Episode 3
In die derde episode ontmoet ons Henrico, sanger van die TV-program Maak my Famous.
Lees meer oor die opwindende nuwe sanger, klik hier.

Episode 3 se legende is Radio Laeveld 100.5FM se stasiebestuurder, Robin Jansma. Lees gerus verder om Robin beter te leer ken.
Vertel ons bietjie meer oor jouself.
Ek woon al langer as 20 jaar in die Laeveld. Het destyds in Pretoria (waar ek grootgeword het) een Saterdagoggend by ‘n ontbytkafee in Hatfield vir ‘n vriend gesê ek gaan my lewe verder in die Laeveld voortsit. Ek was 27 en sy antwoord was: “Jy gooi groot geleenthede vir jou toekoms weg…” Die proe na die Laeveld water was te sterk. Ek wou hier trou, huis koop en kinders in die skool sit. Ek kon nie wag om my GP-registrasienommer met die van MP te ruil nie. Die bekoring aan die Laeveld het te doen met die reuk van ‘n hardehoutvuur (kan nie onthou wanneer laas ons met brikkette gebraai het nie), die warm Laeveld-sonnetjie op jou vel, die wildtuin by die agterdeur en ons is net ‘n bietjie meer as twee ure van die see af (deur die Mosambiek-grens). Ek het my eerste radioprogram destyds op Radio Rippel (Nou Groot FM) gedoen en spoedig in die Laeveld by 100.5FM aangesluit. Deur die jare het ek my beywer om te groei in die bedryf en het die trappe maar geklim van omroeper na programbestuurder, advertensieverkope en nou stasiebestuurder.
Jou rol as stasiebestuurder by Radio Laeveld 100.5FM – hoe het jy daar beland en hoe lank is jy al betrokke?
Radio Laeveld is hierdie jaar (2020) al 17 jaar oud en ek was basies van die begin af betrokke. Die beginjare was maar moeilik, maar was ook van die beste tye wat ons gehad het. Hulle sê mos radio is die meeste pret wat jy met jou klere aan kan hê. Alhoewel ‘n mens ongelooflike pret kan hê terwyl jy uitsaai, moet ‘n mens ook vir die toekoms beplan, want in die vermaaklikheidsbedryf kan die mat binne sekondes onder jou voete uitgeruk word. Ek het ook besef daar is baie meer agter die skerms betrokke om ‘n radioprogram op die lug te hou as wat dit klink, en daarop toegespits om alles van die bedryf te leer. So het ek al vloere gevee, mure geverf, tee en koffie gemaak, luidsprekers gedra en ‘branding’ opgesit. Ek het middernagprogramme aangebied, top 20-programme en spitsprogramme. Die wêreld van gemeenskapmedia verander so vinnig en daar is nog baie wat ons kan leer en op verbeter. Dit is wat my van gemeenskapsradio opgewonde maak. Die geleentheid om buite die sperband te mag probeer. Terwyl ek nou terugdink besef ek dat ek vir die laaste dertig jaar nog nie eendag gewerk het nie. Ek staan in die oggend op en kan nie wag om nog ‘n dag in die Laeveld te begin werk nie.
Die rol van gemeenskapsradiostasies kan nie misgekyk word nie. Tog is julle ook afhanklik van advertensies, ens. Hoe het Covid-19 julle geraak?
Die lewe is vol van goeie tye en moeilike tye en ons is al deur beide, herhalend. Ons beskou Covid as nog een van daai uitdagings. Gaan lê, was nie ‘n opsie nie. Die een voordeel wat ons deur Covid kon trek, was dat die radiostasie vinnig besluite kon neem en uitvoer, en ook baie vinnig by die omstandighede kon aanpas. Omroepers kon basies dadelik van die huis af uitsaai en ons kon met die aanbieding op programinhoud fokus wat onder andere kon sin maak uit die onsekerheid van ‘n pandemie soos die. Die ontbytspan het dadelik ingespring om die #koopplaaslik-inisiatief te ondersteun en sodoende ook plaaslike besigheid in die Laeveld bevorder.
Hoekom moet mense na 100.5FM luister? Wat is na jou mening ’n wenresep vir ’n radiostasie soos julle s’n?
