Koop tussen 30 Oktober en 13 November 2020 enige van die titels op hierdie lysie en ontvang 10% afslag in Exclusive Books se aanlyn winkel.
WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom!
Klik hier.
Hierdie maand op ons boekrak spog ons met ou bekendes wat al maande lank op die lys pronk, soos Hans gee Herklaas horings deur Rudie van Rensburg en Kanaän van Sophia Kapp. Oktober se lys spog ook met die lekkerste en nuutste op die Suid-Afrikaanse boekrak. Afspraak met Moord deur Jana Marx gee die leser ’n kykie na hoe skynbaar normale mense, gruweldade kan pleeg. Johan Bakkes gee ons ’n reis na binne sy gedagtegang in Erfgeld is Swerfgeld en vat die leser op verskeie avonture, sommige meer persoonlik en ander humoristies van aard. Tog is daar iets vir elke boekwurm, en kosliefhebber. Met Die Edik van Nantes gee Nataniël en Erik le Roux ’n eg Franse smaak in jou mond, met hul wenresepte vir die oog en maag. Moenie hierdie maand se uiteenlopende topverkopers misloop nie. Klik die skakel en lees saam met Afrikaans.com en Exclusive Books…
1

Hans gee Herklaas horings – Rudie van Rensburg
Hans van Kraaienburg, verlosser van Huis Madeliefie se oumense, se vriend Vasie nooi hom vir ‘n vakansie op Hermanus, as gaste van dié se neef Herklaas. Daar gekom, vind hulle Herklaas in die sop: die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, wil sy blyplek koop en herontwikkel – maar Herklaas wil nié trek nie. Toe Grond se kriminele handlangers hardhandig raak, besluit Hans dat Herklaas ‘n stel horings moet kry om Grond trompop te loop.
2

Die Brug: Na die hel en terug in Angola – Deon Lamprecht
In vergeelde foto’s van drie dekades gelede staan oopgesigseuns vol bravade voor Ratel-gevegsvoertuie. Hierdie dienspligtiges van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep staan aan die begin van hul reis diep in Angola in om vir volk en vaderland te gaan veg.
In ’n bloedige geveg op Valentynsdag 1988 en in die doodsakker by Tumpo sou hul jeugdige onskuld egter sneuwel. In die hitte van die gevegte kom die besef: Nou gaan dit nie oor ideologie nie, maar om oorlewing. Na die oorlog gaan die lewe voort, maar die vrae en geestelike letsels wyk nie.
In 2018 keer ’n groep van die ouddienspligtiges terug na Cuito Cuanavale op soek na afsluiting – en om die wrak te vind van die Ratel waarin ’n makker op die laaste dag van die oorlog gesterf het. Die Brug vertel van hul reis van jong man na veteraan en gee ook ’n stem aan die vroue in hul lewe. Dit is ’n verhaal van ontnugtering, maar ook van trotse kameraderie en genesing.
3

Merk – Rudie van Rensburg
Kassie het geglo sy speurderdae is getel na die Medusa-pedofielsaak, en sy hartaanval. Maar ses maande tuis bring perspektief – hy is ‘n speurder in murg en been. Terug by die Spookeenheid word hy en kollega Rooi Els dadelik by die diep kant ingegooi: Hulle moet ‘n reeksverkragter vastrek – een wat sy slagoffers met ‘n brandyster merk. Is die skuldige die man wat beskryf word as “‘n weerwolf met die sperm van ‘n wildehond”? Of lê die antwoord by die spesifieke merk wat hy op sy slagoffers laat?
4

Maggie: My lewe in die kamp – Maggie Jooste
Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek en haar lewe ingrypend verander. Na maande in huisarres word sy en haar gesin na ‘n konsentrasiekamp in Natal gestuur. Hier ervaar hulle honger, onsekerheid en verlies, maar ook soms op ‘n verrassende wyse die goedhartigheid van Britse soldate. Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ‘n verhaal van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en vriendskap oor vyandsgrense heen.
5

