Uitvoerende hoof van die Kunstekaap, dr. Marlene le Roux hier by die kunswerk, Dress Respectful of Women deur Lizette Chirremme. (Foto: Natalie Gabriels)
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Wanneer ’n mens ’n artikel moet skryf oor ’n vrou soos dr Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap en voorsitter van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), kom jy sommer gou agter jy gaan nie genoeg plek hê om oor alles wat sy al vermag het, te skryf nie. Hierdie beskermvrou van Afrikaans.com maak elke dag ’n verskil en het reeds diep spore in die Afrikaanse leefwêreld getrap. Nie net as kampvegter vir die taal, kutuur en die jeug nie, maar ook vir persone met gestremdhede. Ons het met haar gesels oor haar passies, haar eie gestremdheid, haar talle bedrywighede en haar liefde vir die lewe.
Marlene, jy skroom nie om jou sê te sê nie, maar praat nie net nie, jy tree daadwerklik op. Waar kom hierdie uitkyk op die lewe vandaan?
Ek is in Wellington gebore en het as’t ware in die kerk grootgeword. My ouma het my grootgemaak – ek was haar 11de kind – en sy was altyd betrokke by die gemeenskap. Daar het ek gesien wat beteken betrokkenheid in aksie en dat armoede nie in ’n mens se pad moet staan nie. Dit is waar ek besluit het, waar ek ook al betrokke is, niemand sal onsigbaar wees nie – ons is almal waardig om raakgesien te word. Daarom moet ons mekaar met respek en deernis behandel. Ek sal nooit stilbly oor diskriminasie en ongeregtigheid nie.

Die kunswerk Dress Respectful of Women (’n Rok deur dankbare mans) tydens die onlangse heropening van Kunstekaap vir die publiek. Die kunstenaar, Lizette Chirremme, saam met uitvoerende hoof van Kunstekaap, dr. Marlene le Roux. (Foto: Natalie Gabriels)
Die kunswerk (’n Rok deur dankbare mans) en onlangse heropening van Kunstekaap vir die publiek kom op ’n toepaslike tyd – binnekort (25 November tot 10 Desember) is dit weer die jaarlikse internasionale veldtog – 16 dae van aktivisme teen geslagsgeweld. ’n Onderwerp wat jou na aan die hart lê. Hoekom dink jy is Kunstekaap ’n ideale platform om bewusmaking hiervoor en ook vir gestremdes te skep?
Kunstekaap het besluit om met hierdie visuele en pragtige kunswerk van Lizette Chirremme te open, omdat dit ten toon stel waarvoor die gebou staan: MENSLIKHEID EN HOOP IN AKSIE. Hierdie kunswerk van deernis, en bereidwilligheid van 27 mans van verskillende agtergronde om deel te neem aan die projek, is net weer ’n bewys dat nie alle mans in ons patriargale samelewing verkrag, of vroue nie met respek behandel nie. Omdat Covid ons industrie hard geslaan het, het Kunstekaap besluit om met hierdie projek te open en nie met ’n groot konsert nie. Vir my het dit gegaan oor solidariteit en ook om te erken dat daar nog ’n lang pad vir ons voorlê om te herstel. Want, geweld teen vroue en kinders het toegeneem gedurende die grendeltydperk. Afgesien daarvan dat ons nie-verstaan van mekaar en ons individualistiese uitlewing van net vir onsself omgee na vore gekom het in hierdie tyd, het ek ook ervaar hoe gewone mense hande gevat en op soveel vlakke gehelp het. Menslikheid het geseëvier.
Hoe kan ons geslagsgeweld stop?
Ons kan net geslagsgeweld teen vroue en kinders stop as ons mans en jong mense betrek en deur daadwerklike optrede bewus maak van die kwessies wat hiertoe lei, soos kultuurinvloede, godsdienstige praktyke en taalgebruik wat negatief is teenoor vroue. Hulle te leer hoe om vroue as volwaardige persone aan te spreek. Daarom moet dit deel wees van ons onderwyskurrikulum, sodat hierdie beginsels daagliks op alle gebiede uitgeleef word. Wette sal nie alles oplos nie, maar wel kopskuiwe en opvoeding van vroue. Dit speel ’n belangrik rol – om vroue meer ekonomies onafhanklik te kan maak, om hul eie besluite en vooruitgang te bepaal.
Is persone met gestremdhede genoegsaam in ag geneem?
Wat my wel tot stilstand gedwing het tydens die grendeltyd, was toe die president, mnr Cyril Ramaphosa, met sy eerste afkondiging van die inperkingsreëls en -toegewings die persone met gestremdhede totaal uitgelaat het. Ek het onmiddellik vir die president ’n brief geskryf, want persone met gestremdhede, of ouers met gestremde kinders, het ander behoeftes, soos tuisversorgers, en het nie altyd toegang tot die basiese noodsaaklikhede nie. So dit was ’n geveg. Ek was later op elke radiostasie, en toe weer op elke internasaionale platform om te praat oor die basiese behoeftes van gestremde persone gedurende die grendeltydperk. So, in Covid-19 was ek dag en nag besig!
Jy is een van die stigterslede van die Women’s Achievement Network for Disability (WAND) – waar julle bewusmaking skep oor gestremde vroue en dogters in Suid-Afrika sodat hulle menseregte bevorder kan word. Kan jy kortliks oor jou betrokkenheid hierby uitbrei?
Ek is bevoorreg om saam met die formidable Karen Smit WAND te kon stig. Ons twee is albei gestremde vroue, wat weet wat dit is om teen gediskrimineer te word. En ons moet ekstra hard werk om te bewys dat ons wel oor die vaardighede beskik om ons plek in die samelewing volwaardig vol te staan. Daarom was dit vir ons twee so belangrik om jong meisies van spesiale skole te mentor en hulle bloot te stel aan die buitewêreld. Ons konsentreer op lewensvaardighede en motiveer die jong dogters om matriek klaar te maak en aansoek te doen om beurse. Ek persoonlik het ook vir NFSAS gehelp om kriteria te ontwikkel om die beurse van gestremde studente te vergroot om sodoende voorsiening te maak vir hul eiesoortige behoeftes, soos byvoorbeeld, aangepaste studiemateriaal (braille), ’n versorger en ook vervoer. Al hierdie elemente is belangrik vir ’n gestremde student om te presteer.

