Kom loer saam met Afrikaans.com na hierdie maand se opwindende nuwe boekereeks. Die geliefde skrywer Deon Meyer boei die gehoor met sy spanningsverhaal Prooi. Elsa Joubert se Spertyd gee die leser ‘n outobiografiese kykie na veral haar latere lewe soos sy haar ervaringe deel van die hede tot die onlangse verlede, met die woordvaardigheid soos net sy kon. Ons kyk ook na ’n paar dieper insette soos deur Nico Smith met In Mamelodi het ek my God gevind, en word die leser opnuut bewus van belangrike historiese kwessies wat steeds vandag ‘n verskil in mense se lewens maak. En vir die jongspan is daar Die legendariese Lua Verwey deur Dihanna Taute waar Lua gereed maak om weg te breek van haar gesin en reg is vir ‘n vakansie saam met die krieketspan. Kom reis saam met Afrikaans.com deur hierdie maand se versameling van boeke, en kom vind jou gunsteling!

1
Die Dao van Daan van der Walt
Lodewyk G. du Plessis.
ISBN: 9780624082521
Uitgewer: Tafelberg Uitgewers
Toe Daan van der Walt, ‘n eerstydse Kalahari-boer, ‘n vertigo-aanval kry, laai sy vervreemde seun hom by ‘n monnikeklooster in China af. Onder leiding van Meester Yang moet Daan tai chi doen in ‘n poging om sy balans te herstel. Maar daar is ook iets anders wat aan Daan vreet, iets wat hy van sy hart móét afkry voor hy sy weg na die hiernamaals kan vind. Dalk is dit tyd dat hy aan Magrieta, sy oorlede vrou, skryf en sê dat hy haar liefgehad het.

2
Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Etienne van Heerden
ISBN: 9780624089216
Uitgewer: Tafelberg Uitgewers
Prokureur Ian Brand stuur ’n ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op ’n kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak. En al hoe gereelder slaan ’n kruisboogmoordenaar in die Moederstad toe . . . Dié tergend aktuele roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar “die waarheid” klaarblyklik ’n onhaalbare ideaal is.

3
Ek wens, ek wens
Zirk van den Berg
ISBN: 9780795708558
Uitgewer: Kwela
As lykbesorger het Seb al talle lyke gebalsem, organe teruggepak in lyfholtes, beendere aanmekaargelas en doodsbleek gesigte gegrimeer vir roubeklaers om te besigtig. Wat help dit om te wens vir ‘n ingryping wat hom sal losruk uit sy saai bestaan? Maar toe die sterwende seuntjie Gawie en sy ma by die begrafnisondernemers instap, kry Seb tog rede om in wense te glo . . . En kom voor ’n dilemma te staan: Waarvoor wens jy as jy één wens het wat waar gaan word?

4
In Mamelodi het ek my God gevind
Nico Smith
ISBN: 9780796321152
Uitgewer: LUX VERBI
In 1982, tydens die hoogty van apartheid, ontvang ds Nico Smith ’n beroep na die NG gemeente in Mamelodi. Tot almal se verbasing aanvaar hy dit. Hy en sy vrou Ellen, ’n gerekende kinderpsigiater, laat
hulle gemaklike lewe in Stellenbosch agter en gaan bly in Mamelodi. Hier leer Nico en Ellen die harte van die mense ken, en beleef hul swaarkry sáám met hulle. Hulle leer ’n ander God ken, die God van die armes, die verworpenes en die verdruktes. Tog betaal hulle self ook ’n prys.
“We will remember him as a fearless fighter who sacrificed his wellbeing and forsook his privileged white status to join hands with black people.” – Jackson Mtembu

5
Spertyd
Elsa Joubert
ISBN: 9780624084327
Uitgewer: Tafelberg
Hierdie boek is die voltooiing van Elsa Joubert se outobiografiese drieluik wat ingelei is deur ‘n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Dit fokus hoofsaaklik op die skrywer se latere jare, in die aftreeoord in Kaapstad, maar haar belewenis van die hede en onlangse verlede word onlosmaaklik vervleg met herinneringe aan veel verder terug, alles geteken met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers.

6
Anderman se vrou
Chris Karsten
ISBN: 9780798179829
Uitgewer: Human & Rousseau
Twee jaar ná die dood van die reeksmoordenaar Jack Niemand, is daar steeds raaisels wat by Wim Kellerman spook. Wim en Portis praat min daaroor by hulle skoenlapperboerdery op Wildernis. Maar albei wonder steeds wat het geword van Portis se vyf vermiste jeugvriende? En wat van Simon Pope en sy vrou se oorskot?
Wim wéét sy ou aartsvyand, Simon Pope, lewe nog. Hy vlieg Kanada toe, agter “skoenlappers” aan. Maar eintlik gaan soek hy die meesterbrein agter die verdwyning van Portis se jeugvriende.

7
Asof geen berge ooit hier gewoon het nie
Pieter Odendaal
ISBN: 9780624085614
Uitgewer: Tafelberg
Asof geen berge ooit hier gewoon het nie is ‘n opwindende en verweefde debuut uit ‘n jong digter se pen. Met ‘n eietydse en aktuele aanslag skryf Odendaal oor die politiek van verskil in ‘n multikulturele samelewing, die natuur en ons ekologiese voetspoor, verganklikheid, menswees, die liefde, asook die onlangse studentepolitiek. Ten einde vra hy: Re mang? Wie is ons? En wie is hulle?

8
Die legendariese Lua Verwey
Dihanna Taute
Illustrasies deur Theodore Key
ISBN: 9780798176811
Uitgewer: Human & Rousseau
Lua is nie soos enige meisie wat jy ken nie. Sy sal eerder tyd op haar J-board spandeer as voor ’n spieël of die TV. Sy’s ook allergies vir seuns. Wat vreemd is, want sy het drie boeties. En sy wil graag krieket speel, al sal sy die enigste meisie wees. Maar die krieketspan gaan see toe toer en sy kort beslis ‘n vakansie weg van haar mal gesin af.

9
Die Ongelooflike Onskuld van Dirkie Verwey
Charl-Pierre Naudé
ISBN: 9780624084341
Uitgewer: Tafelberg
Op ‘n dag in die vroeë sewentigs bemerk ‘n afgeleë Noord-Kaapse gemeenskap ‘n gebou in hul midde waar voorheen net ‘n stuk braakgrond was. Drie weke later verdwyn die gebou . . .
Lees ook oor die vreemde werklikheid van mense wat meer as een maal lewe, oor die jong man wat so skaam is dat hy nie op foto’s kan vertoon nie, en oor die intense liefdesverhouding van ‘n paartjie wie se lewenspaaie net vir ‘n paar sekondes gekruis het.

10
Prooi
Deon Meyer
ISBN: 9780798177757
Uitgewer: Human & Rousseau
Griessel en Cupido soek nie dié yskoue docket nie. Johnson Johnson, oudpoliesman, se lyk is gekry langs die treinspoor in die Karoo. In Bordeaux geniet Daniel Darret sy eenvoudige lewe, tot hy verplig word om nog een keer te jag – op die korrupte president van sy tuisland. Kan die Valke hom betyds keer? Kan Daniel die Russiese agente ontglip wat hom probeer elimineer? En gaan Bennie als oorleef om eindelik vir Alexa Barnard te vra om te trou?