Erfgeld is Swerfgeld – Johan Bakkes
Johannes Bakkes is die geliefde skrywer van andersoortige reisverhale soos Ons is moertoe en Norrevok. Hierdie boek is meer persoonlik; hier skryf hy homself oop. Die subtitel is Reis na binne, die -ste -ste plek? Hy is altyd op soek na die koudste, warmste, hoogste, droogste plek om te besoek.
Hier word humoristiese vertellings oor sy reise afgewissel met sy pa se wolhaarstories en lewendige geskiedenisvertellings. Hy en sy seun vind aanklank tydens nog ‘n onbesonne reis. Sy liefde vir sy familie is tasbaar. Gerrit Rautenbach noem die manuskrip sy beste skryfwerk nog en blootstellend anders. Bakkes lê homself bloot in sy weerloosheid, vrees en krankheid.
Hy wys wie hy was in die ou bedeling en hoe hy probeer hand bysit in die nuwe bedeling, wat hy nie gekies het nie. Dis ’n dapper, aangrypende reis vol humor en deernis.
6

Kanaän – Sophia Kapp
Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is ’n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ‘n skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ’n uitweg – ’n jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.
7

Afspraak met Moord – Jana Marx
Elf wrede moorde oor ’n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landwyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg.
Die moordenaars is slim, gewone mense – ’n onderwyseres, ’n finansiële makelaar, ’n kind wat tussen die moorde deur steeds ses onderskeidings in matriek behaal en boonop keuring kry om medies te gaan studeer. Hul slagoffers het bloot ’n sake- afspraak nagekom, min wetend dat dít ’n afspraak met die dood was.
Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het Satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank?
Jana Marx beantwoord dié en ander vrae in ’n waremisdaadverhaal wat gelei het tot een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis.
Met behulp van onderhoude uit diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar poog Marx om die publiek se vrae te antwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus.
8

Anton Goosen – Liedjieboer – Hanlie Retief
Na 40 jaar se rock ‘n roll in Afrikaans vertel die legendariese Anton Goosen nou sy volle verhaal, soos neergepen deur die bekroonde joernalis Hanlie Retief. Die vader van Afrikaanse rock skryf oor sy grootwordjare in die Vrystaat, sukses en roem, sy lewe op die langpad, die Musiek-en-Liriek-era, die hoogtepunte en teleurstellings langs die pad. Aangrypend, eerlik en vol humor: Dit is die lewe van Anton Goosen. ‘n Lewe teen die stroom op.
9

Die Edik van Nantes – Kookboek – Nataniël le Roux, Erik le Roux
In Die Edik van Nantes-kookboek nooi Nataniël en sy broer, Erik le Roux, jou uit om saam met hulle ‘n kosreis na Nantes, Frankryk, te onderneem. Kom kyk hoe lyk die château waar Erik en sy gesin bly, beskou die argitektoniese wonders van Nantes en beleef die koue winter saam met hulle. Met resepte uit die eerste vier reekse van die gelyknamige TV-reeks asook nuwe resepte wat Nataniël en Erik by die huis maak. Maak Franse uiesop, clafoutti, artisjokpoeding, brioche met salm, bloubessiesjampanjesop en sjokoladeklappertruffels net soos die Franse kan. ‘n Visuele fees vir die oog.
10

Bloedsteen – Irna van Zyl
Dinge ontrafel vinnig wanneer iemand speuradjudant Storm van der Merwe se ma voor ‘n trein op Paddington-stasie instamp. Storm moet Londen toe, al is sy tot oor haar ore met ‘n moordsaak: Beebee Bukelwa Babu, befaamde Suid-Afrikaanse modeontwerper, lê leweloos in ‘n luukse hotel op Hermanus.
Hande om Storm te help met die ondersoek na Beebee se dood is min, want protesaksie lê die dorp lam. Boonop sweep ‘n charismatiese profeet die skare tot ‘n histerie op. Storm besef gou dit is nie net haar ma se lewe wat in gevaar is nie. Sy is self ‘n teiken. Intussen probeer haar ekskollega, Andreas Moerdyk, nou ‘n privaat speurder, om ‘n skaars rooi diamant van onskatbare waarde op te spoor. Van Londen se donker strate tot Antwerpen se diamantebeurs, van Port Nolloth se verlate kuslyn tot Storm se geliefde Hermanus, ontvou die storie in Irna van Zyl se derde misdaadroman teen die pas van ‘n sneltrein.
WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom!
Klik hier.