Marlene le Roux tydens Kunstekaap se uitreikingsprogram saam met ’n groep persone met gestremdheid. (Foto: verskaf)

Kunstekaap en Afrikaans.com het hande geneem tydens die Afrikaans.com-muurprojek by Hawston Primêr. Van links na regs: Skoolhoof, mnr. Julius Swart, saam met René Arendse van Afrikaans.com en dr. Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap. Voor is mnr. Julius Booysen van die Overstrand Assosiasie van Persone met Gestremdheid (APD). (Foto: verskaf)
Marlene, jy is self ’n polio-gestremde en het talle uitdagings oorkom. Dink jy daar is steeds ’n stigma verbonde aan gestremdheid?
Covid het my weereens laat besef dat die samelewing meer ingelig moet word. Dat mense met gestremdhede meer sigbaar moet wees – op alle gebiede. Dus is dit belangrik dat sosiale byeenkomste vir jeugdiges geïntegreer moet wees. Ons jeug is die volgende leiers en as spontane integrasie met persone met gestremdhede nie plaasvind nie, sal die gestremde persoon se blootstelling beperk wees en die niegestremde persoon gaan geen benul het hoe hy/sy interaksie moet wees om die samelewing toeganglik en gebruikersvriendelik vir gestremdes te maak nie.
Is daar genoeg ondersteuning vir diegene met gestremdheid? Hoe maak ons seker dat gestremdes hulle regmatige plek in die samelewing inneem?
Suid-Afrika het van die beste beleidmakers en van die wêreld se beste medici. En primêre gesondheid is prioriteit vir ons land. Maar, weereens is daar ’n gebrek aan implementering op grondvlak. Ek werk tans nou saam met ander organisasies om die dienste van die plaaslike landelike klinieke uit te brei sodat daar ook gefokus kan word op spesialisbehandelings vir onder andere gestremdes. Tans moet landelike ouers en gestremde persone baie ver reis vir noodsaaklike behandeling. Duur behandeling waarsonder die gestremde vroeg kan sterf of bedlêend kan raak.
Jou seun, Adam, was serebraalgestremd en is in 2017 oorlede. Jy het al vertel hoe hy julle familie en die gemeenskap se lewens verryk het. Wat het Adam jou geleer?
Adam het my nederigheid geleer. Hy het my veral geleer, my ego is nie belangrik nie. Maar die grootste les wat ons almal wat na aan Adam was geleer het, is dat almal saak maak en diegene wat die stilste is dikwels die grootste verskil maak. Adam kon nie praat nie, maar het mense aangetrek. Hy was soos ’n sielkundige – mense het hulle “geheime” met hom gedeel – dalk juis omdat hy nie kon antwoord nie. Daarom was ek ook sy stem … sy baklei. My ondervinding as Adam se ma en versorger, veral wanneer hy in die hospitaal was, was die rede hoekom ek my meestersgraad daaraan gewy het om ’n mediese model te ontwikkel om dokters en terapeute te lei in die hantering van siek gestremde kinders. Adam se dood was ’n geweldige verlies en ek het ’n jaar lank gerou en in stilte geleef – net om myself weer te vind.

