“Die skoolgemeenskap van Laerskool Cloetesville spog met ‘n permanente herinnering dat alles moontlik is deur hul moedertaal, Afrikaans.”
– René Arendse, Afrikaans.com
Op Vrydag, 16 Oktober 2020, tydens die onthulling van die Afrikaans.com-muurkuns by Laerskool Cloetesville, kon die gemeenskap van Cloetesville die leerders van ver af hoor sing. “Drome het vlerke. Ek sien my naam in die sterre!” Só het die leerders saam met die musikant en skrywer, Frazer Barry, gesing.
“Die muur is ‘n motivering, nie net vir die leerders nie, maar vir die hele gemeenskap. Daar is baie mense wat hier verbybeweeg en die muur is op ‘n sentrale punt waar almal dit kan sien. Almal is beïndruk met die muur,” vertel die waarnemende prinsipaal, mnr. Roger Cupido.

Met ‘n jaar wat soveel uitdagings gebring het, het hierdie muuronthullingsgeleentheid die leerders weer met nuwe hoop gevul. Die muurkuns herinner leerders dat hulle enigiets kan word deur Afrikaans. Mnr. Roger Cupido vertel ons met trots dat Laerskool Cloetesville nog van die min skole is wat ‘n suiwer Afrikaans-medium skool is en dat hulle dit graag so wil hou. Die musikant en skrywer, Frazer Barry het sy inspirerende storie met die leerders gedeel en hulle vertel hoe hy as jong seun bo sy omstandighede kon uitstyg en hoe hy deur harde werk en toegewydheid sy drome kon vervul … alles deur en in Afrikaans.

Mnr.Roger Cupido, waarnemende prinsipaal by LS Cloetesville, verwelkom almal by die muuronthulling.

Van regs na links – Frazer Barry, Milanie Vosloo, René Arendse, Mnr.Roger Cupido en die graad-6 leerders by Laerskool Cloetesville.
Die doel van die muurkuns is om leerders, onderwysers en die gemeenskap te herinner om trots te wees op die uniekheid van hulle kultuur, hulle skool, gemeenskap en hulle moedertaal. Sê René Arendse, gemeenskapskoördineerder by Afrikaans.com: “Ons vier die diversiteit van ons taal met al sy verskillende tongvalle en ons laat kinders besef dat die toekoms van Afrikaans in hulle hande is. Bo en behalwe die trots vir ons moedertaal, herinner die projek ook gemeenskappe en kinders om eienaarskap van hulle unieke identiteit en herkoms te neem!”

Die kunstenaar Frazer Barry, vermaak en inspireer die leerders tydens die muuronthulling.

Laerskool Cloetesville se graad-6 leerders tydens die muuronthulling.