In dié episode van Kompas op RSG, gee Christopher Banda van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement wenke oor hoe matrieks moet voorberei vir Afrikaans Huistaal, vraestel 2: gedigte. Die vraestel word op 24 November 2020 geskryf. Christopher is die senior kurrikulumbeplanner vir Afrikaans (graad 10 – 12) by die WKOD.
Leerders:
- Daar is 12 gedigte. Leer almal. MOENIE spot nie!
Ter voorbereiding:
- Maak seker jy het al die tegniese aspekte onder die knie, bv. leestekens, klankeffekte, ens. – jy moet elkeen se funksie kan benoem.
- Daar is twee kernvrae oor elke gedig, naamlik die tema (waaroor gaan die gedig?) en die boodskap (wat word gesê?).
- Hoe word dit gesê? M.a.w. watter tegnieke word ingespan.
- Leer alles wat die onderwyser jou geleer het en kry dit goed onder die knie.
- Maak ’n skoon afdruk van die gedig en kyk nou of jy alles oor die gedig kan neerskryf, bv. reël 1 = metafoor; reël 3 = alliterasie, ens.
Vasleggingsoefening:
- Die WKOD het ’n aanlyn toets beskikbaar (pdf op WA) wat leerders kan beantwoord. Die toets word elektronies gemerk en leerders kan dit meer as een keer aflê. Is ook op die departement se e-portaal beskikbaar.
- Beantwoord ’n regte eksamenvraag in ’n ou vraestel en probeer dit binne 13 minute voltooi (ongeveer die tyd wat in die eksamen beskikbaar is).
Finale opsomming:
- Gebruik ’n dubbelfolioblad en trek ’n tabel/diagram op waarop al die belangrike aspekte van elkeen van die 12 gedigte uiteengesit word.
Vrae:
- Een opstelvraag en 4 kontekstuele vrae. Drie van die kontekstuele vrae handel oor behandelde gedigte en een van die vrae – die vraag is ook verpligtend – handel oor ’n ongesiene gedig.
Uitdagings:
Gebrekkige woordeskat lei tot swak begrip, vertolking en formulering van vrae. Die volgende woorde skep probleme:
- Spreker: Dit is nie die digter nie! Stel vas wie is aan die woord in die gedig, of uit wie se gesigspunt word die gedig aangebied.
- Aangesprokene: Met wie word daar gepraat?
- Funksie/funksioneel: Wat word gedoen?
- Effektief: Hoe goed word dit gedoen?
- Plasing, tipografiese plasing, tipografiese alleenplasing: Een woord kan alleen in ’n reël voorkom, of een versreël kan los staan van ander versreël of strofe, ens.
- Ondersteun: Hoe ondersteun versreël 5 die titel van die gedig? M.a.w. hoe help hierdie woord …
- Benoem die beeldspraak/stylfiguur: Gee die naam van …
- Verduidelik die beeldspraak: Wat beteken dit in die gedig?
- Stemming: Gevoel wat by leser opgewek word.
- Evalueer die geslaagdheid van bv. die beeldspraak: Is dit suksesvol? Ja/nee. En gee dan rede (motiveer) hoekom jy so sê.
- Uithef/uitgehef: Hoe word dit (bv. beeldspraak) beklemtoon/benadruk?
- Opgehef: Hoe word dit (bv. beeldspraak) tot ’n einde gebring?
Hoe kry jy goeie punte?
- Maak seker jy verstaan wat gevra word.
- Moenie ’n algemene antwoord gee as daar ’n spesifieke antwoord van jou verwag word nie – m.a.w. oor ’n spesifieke gedeelte van die gedig.
- Deeglike kennis van die gedig, bv. watter letterkundige begrippe is op die gedig van toepassing? Watter klankeffekte, bv. alliterasie, ens. is van toepassing?
- Lees elke vraag deeglik en ontleed – om kernwoorde en vraagdele te bepaal.
- Kyk ook wat is die beperkinge van die vraag, m.a.w. die vraag is dalk net op ’n sekere deel van die gedig van toepassing.
- Beantwoord die vraag in dieselfde volgorde as wat die vraag gestel is:
- Beantwoord elke onderafdeling op ’n afsonderlike reël.
- Spasieer jou antwoord en skryf netjies – daar is genoeg spasie/bladsye in die eksamenboek. Dit maak dit makliker vir nasieners om jou vraestel te merk.
- Jy kan so ook seker maak dat jy alles (elke onderafdeling) beantwoord.
Hoe beantwoord jy die opstelvraag?
- Ontleed die opdrag en beplan jou antwoord.
- Beplan jou argumente d.m.v. bewyse in teks (wat jou antwoord ondersteun).
- Struktuur wanneer jy die opstelvraag beantwoord:
- Inleiding – ’n afsonderlike paragraaf (kan ook net een sin wees).
- Lyf/liggaam – dit is jou argumente, bv. stelling plus verduideliking; stelling plus gepaste aanhaling; stelling plus omskrywing in jou eie woorde. LW – die lyfgedeelte kan uit afsonderlike paragrawe bestaan.
- Slot – ’n afsonderlike paragraaf wat verband hou met die vraag en by die inleiding aansluit.
“Onthou matrieks: Matriek is dalk die einde van jou skoolloopbaan, maar dit is ook die begin van die res van jou lewe.”
– Christopher Banda, WKOD
Gaan ook na Afrikaans.com se leerhulpafdeling vir ’n lys van ou vraestelle:
Afrikaans Eerste Addisionele Taal (EAT)en Afrikaans Huistaal. Klik hier.
Nog skakels:
WOZA Matrics is ’n program saamgestel om matrieks te help met hulle studies. Lees meer.
Die Wes-Kaapse Departement van Onderwys (WKOD). Klik hier.