Die Kunstekaap-span en -kunstenaars wat deel is van die Landelike UItreikingsprogram. (Foto: verskaf)

’n Dansitem tydens Kunstekaap se uitreikingsprogram op die platteland. (Foto: verskaf)
Die jeug lê jou na aan die hart en Kunstekaap doen baie om veral die jeug op die platteland te betrek by die kunste. Kan jy ons meer vertel oor die inisiatiewe waarby julle betrokke is?
Die jeug is die toekoms van ons diverse land. Daar moet ’n plek wees waar die jeug kan asemhaal en ander jong mense ontmoet sonder om volgens taal en velkleur veroordeel of gestereotipeer te word. Ons skep geleenthede vir jeugdiges soos ons Jeug Jazz-program en Klassieke Jeug-fees. Jonathan Rubain, wat tans die gewilde Koortjies-program op KykNET aanbied, is een van ons jeugdiges, asook die wêreldberoemde Pretty Yende.

’n Balletopvoering tydens Kunstekaap se landelike uitreikingsprogram. (Foto: verskaf)

Die saal by Hoërskool Weston is omskep in ’n sprokiesteater – alles te danke aan Kunstekaap se uitreikingsprogram, Teater vir die mense. (Foto: verskaf)
Teater vir die mense
Ons uitreikingsprogram, Teater vir die mense, is begin om die reis van Nico Malan tot Kunstekaap (Artscape) aan die mense te bring. Dit was ons Aktiewe Burgerskap van Hoop in Aksies – nou reeds langer as 12 jaar aan die gang. Ons besoek dorpe op die platteland en bou dikwels letterlik ’n verhoog en omskep ’n skool in ’n teater, om mense van verskillende geografiese agtergronde, velkleure en tongvalle en gemeenskappe wat in die nuwe Suid-Afrika nog nooit ’n sosiale byeenkoms saam bygewoon het nie, onder een dak saam te kry. Die proses is ook belangrik, want munisipaliteite moet inkoop , ook kerke en gemeenskapsorganisasies.
Opregte omgee kos niks
“’n Projek soos die stroop jou van jou ego.”
In Ceres het ’n plaasboer en sy werkers onder een dak op dieselfde aand langs mekaar gesit en die nuwe Suid-Afrika ervaar met die beste kunstenaars en ’n rondreisende Kunstekaap met al die ghrênd behangsels. Daar het ek mense sien huil. Ons laaste uitreiking in Hawston was ’n vennootskap met die plaaslike organisasie wat hul bewillig vir die bemagtiging van persone met gestremdhede. Hierdie ervaring het Kunstekaap se personeel vir altyd verander, want ons het MENSWEES ervaar – op alle vlakke. Dit het my oneindig nederig gemaak. Om weereens te besef dat om opreg om te gee niks kos nie.
Die pandemie het ’n geweldige negatiewe gevolg gehad (het steeds) – nie net ekonomies nie, maar ook op die kunste. Hoe beplan Kunstekaap om die grendel te breek en op te staan en aan te gaan en veral ekonomies volhoubaar te wees?
“Ons handelsmerk is nou bekender as ooit!”
Kunstekaap het nooit gesluit nie. Ons moes ‘n gebou bestuur en omdat die gebou volgende jaar (2021) 50 is, het dit ons kans gegee om agterstallige instandhouding van die gebou en ons verhoë te doen. Ons moes ook prosedures skryf vir teaters om die bekamping van Covid-19 tot stand te bring. Bestaande regulasies is vir instansies en nie vir teaters nie geskryf. Ons het ook onmiddellik ons verhoë en tegniese personeel tot beskikking gestel vir ons professionele kunsteorganisasies soos die Kaapstadse Opera, Die Filharmoniese orkes en vele meer. En ons het befondsing vir al ons programme deur die Stad Kaapstad bewerkstellig. Daarom kon ons sorg dat kunstenaars betaal word. Ons skoleprogramme waar ons voorgeskrewe werke gewoonlik dramatiseer, is in radioprogramme omskep, soos Vlooi vir graad 1 – 3, Krismis Van Map Jacobs – Adam Small, Busani (isiXhosa voorgeskrewe werk) en ook ons program onder leiding van Rafiek Mammon, New Voices – Jong dramaturge, en nuwe werke het toe radioproduksies geword. So, ons kon suksesvol aanpas.
Wat is jou boodskap van hoop vir ons jeug, vroue en ook gestremdes?
“Die lewe skuld jou niks! Dit wil geleef word. Ons kan nie altyd die victim speel nie.”
