Die talentvolle trio betrokke by die Murray&Me-idioom-reeks van links na regs: Milan Murray, Marisa du Toit en Charmaine Nolte.
Gelukkig hoef nuuskierige agies nie langer te wonder oor wat presies ’n hus is nie. Skaf net Murray&Me se jongste idioom-boek, “Die Husse en die Klein Jakkalsies”, aan en elke knapie en dogtertjie sal uiteindelik weet wie en wat is ’n hus.
Milan Murray en haar vennoot, Charmaine Nolte, eienaars van die onafhanklike kinderboekuitgewery Murray&Me, laat hulle nie deur virusse en dies meer onderkry nie. Hierdie dinamiese duo het grendeltyd ten spyt, hulle sesde Afrikaanse kinderboek vrygestel. Afrikaans.com het by hulle ingeloer.
Hoe is dit dan nou dat ’n Afrikaanse kinderboekmaatskappy ’n Engelse naam het? Vanwaar Gehasi?
Milan verduidelik: “Jong, ’n mens het mos sterre in jou oë as jy iets nuut begin. Vyf jaar gelede toe ek en Charmaine die maatskappy begin het, was ons vas oortuig dat ons internasionaal sou versprei. Die Britte kan mos doen met ’n paar egte Suid Afrikaanse stories! Ons het wel ons eerste kinderboek, “Pieter Kokkewieter en die Hart op sy Mou”, in Engels vertaal na “Pete Twiddlefeet and the Heart on his Sleeve”, maar ons het weldra besef dat die lojale Afrikaanse mark tog ons hooffokus moet bly. Sê Charmaine: “Ja, … ons kan nie glo dis al Pieter se vyfde oplaag nie! Dis nou offisieel ’n Suid-Afrikaanse topverkoper!”
Maar die paadjie na sukses was nie altyd geteer nie. Elke nuwe boek bring nuwe uitdagings en 2020 het niemand ’n guns bewys nie. Vertel meer oor die slaggate.
“Kyk, dis meer as slaggate! Dis tamaai dongas! Toe April kom en ons besef boekwinkels is gesluit en geen koerier klim in sy kar nie, was ons amper seker ons doppie is geklink. Boeke is duur. En op daardie stadium was ons vierde idioom-boek op pad drukker toe. Ons het letterlik asem opgehou.”
Die vierde prenteboek in Murray&Me se idioom-reeks, “Die Husse en die Klein Jakkalsies”, is weer ’n storie uit jou (Milan) pen. Hoekom idiome?
“Ek is vreeslik lief vir idiome en ek wou nog altyd ’n storie skep rondom die idioom, “dis die klein jakkalsies wat die wingerde verniel”. My aanvanklike storie was oor ’n swart haas met die naam ‘Marmite’. Ons was nie seker oor die kommersiële regte van die ‘Marmite’-handelsmerk nie, so ek het maar langtand van die naam afgesien.”
En boonop het die ‘haas’ toe ’n ‘hus’ geword!
“Ons het ’n whatsapp-groep vir die maatskappy waar ons idees deel en soms ver uit die boks dink,” verduidelik Charmaine. “Ek is gewoonlik die een met die meer aweregse idees! My kop gaan maak ver draaie. So, Milan en Marisa – ons illustreerder – is al gewoond aan my kleurvolle voorstelle. Ek kon net nie anders as om ’n ‘hus’ te sien nie! Elke huis kort ’n hus met lang ore!”
Op 20 September hierdie jaar is “Die Husse en die Klein Jakkalsies” sonder groot fanfare vrygestel.
“Dit was maar ’n bittersoet dag,” onthou Milan. “Ons nooi gewoonlik die wêreld en sy vrou om lekker saam met ons boekbekendstelling te hou, en ons was nog elke jaar gelukkig om televisieblootstelling by hierdie geleenthede te hê. Maar vanjaar was dit nie moontlik nie. Dan was daar ook die probleme met die koerierdienste wat as gevolg van die hoë volumes gesukkel het om betyds af te lewer. Ons het met ’n hele paar ongelukkige kliënte gesit wat langer as gewoonlik vir hulle pakkies moes wag.” “Sjoe, mense kan hulle mond uitspoel op sosiale media, hoor!” lag Charmaine. “Ek bel elke ongelukkige kliënt persoonlik, want kliëntediens is vir my ongelooflik belangrik. Maar hierdie jaar was daar soveel aspekte buite ons beheer en Facebook bly maar ’n plek waar mense voel hulle kan ontlaai.”
Slaggate ten spyt, word “Die Husse en die Klein Jakkalsies” met oop arms deur kinders landwyd ontvang. Volgens Murray&Me is daar blykbaar verskillende tipes husse: huis-husse en plaas-husse en berg-husse, onder andere… En gelukkige lesers stuur elke dag foto’s van hoe daar ’n husse-soektog teen slaaptyd uitbreek!
Die Murray&Me.-kantoor staan vol kleurvolle toegedraaide pakkies. Mag elke kind hierdie Kerstyd die chaos van 2020 vergeet en wegraak tussen die blaaie van hierdie prag-prenteboek.

Die omslag van die nuutste boek in die Murray&Me-idioom-reeks.


Twee van die illustrasies in die prenteboek, “Die Husse en die Klein Jakkalsies”.
“Die Husse en die Klein Jakkalsies” is geskryf deur Milan Murray, geïllustreer deur Marisa du Toit, met produksie deur Charmaine Nolte.
Besoek gerus die webtuiste www.murrayandme.co.za om jou kopie te bestel.