Skrywer: Alita Steenkamp
Vir Fanie Viljoen, ʼn geliefde en diverse Afrikaanse kinder- en jeugboekskrywer, was daar in 2020 geen tyd om stil te sit nie.
Wat het ʼn skrywer soos Fanie Viljoen in die maande van inperking gedoen toe ons almal tuis vasgekeer was en waagmoedig geëksperimenteer het met nuwe resepte vir pynappelbier en piesangbrood? Wel, hy het geskryf, geredigeer, sy woorde geskuur en geskaaf en nuwe stories uitgedink. Soms het hy darem op sosiale media gekyk na ander mense se piesangbroodpogings, en, gee hy toe, hy het darem self ook ʼn brood van sy eie gebak.
“Die inperking is nou nie ʼn vreemde ding vir ʼn skrywer nie en is maar ons normaal,” lag hy. “Jy sit voor jou rekenaar en skryf jou stories. Niemand praat met jou nie en dan raak jy weg in jou eie storie. Vir lank is jou karakters maar die enigste geselskap wat jy het. Dit is maar die lewe wat ek ken. Soms moet ek myself dwing om uit die huis te kom, en ek was dankbaar toe ons weer kans gegun is om in gimnasiums te gaan oefen. Dis juis op die traomeul waar ek baie van my karakters se probleme oplos.”
In 2020 het daar ʼn verstommende aantal nuwe boeke uit sy pen verskyn, ʼn volle elf! Een hiervan, Offers vir die vlieë, is in Februarie vanjaar aangewys as die wenner van Lapa se 2019-Jeugromankompetisie. Hy het juis in die inperkingstyd enkele veranderings aan die manuskrip aangebring en die boek het in September vanjaar verskyn. Resensente is dit eens dat hierdie distopiese verhaal vir jong volwassenes, vernuwend en grensverskuiwend is. Een ding is baie duidelik: Fanie Viljoen hou daarvan om sy jong lesers uit te daag.
ʼn Besondere kenmerk van Fanie se skryfwerk is dat hy homself nie tot een genre of ouderdomsgroep beperk nie. Daar is kostelike prenteboeke en heerlike rympies vir die kleintjies, avontuurverhale en grillers vir laerskoolkinders, opwindende fantasie- en spanningsverhale vir tieners en ook heelwat stories met oemf vir jong volwassenes. Dan skryf Fanie ook gedigte, lirieke, kortverhale en radiodramas. Daar het ook al heelwat interessante feiteboeke, saamgestel deur Fanie, verskyn. Om alles te kroon het Fanie ook al verskeie van sy eie boeke geïllustreer.
Fanie Viljoen
Fanie Viljoen se skildery Wonder.
Hy is tans besig met die illustrasies vir ʼn volgende avontuur van Aksieheld Austin. Die derde boek in hierdie reeks, Aksieheld Austin: Onheil op Skedelbaai, is vanjaar met twee Veertjietoekennings van die ATKV bekroon, een vir die beste storie en een vir die beste illustrasies in die selfleeskategorie graad 4 en 5.
Fanie vertel dat hy nie, terwyl hy besig is om die stories te skryf, regtig die prentjies in sy kop sien nie. “Ek dink dis ʼn totaal ander deel van jou brein wat met die teks werk. Wanneer jy dan begin illustreer, moet die ander deel inskop. Om karakters soos Pieksel of Aksieheld Austin te illustreer, het my heelwat tyd geneem en baie illustrasies geverg voordat ek regtig besluit het dit is hoe die karakter moet lyk. Ons het boonop in Suid-Afrika fantastiese illustreerders met wie ek glad nie kan meeding nie. Dan is ek ook nog vol nonsens en baie streng met myself en daarom teken ek die illustrasies oor en oor. Uiteindelik is dit geweldig bevredigend as ʼn mens agterkom dat die kinders van die illustrasies hou.”
Nou in November het die eerste deel van ʼn splinternuwe fantasiereeks verskyn: Wêreld van Wolwe: Eerste Bloed. In hierdie verhaal wat gemik is op jong tieners, ontmoet die lesers vir Joshua Reinders wat saam met sy pa na ʼn dorpie in die berge moes vlug. Op Droomhoek wag die weerwolwe vir hom. Fanie vertel dat hy reeds besig is met die tweede boek in die reeks, en die storie vir die derde boek is ook al uitgedink. Die idee vir die boek kom ʼn lang pad, sê hy. Terwyl hy in die hoërskool was, het sy ouboet in ʼn videowinkel gewerk en hulle kon die video’s gratis uitneem. In daardie tyd het hy die een na die ander rillerfliek verslind, onder andere ook An American Werewolf in London. Die storie van die jong seun wie se paaie kruis met weerwolwe, is hierdeur geïnspireer, sê hy, en dit lyk asof die jongklomp reeds baie van die boek hou.
Fanie sê sy liefde vir stories het beslis begin by die eerste boeke wat hy as kind in die biblioteek in Welkom uitgeneem het en die stories wat die juffrou voorgelees het terwyl almal op die mat rondom haar gesit het. “ʼn Biblioteek bemagtig ʼn kind, want jy loop in hierdie groot biblioteek in en dan word jy toegelaat om jou eie boeke te kies. Ek moedig ouers baie sterk aan om kinders na ʼn biblioteek te neem of hulle ook toe te laat om self hulle boeke in die boekwinkel te kies. Dis belangrik om te besef dat elke boek wat geskryf word, nie vir elke leser bedoel is nie. Kinders moet weet dat wanneer hulle ʼn boek lees, en hulle hou nie daarvan nie, kan hulle dit neersit. Maar dan móét hulle ʼn ander een waarvan hulle hou, optel en lees.
“Ek vergelyk dit altyd met DStv wat al hierdie honderde kanale het. Almal kyk nie na al die kanale nie, dis waarom die afstandbeheerder die knoppies het. As jy nie van iets hou nie, kan jy na die volgende kanaal gaan. So werk dit ook met boeke,” sê hy.
Vir Fanie lê die groot vreugde van skryf nie in die vele toekennings wat hy al ontvang het nie. Natuurlik is dit heerlik om beloon te word, sê hy, maar daar is niks beter nie as die voorreg om heeldag met nuwe idees te werk, en telkens weg te raak in ʼn splinternuwe wêreld wat jy vir jou karakters skep.
Die gehalte boeke wat Fanie Viljoen lewer, en die wonderlike stories wat hy optower, is ʼn duidelike bewys dat hierdie skrywer nog nie die vermoë verloor het om deur die lewe betower te word nie. Hierdie betowering, deel hy graag in sy stories, want, soos die skrywer Edgar Allan Poe eenmaal gesê het:
“It is a happiness to wonder; it is a happiness to dream!”