Ons kan net nooit opgee nie. Daar moet kopskuiwe gemaak word en ons moet begin by ons jeug. Die vraag is natuurlik hoe. Daarom is dit so belangrik dat ons na ons samelewing op alle gebiede moet kyk, dat ons ’n “sagter” land moet raak en daadwerklik met aksies begin om jeugdiges bymekaar te bring.
Jy is voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), betrokke by DAK-netwerk en voorsitter van die ATKV. Wat beplan jy as voorsitter van die ATKV?
“Die reis van die ATKV op pad na nuwe ontdekkings is oneindig. Die tyd van vingerwys is verby. Covid-19 het my geleer ons almal is gelyk. Ons het nie ’n ander keuse in ons land as om saam te staan en ons woordeskat te verander van ‘hulle’ na ‘ONS’ nie.”
Wat vir my belangrik is, is dat ek alleen nie die ATKV is nie. Ek is trots op my taal, maar dit is belangrik om te erken dat Afrikaans verskillende variëteite het en in ’n multikulturele landskap fungeer. Inklusiwiteit is prioriteit vir my. Die ATKV is op ’n ontdekkingsreis om te verseker dat die taal ’n taal is wat ’n diverse, nieseksistiese, niepolitiese, niehomofobiese samelewing omarm en ’n tuiste vir almal van verskillende agtergronde sal wees. Die ATKV moet gestalte gee aan volhoubare maniere om om te sien na die diverse Afrikaanssprekende gemeenskap se taal- en kultuurbehoeftes.
Hoe voel jy oor die toekoms van Afrikaans in ons land? Veral op onderwysvlak.
Vir my leef Afrikaans voluit. Dit is hoe ons die taal op onderwysvlak benader. Ek was ’n Afrikaansonderwyser en my leerders se wêrelde het oopgegaan met al die skrywers en digters aan wie ek hul blootgestel gestel het. Net soos my Afrikaansonderwyser, prof Micheal le Cordeur, my destyds in Afrikaans laat droom het. Afrikaans is ’n taal van hoop en geleenthede. Dit is hoe ons die taal bemark.
Na jou mening, wat kan elke landsburger doen om te help dat die storie van Afrikaans aanhou geskryf word?
“Afrikaans ken geen grense nie en is soomloos. My droom is ook dat die ATKV ongemaklike gesprekke moet hê. Ons moet praat oor die stigma van Afrikaans. Dán kan ons vorentoe beweeg.”
Afrikaans het so baie infrastrukture en ons moet dit gebruik om dit positief oor te dra as ’n taal wat ’n tuiste is vir almal. Dit is belangrik dat die verlede, hede en toekoms bewoord moet word deur ’n kleurryke tuiste vir almal te skep. Belangrik is dat ons voetjie vir voetjie moet begin aanstap na ’n Suid-Afrikaanse identiteit. Maar ons kan nie begin stap as ons nie eers mekaar se seer van die verlede erken het nie.
En op ’n ligter trant
Hoe ontspan jy?
Ek hou van mense, het baie vriende uit verskillende kulture en ons kuier gereeld saam. Ons dans en gesels en ek maak graag kos. Ek doen pilates om my spiere aan die gang te hou. En dan lees ek vir die kinders. Die afgelope tyd het die kinders in die gemeenskap saans van 5 tot 7 Afrikaans en Engels hier by my geloop.
Wie sit vanjaar saam om jou Kerstafel?
Die mense vir wie ek elke week kos gegee en kospakkies voor opgemaak het. My wonderlike vriendinne, die gestremdes – diegene wat ek weet die lekkerste partytjie gaan hou. Dit gaan mos nie om die trimmings nie, maar oor die samesyn.
Jy kan ’n maand lank president wees. Wat is op jou agenda?
Ek sal net sê: “Hou nou net op! Hou op met partypolitiek, kyk mekaar in die oë en doen wat reg is.” Ek sal konsentreer op die onderwys en die geld begin bestee op grondvlak. Ons samelewing moet verander en ons moet ophou skuil agter kultuur. Geweld teen vroue en kinders, rassisme – dit moet op alle gebiede gestop word. Vergeet van wette en kommissies – elkeen kan ’n verskil maak.
Som Marlene op in ’n paar woorde.
’n Vrolike mens wat hou van gee sonder om iets terug te verwag. Ek is ’n geseënde vrou!
Lees ook:
Lees meer oor die Women’s Achievement Network for Disability (WAND) by www.wand.co.za