Skrywer: Alita Steenkamp
“Woorde bou brûe in my lewe. Ek is versottend lief vir gedigte. My gedagte is ʼn kombuis waar die woorde bestanddele en my gedigte die recipe is. Ek gee aan God die dank vir die ongelooflik talent. Ek glo met Afrikaans kan ons die wêreld verander.” Aan die woord is Zebulon Kochk, ʼn vars nuwe bries in die Afrikaanse poësie. Met klanke, woorde en beelde skep hy nuwe wêrelde wat hy dan vrylik met ander deel. Vir die wêreld mag hy dalk Zebulon wees, maar vir sy vriende is hy sommer Zebbie, ʼn jong man wat opgewonde wag om te sien wat die lewe alles vir hom gaan inhou.
Zebulon huiwer nie om te sê dat hy in die agterstrate van die Paarl grootgeword het nie en tans in ʼn informele nedersetting woon. Hy woon saam met sy ouers in ʼn nederige tweevertrekhuisie waar die kombuis sommer deel van sy slaapkamer is. Tog het dit hom nog altyd geïnspireer om harder te werk en nie toe te laat dat enige negatiewe omstandighede hom onderkry nie. Die skryf van nuwe poësie is beslis een van daardie maniere om uit moeilike omstandighede weg te breek, sê hy. Hy is besonder dankbaar vir die manier waarop onderwysers hom deur die jare gehelp en geïnspireer het om sy gawes te ontdek en te ontgin.
Zebulon is tans besig met sy rekordeksamen en die matriekeksamen lê om die draai. Hy is ʼn leerder aan die Charleston Hill Sekondêre Skool in die Paarl waar hy deel van die matriekraad en ʼn lid van die leerlingraad is. As jy gewonder het oor die ekstra C en H in sy van, wel, hy het dit juis ingevoeg as erkenning vir die groot bydrae wat hierdie skool in sy lewe gemaak het. Hy skryf ook vir die skoolkoerant. Met 2020 wat in hierdie vreemde jaar verander het waar leerders eensklaps huis toe gestuur is om van daar af op eie stoom met hulle skoolwerk voort te gaan, het daar baie uitdagings op hom gewag. Zebulon besit nie ʼn skootrekenaar of tablet nie en moes maar sy ouerige selfoon inspan om by te bly.
“Ek gee nie maklik op nie en wanneer ek op ʼn donker plek is, probeer ek maar om deur die skryf van ʼn gedig die lig na my en die wêreld te bring,”
sê Zebulon.
Sy liefde vir woorde kom ʼn lang pad. Reeds op die ouderdom van nege het boeke en stories hom bekoor, al het hy self gesukkel om te lees. “Ek kon nie die woord ‘leeu’ uitspreek nie en het van ʼn loei gepraat,” lag hy. Om as enigste kind groot te word, het voordele en nadele. Zebulon sê dat hy in die alleentye maar altyd met ʼn boek gesit het, of probeer het om sy eie rympies te skryf. Dit het hy alreeds teen die ouderdom van nege gedoen. In latere jare het sy skryfwerk ook vir hom ʼn wonderlike uitkoms gegee wanneer slegte vriende hom wou dwing om saam te rook of dwelms te gebruik. Hy het bloot weggeloop en gaan werk aan ʼn gedig. Nou lag hy wanneer mense na hom as ʼn “nerd” of ʼn bleeksiel verwys. Die bynaam dra hy met trots.
Aan die begin van 2019 het Zebulon besluit om ʼn Facebook-profiel te skep waarop hy dan van sy gedigte deel. Dit was gou duidelik dat hierdie jong man ʼn uitsonderlike talent het. Bekende name in die digkuns het van sy skryfwerk gesien en hom aangemoedig om sy poësie op LitNet te deel. Hy het nie twee maal gedink nie en die allerlieflike Vreugde voor my venster geskryf, wat in Desember 2019 op LitNet gepubliseer is en dadelik goeie reaksie uitgelok het. Oor hierdie gedig is Zebulon baie trots: “Dit was net so heerlik om met beelde van die natuur, en menswees te speel en sonder dat ek dit geweet het, het ek ʼn tipe sonnet geskryf,” sê hy.
