Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Volgende jaar September gaan voorwaar ’n heerlike lente wees – veral in Stellenbosch – wanneer die Toyota US Woordfees van 17 tot 24 September 2021 in die Eikestad gehou word. Afrikaans.com het met feesdirekteur, Saartjie Botha, gesels oor die besluit om die fees na September toe te skuif.
Vertel meer oor die voorneme om vroeër volgende jaar aktiwiteite gerig op die Woordfeesgehoor aan te bied met die oog daarop om blootstelling te gee aan kunstenaars, maar ook borge. Wat beplan julle?
Ons beplan verskeie aanlyn en virtuele aanbiedings – o.a. leesteater waartydens akteurs nuutgeskrewe tekste voorbereid sal lees en sal deelneem aan gesprekke oor die tekste. Die grendeltyd het ’n oes van nuwe tekste opgelewer en ons is opgewonde oor die kwaliteit van die werk. Bemarkingsgeleenthede tydens aanlyn aanbiedings is groot – dink aan stroke onder aan die skerm, of rame met blootstellingsgeleenthede vir borge. Groter gehore versprei oor ’n wyer geografiese area kan aanlyn geleenthede bywoon. Ons wil nie soos advertensieborde lyk nie, maar wil graag die geleenthede wat met die platform gepaard gaan, benut.

Saartjie Botha
Woordfees – feesdirekteur
Jy sê in ’n artikel op jul webtuiste dat dit nog nie ’n uitgemaakte saak is dat die Woordfees na 2021 permanent na September gaan skuif nie – juis omdat julle ook in die belang van die groter bedryf moet optree. Die verantwoordelikheid teenoor ons kunstenaars is egter enorm, tog is dit noodsaaklik om ook ekonomies volhoubaar te bly – nie net vir die Woordfees nie, maar vir die ander kunstefeeste ook. Die pandemie het die kunste ’n groot knou toegedien. Wat is na jou mening die grootste uitdagings wat julle nou vorentoe sal moet aanpak, veral omdat daar steeds onsekerheid heers?
Ons grootste uitdaging was nog altyd volhoubaarheid. Met Covid en veral die beperking van kapasiteit, het ons ’n totale herdink van ons inkomstegenerering nodig. Ons moet anders oor borgskappe en donasies dink, en meer as ooit oor hoe ons dit vir borge die moeite werd kan maak om die kunste te ondersteun. Samewerking tussen kunstefeeste en ander rolspelers word belangriker as ooit. Ons kan geld spaar en uiteindelik beter benut as ons beter en saam beplan. Waar ons in die verlede enkele groter aanbiedings kon befonds, gaan ons waarskynlik in die onmiddellike toekoms meer kunstenaars met kleiner bedrae moet ondersteun.
Daar is tydens die grendeltyd heelwat aanlyn vertonings/produksies aangebied – sommige meer suksesvol as ander. Is dit dalk ’n model wat aangepas kan word en wat as ’n soort uitbreiding/verlenging op bestaande modelle kan dien? Veral as ’n mens daaraan dink dat nie almal by die feeste kan uitkom nie en met aanlyn kan hulle wel in van die produksies deel.
Wat my betref is die kwaliteit van die meerderheid teaterstukke wat ons die afgelope tyd aanlyn kon sien, nie goed genoeg nie. Die bedoeling is edel, maar teater bedoel vir ’n verhoog en teater bedoel vir skerm, is twee verskillende mediums. Jy kan nie net twee kameras neersit en dink jy kan die essensie van ’n stuk, of selfs net ’n oorsig vasvang nie. Om teater goed af te neem, soos die National Theatre in Londen doen, het jy ’n begroting nodig, en veral kundigheid buite die teateromgewing. Ek is baie opgewonde oor Proscenium, ’n projek wat ons saam met kykNET aanpak om kwaliteit opnames van gewilde stukke te doen. Dit is egter ’n baie duur projek en daar is beslis nie befondsing beskikbaar om alle teater so te verfilm nie. Die realiteit is egter dat indien ’n opname nie van hoë gehalte is nie, dit meer skade as goed doen en dat dit geen lewe het nie.


Die Woordfees het vanjaar die grendeltyd net misgeloop maar die ander feeste was nie so gelukkig nie. Het jy ’n boodskap vir die publiek wat dalk mismoedig voel oor die huidige stand van sake en die voortbestaan van die feeste – veral ook die Woordfees?
Die grootste positief wat ek uit grendeltyd kon neem, was die algemene publiek se versugting na lewendige optrede. Ons moes eers iets verloor voor ons dit werklik na waarde kon waardeer. Wat feeste betref, het mense waarskynlik in hulle gemis besef wat die sosiale waarde van ’n kunstefees is, en hoe dit meewerk aan sosiale kohesie en algemene wel-wees. ’n Fees is baie meer as net op- en uitvoerings, stalletjies en samesyn – dit stimuleer verbeelding en kweek trots en dit maak ons wêreld ’n beter plek om te wees. Mag ons gou weer voluit feesvier!
Wat kan Suid-Afrikaners met ’n liefde vir Afrikaans doen om aan te hou skryf aan die toekoms van die taal?
“Die toekoms van Afrikaans is in ons hande. Kom ons koester dit.” – Saartjie Botha, feesdirekteur, US Woordfees
Chris Barnard het gesê die beste ding wat enigiemand vir Afrikaans kan doen, is om ’n goeie boek te skryf. Skrywers moet nie huiwer om werk in Afrikaans te skep nie. Die uitbouing van Afrikaans het te doen met verbruikerspatrone. Ons moet ons Afrikaanse kultuurskatte ondersteun – ook finansieel. Solank ons kaartjies verkoop vir Afrikaanse aanbiedinge, kan feeste aanbod handhaaf en uitbrei. Ek het ’n broertjie dood aan mense wat kla oor die verskraling van Afrikaans, maar dit nie aktief en ekonomies ondersteun nie. Die toekoms van Afrikaans is in ons hande. Kom ons koester dit.
Hou die Woordfees se webtuiste (www.woordfees.co.za) dop vir meer inligting.