Wanneer Karoliena Kapp te staan kom voor die keuse tussen ’n lewe op die dorp saam met die man van haar drome en die Knysnabos waar sy veilig voel, ontketen dit ’n onvergeetlike reis van innerlike konflik, verandering, aanvaarding en bowenal, liefde. In Toorbos, volg die kyker Karoliena se verhaal, vandat sy trou beloof aan Johannes Stander tot haar besef van die geldgierige, selfsugtige en onderdrukkende samelewing waarin sy haarself bevind. In die reeks avonture wat volg, leer ken die kyker die hart van die bosmense in die 1930’s, die uitdagings van dié tyd en die magiese aard van die bos wat as’t ware ’n karakter op sy eie word.
Met die kombinasie van uitstekende toneelspel deur bekendes soos Elani Dekker, Stiaan Smith, Ira Blanckenberg en Clare Marshall, magiese kinematografie en ’n briljante teks waarvan die skryfproses sowat ses jaar vir skrywer en regisseur van Toorbos, René van Rooyen, geduur het, is dit geen verrassing dat Toorbos al wyd vereer is nie.
Die film het in 2018 weggestap met die toekenning vir die Works in Progress (WIP)-program by die Kaapstad Internasionale Mark- en Rolprentfees (CTIFMF). Dit is gekies as een van vyf rolprente uit 54 inskrywings uit 15 Afrikalande. Toorbos is ook in 2019 gekies as die sluitingsfilm by die 9de kykNET Silwerskermfees.
Toorbos is gebaseer op die gelyknamige roman uit die pen van die bekroonde skrywer Dalene Matthee en is die vierde boek in haar reeks bosverhale. In ’n destydse onderhoud met die SAUK, vertel Matthee van haar eie noue verbintenis met die Knysnabos en die bekoring wat hierdie ruimte vir haar inhou.


“Ek sal nie Bos toe gaan sonder om die Bos eers aan die rand te groet nie. Jy kan nie sommer net daar inloop nie. Dit is ’n kragstasie, ’n ding wat groter is as wat ons mense verstaan. My kinders sê altyd ‘Ma, moenie dat mense hoor Ma groet die Bos nie’.”
Dit is dan ook haar diepe konneksie met die bos en die magiese aard van hierdie ruimte wat as basis dien vir die roman en die film en gestalte kry deur die Karoliena-karakter. Vir Elani Bekker wat die rol van Karoliena vertolk, was een van die belangrikste aspekte van die voorbereidingsproses, die verstaan van die tydperk waarin dit afspeel.
“Ek het baie navorsing gedoen oor die bosmense in die 1930′ en 40’s, asook tyd spandeer saam met René, om myself te vereenselwig met die teks en veral ook met Karoliena se perspektief. Ons het ook die Knysna-bosmense se interessante aksent herontdek en deur hierdie aksent kon ek ook baie leer van hoe dié unieke kultuur gedink en gekommunikeer het.”
Vir Stiaan Smit, wat die rol van Johannes Stander, Karoliena se man vertolk, was die fisiese aspekte van sy karakter (soos aksent en postuur) ook iets wat hy moes inoefen.
“Johannes se spraakpatrone en postuur is baie meer statig as my eie! En dan, soos met enige teks, was dit vir my belangrik om die karakter se emosionele reis te verstaan, en om te kan vereenselwig met die dinge wat hom motiveer. Die groot uitdaging is wanneer daar negatiewe aspekte van ‘n karakter is wat jy ook moet verstaan en toelaat – soos byvoorbeeld Johannes se oortuiging dat vrouens altyd moet doen wat hul mans sê, en sy bereidwilligheid om dit af te dwing,” meen Stiaan.

Volgens Stiaan is die temas wat in Toorbos ondersoek word, steeds net so relevant vandag as wat dit 90 jaar gelede was.
“In vandag se tyd is die kwessie van magspel in verhoudings baie relevant. Johannes en Karoliena se verhouding speel af in ‘n wêreld waar die man nog definitief die baas van die verhouding is. En ten spyte van die feit dat dit vandag ‘n baie meer subtiele dinamiek is, bestaan daardie wanbalans van mag steeds in verhoudings. Wat die storie vir my so relevant maak, is om te sien hoe ‘n karakter soos Karoliena, wat groot teenstand ervaar oor beide haar geslag en klasseverskil, die uitdaging aanpak om daardie hindernisse te oorkom,” sê hy.
Stiaan meen dit is juis hierdie chauvinistiese uitkyk wat sy karakter op die lewe het, waarmee hy sukkel om te vereenselwig.
“Wat ek wel hou van Johannes is dat hy die bereidwilligheid toon om daardie elemente in homself te ondersoek en te bevraagteken. Ek dink, maak nie saak wanneer of waar ons lewe nie, daar gaan altyd die moontlikheid wees dat ons sekere dinge glo bloot omdat die samelewing vir ons sê dat dit die regte ding is om die glo. En die mense vir wie ek die meeste respek het, is dié wat die energie vind om altyd aan te hou vrae vra, en die versteekte valse aannames oop te grawe.”
Vir Elani, is dit haar karakter se weerstand teen hierdie chauvinistiese lewensuitkyk, wat sy die meeste bewonder.
“Ek bewonder haar waagmoed om nie tevrede te wees met die drome en vooropgestelde idees wat ander vir haar het nie, maar eerder haar intuïsie te vertrou en uit te vind wie sy is en wat sy wil doen. Sy kan nogal hardkoppig wees! Daar is ‘n sterk tema van verandering en vooruitgang in Toorbos. Karoliena word konstant uitgedaag om op te staan vir dit wat sy glo reg is en om gegrond te bly in haar waarheid. Suid-Afrika is in ‘n baie onsekere tyd en hierdie storie sal hopelik vir mense moed gee om aan te hou groei en sterk te staan wanneer dit voel asof hulle effens ‘ontwortel’ word.”


Met die uitbeelding van ’n verhaal soos Toorbos deur ’n legende soos Dalene Matthee, kom daar altyd hoë verwagtinge; ’n onus om die karakters uit te beeld op dieselfde manier as waarop die leser dit in sy of haar kop gevisualiseer het.
“Elkeen wat die boek al gelees het sal hulle eie denkbeeldige weergawe van [Karoliena] in hulle kop hê en daarmee kan ek mos nou nie kompeteer nie,” sê Elani. Aanvanklik was ek oorweldig, juis omdat sy so ‘n bekende karakter vir mense sal wees, maar ek moes besef dat al wat ek kan doen is om die Karoliena in my te laat uitkom en mý weergawe van haar tot die beste van my vermoë te vertolk,” sê Elani.
“Dis altyd baie oorweldigend om ‘n karakter te moet uitbeeld wat reeds bestaan in die kop van die kyker,” meen Stiaan. Maar die waarheid is dat mens net eg kan wees aan die karakter soos wat dit in jou eie verbeelding lewe. So op die ou end doen ek net my bes om te vergeet dat die karakter reeds bestaan, en probeer die storie en die teks benader soos enige ander. Anders gaan mens jouself in twee skeur tussen jou eie interpretasies en die verwagtinge van die kyker.”
Toorbos word op 13 November 2020 in teaters regoor die land bekendgestel. Kry jou kaartjies vandag en deel in die betowerende ervaring van uitstekende Afrikaanse filmvermaak.
Loer ook gerus hier na die voorskou van Toorbos: