Episode 2
In die tweede episode ontmoet ons Melanie, ’n jong, opkomende sanger wat die PACISA- kompetisie gewen het. Sy het verskeie pryse gewen, onder andere ’n enkelsnit wat deur Rudi Claase geskryf is, ’n musiekvideo en stemopname deur InTune Productions. Haar bemarking word deur The Marketing Zoo behartig en sy het ’n volbeurs ontvang om musiek by COPA te studeer. Alles op die ouderdom van 19. Hierdie jong sanger het ’n stem wat jou hoendervleis sal gee.
Luister haar enkelsnit hier.
Melanie en Pieter maak ‘n varklies met ’n soet uiesous en groenboontjiepuree.

Episode 2 se legende is die mediakonsultant Marius Bakkes. Lees gerus verder om Marius beter te leer ken.
Wie is Marius Bakkes?
Hendrik Marius Aucamp Bakkes, seun van die historikus en militêre wetenskaplike dr. Cas Bakkes en skrywer Margaret Bakkes het grootgeword in die Wes-Kaap en later in Pretoria. Marius het talle mediahoede met die jare gedra, onder andere as joernalis, televisieregisseur en vervaardiger, asook skakel- en reklameman – hoofsaaklik in Johannesburg en Kaapstad en nou in Nelspruit. As mediakonsultant praktiseer en konsulteer Marius in alle vorme van media en is deesdae veral doenig met die publikasie van streekskoerante en toerismepublikasies en -reklame – gedruk en aanlyn.
Covid-19 het ’n beduidende impak op die mediabedryf gehad. Hoe lyk die pad vorentoe?
Om in die mediabedryf – van watter aard en medium ook al te oorleef, beteken om gedurig nuwe planne te maak en op hoogte te bly van die jongste giere en behoeftes van jou kliënte en jou publiek. Jy moet die onderskeie markte en produkte ken en na gelang daarvan, die mees effektiewe weg vorm en gebruik om die boodskap oor te kry. Wat nuus en die gedrukte media betref, reken ek die Covid-skade was redelik groot. Veral nasionaal – en op plekke ook internasionaal – het die nuusmedia homself verder benadeel om so sonder slag of stoot die Covid-toestand in te gaan en het hulle gewoon napraters geword van ongegronde maatreëls en feite. Ek reken permanente skade is aangerig in terme van toekomstige geloofwaardigheid. Die gemeenskapskoerantbedryf is tot ’n mindere mate geraak omrede hulle tot ’n groot mate draers geword het van advertensie-invoegsels wat onder sekere dele van die kopersmark groot in aanvraag is – en steeds groot geld vir die uitgewers beteken. Die behoefte aan gemeenskapsnuus vind nog goed uiting in so ’n gratis voorstedelike of plattelandse agtblad- koerantjie.
Enige staaltjies wat jy kan deel tydens verfilming van PappaChef?
Nie staaltjies nie, maar wel heimwee, denkend aan my eie jeug toe ek as jong regisseur moes leiding neem met regstreekse televisieuitsendings soos Goeie More Suid-Afrika en Ses-op-Een, wat ons in die begindae daagliks en vreesloos op lug geplaas het. Natuurlik nie sonder ’n goeie span nie – en so het die professionaliteit en geesdrif van die jongklomp met die opnames van PappaChef my weer na daardie dae laat verlang.
Jou gunstelinggereg – om te eet en om voor te berei.
Ek is lief vir kook, maar haak soms by ‘n paar gunstelinge vas. Op die oomblik is dit Ossobuco – sommer met gewone beesskenkel, want kalfsvleis het ons nie hier in die Laeveld nie, ’n lekker goulashsop met dik repe goeie beesvleis en gerookte paprika en Thaise groenkerrie – ook nou nie so dat die oë traan nie.
Enige verskuilde talent waarvan ander dalk nie bewus is nie?
My lewe, skandes en skades is ‘n redelike oop boek. Wat ek kon doen en wat ek wou doen, het ek aangepak. Met minder en meerdere sukses.
Wat is heel bo-aan jou kluitklaplys?
Daar broei ’n prettig nostalgiese televisiereeks – nou dat tyd en kostes minder van ’n probleem is. Dit is om met ’n konvooitjie ou karre uit die jare dertig ’n landswye padreis op die ou paaie van die tyd te volg. Tans maak ek padkaarte en reisgidse bymekaar en het ek reeds begin soek na die plekke waar die ou motorpaaie eers geloop het vanaf Jan van Riebeeck se standbeeld deur elke dorp en Royal- of Grand-hotel verby tot by Carl Von Brandis voor die landdrosgebou in Johannesburg – of as oom Paul nog daai tyd staan, tot op Kerkplein in ou Pretoria.
Radiostasies
Skakel in op die volgende plaaslike radiostasies as jy wil deel in PappaChef se kombuisklets en -kook. Diegene wat oorsee woon, kan ook aanlyn inskakel en luister.