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe |

Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe
Johannes de Villiers
Dit is nie noodwendig maklik om gelukkig te wees nie, maar Johannes de Villiers wys hoe dit ‘n doel is wat elkeen kan bereik. Hierdie boek bied ‘n uitgebreide blik op ‘n vreugdevolle lewe: alles van teorie, oor wat geluk presies is, tot praktiese wenke om dit te bereik, met inligting van geestelike leiers sowel as sielkundiges. Ware verhale ondersteun die voorstelle, soos die van die man wie se pad na geluk begin het toe die geheime polisie op hom geskiet het.
20. Hans steek die Rubicon oor |

Hans steek die Rubicon oor
Rudie van Rensburg
Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders maneuvreer hom vanuit hul tuistes oorsee in Huis Madeliefie in, maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.
WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom! Klik hier.