Gemeenskapmedia is ‘n spieëlbeeld van die gemeenskap. Dit waarin jy belangstel is waarin ons belangstel. Dit wat jy doen, is wat ons doen. Jou waardes is ons waardes. Ons is gewoontediere en wil aan iets behoort. Die uitdaging vir gemeenskapsradio is om die grootste gemeenskaplike ooreenkomste uit te straal, genoeg spasie vir unieke verskille toe te laat, kwessies wat pla te ondersoek, ‘n platform vir interaktiewe kuier te wees en in geheel mekaar se doen en late ondersteun. Ons het die vryheid om foute te maak en daardeur gereeld nuwe idees te toets en aan te pak.
Hoe voel dit om as legende aangewys te word?
‘n Legende is iets wat iemand jou noem as jy nie meer hier is nie? Ek kan nie verstaan hoe mens op jou sosialemediastatus na jouself as ‘n ‘celebrity’ of ‘influencer’ kan verwys nie. Ek is nie ‘n legende nie. Ek sou nog graag ‘n verskil wil maak. ‘n Verskil in my familie, ‘n verskil by my werk en ‘n verskil aan iemand wat ek nie ken nie. Dis besonders om te kan gee sonder om iets terug te verwag. Nog meer, om iets te ontvang sonder dat jy daarvoor gevra het. Pieter is ‘n goeie mens en ek waardeer die geleentheid om deel van die program te wees. Hy is ‘n legende! 😉
Enige staaltjies wat jy kan deel tydens verfilming van PappaChef?
Ek het my as afgeskrik toe daar ‘n gedierte agter die skerms uitspring en ons met ‘n gejuig verras terwyl ons met ‘n eierklits-uitdaging besig was. Uit instinktiewe reaksie het ek my pot met eierwit op haar kop uitgegooi. Moes na die tyd groot om verskoning vra. Moet vir niemand vertel nie maar aan die einde van die aand, nadat die kameras al afgeskakel was, het ek teruggegaan vir nog ‘n hap of twee van die lekker stukkie steak wat Pieter so sag gaargemaak het. Nie omdat ek honger was nie, maar net omdat dit so lekker was. Kyk ook uit vir die seun wat uit die gehoor gekies is om Pieter met die kosmaak te help. Sy naam in Kiandré, en (ek ) pappa is trots op hom.
Jou gunstelinggereg – om te eet en om voor te berei.
Ons het ‘n gewoonte om nooit planne vir ‘n Sondag te maak nie. Ons word wakker en doen dan waarvoor ons lus is. Dit eindig gewoonlik met potjiekos later, en het nou al ietwat van ‘n tradisie geword. “Pappa, wat gaan ons vandag doen? Hoender of vleis?”. Ek is besonders lief daarvoor om met my gietysterpannetjies en -potte kos te maak. Die stoof en oond word nie aangeskakel nie, alles word op die vuur gemaak. Steak moet meer ‘rare’ as ‘medium-rare’ wees. Ek het gestaan en luister hoe Pieter en Pottie van Buco Nelspruit (wat ook op die program saam met ons was) gesels oor hoe om steak gaar te maak. Sondag het ons dit dadelik probeer en die komplimente het ingestroom. Drie minute op die een kant met ‘n baie warm plaat en daarna draai jy die vleis om op die ander kant en haal die plaat van die vuur af. Ligte sout en peper met jou gunstelingsousie, en jy het ‘n wenner.
Enige verskuilde talent waarvan ander dalk nie bewus is nie?
Ek weet nie hoeveel mense dit doen dit nie, maar ek probeer soms om een ding met my regterhand te doen en terselfdertyd iets anders met die linkerhand te doen. Ek daag myself ook uit om nie elke dag dieselfde roete heen en weer te ry nie. Ek hou oor die algemeen daarvan om lang afstande te bestuur. Miskien word ek ‘n langafstandtrokdrywer in my volgende lewe?
Wat is heel bo-aan jou kluitklaplys?
Ek voel ek is op ‘n plek in my lewe waar minder, meer is. My vrou en kinders moes lankal ‘n belangriker fokus in my lewe gewees het (ek het te veel tyd aan die jaag na ‘n loopbaan spandeer, en te min tyd aan hulle). Dus heelbo op my kluitklaplys sou tyd met my familie, iewers op ‘n eiland soos Reunion met ‘n rooiwyn in die hand, vis op die kole en ‘n Harley in die agtergrond wees. O, en ek moet regstreeks vandaar kan uitsaai! Ha ha ha, niks uitspattigs nie 😉
Radiostasies
Skakel in op die volgende plaaslike radiostasies as jy wil deel in PappaChef se kombuisklets en -kook. Diegene wat oorsee woon, kan ook aanlyn inskakel en luister.