Van Zebulon se poësie verskyn ook gereeld op Ink – Skryf in Afrikaans se webwerf en hy het onlangs gehoor dat sy gedig Troos, vir die AVBOB-poësiekompetisie gekeur is. Troos is ʼn treffende voorbeeld van die manier waarop Zebulon sy woorde gebruik om bo donker omstandighede uit te styg.
Hy lag en sê dat sommige keurders wat hom help met sy poësie wil hê dat hy van sy unieke woordskeppings moet uithaal en ʼn bestaande woord gebruik. Dit is vir hom besonder moeilik, sê hy, want hy het juis daardie woord geskep om perfek in die gedig in te pas. “Ek noem dit sommer Zebbiekaans. Ek het al genoeg hiervan om ʼn hele woordeboek vol te maak,” lag hy. Dit is beslis ʼn kenmerk wat van sy poësie iets heel besonders maak. Zebulon huiwer ook nie om temas soos geweld teen vroue en kinders met sy digwerk aan te raak nie. Hy sê dit is nodig dat dit ook op hierdie manier belig word om bewustheid te skep en uiteindelik te sorg dat daar teen hierdie oortreders opgetree word.
Moet Zebulon net nie vra oor hoe hy te werk gaan om inspirasie te vind vir ʼn nuwe gedig nie. “Ek dink nie te veel oor ʼn strategie wanneer ek moet skryf nie. Die woorde kom net na my gedagtes toe. 90 persent van my digkuns kom net vrylik en ek kan in vyf minute reeds ʼn gedig geskryf het. Ek glo ek is gebore met hierdie gawe,” sê hy.
Die afgelope maand of wat, is Zebulon diep geraak deur mense baie na aan hom wat gesterf het. Ook hierdie pyn het hy in diep woorde raakgevat: “O Almagtige God. My wonde bloei soos ʼn huilende druiwestok.” Die digter Carma Shaw, wat op 8 September dood is, het vir ʼn geruime tyd vir Zebulon onder haar vlerk geneem en aan hom heelwat raad en leiding verskaf. Vir Zeb was haar dood ʼn reuseverlies, en hy het enkele dae na haar dood ook aan haar die mooiste gedig as huldeblyk op sy Facebookblad geplaas. “Toe ek die tyding van haar dood kry, was my hart baie stukkend, maar ek het nie gaan lê nie. Al moet ek die dood in die oë kyk, en al die ander moeilike dinge, moet ons maar net aanbeweeg en ons geloof in die Hemelse Vader behou,” sê hy hieroor.
Zebulon vertel dat hy aansoek gedoen het om letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch te studeer. Hy het nog nie gehoor of hy toelating gekry het nie, maar het hierdie jaar akademies baie hard gewerk en hy hoop van harte dat hierdie droom van hom, met harde werk, bewaarheid sal word. Moenie glo hy droom bloot net van ʼn graad in letterkunde nie. Hy wil eendag ʼn doktorsgraad in poësie hê sodat hy uiteindelik ʼn professor kan word.
Hopelik sal alles in plek val vir hierdie besondere jong man wat nou op die drumpel van sy toekoms staan. Met sy digkuns het hy reeds soveel lewens aangeraak, en ʼn mens sal graag wil sien dat hy gehelp word om sy gawe ten volle te ontwikkel.
“2020 was ʼn uitdagende jaar, maar ek het hard gewerk en ek hoop ek sal by Stellenbosch inkom. As dit nie gebeur nie, sal ek na ʼn ander uitweg gaan soek. Ek sal nooit opgee en gaan stilsit by die huis nie. Ek wil uitgaan en my droom vervul. Dis sal wonderlik wees om dit in Afrikaans, my hartstaal, te kan doen!”
Vreugde voor my venster
Jou fatsoenlikheid mot soos
reëndruppels op my begeerte:
ek is stof, die kroon gepars –
jy innemend soos vonkelwyn.
Dit betower my hart, tot barstens toe vol.
Kyk! Vars blomme in die lig begin fleur en
teer ontluik:
as ék bid, sal dit soos gebede rank en na
dié hemel groei.
O my tuinier, jy wat my so goed versorg
sprinkel geure aangenaam
en ek drink die liefde rondom ons loot
kwistig uit dié rank.
met ’n bondel van bloeisels uit die kelk –
so onvermoeiend in pers.
Deur Zebulon Kochk (soos gepubliseer op LitNET)
Vreugde buite my venster
Lees Troos hier
Ink – Skryf in Afrikaans: www.ink.org.za