Die Afrikaanse Taalmonument het onlangs ’n erefunksie gehou vir diegene wat dit hulle lewenstaak maak om ’n daadwerklike bydrae tot Afrikaans te maak en die taal deur hulle harde werk en passie bevorder. Professor Michael le Cordeur, Gaireyha Fredericks en die SBA (Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans) is vanjaar as die wenners van dié toekenning tot die bevordering van die Afrikaanse taal aangewys.
Afrikaans.com het gaan inloer by van die wenners om uit te vind wat hulle wenresep is om ons taal te bevorder en hoe hulle die toekoms van Afrikaans beskou.
Professor Michael le Cordeur

Professor Michael le Cordeur van die Universiteit Stellenbosch het geen bekendstelling nodig nie. Sy passie vir Afrikaanse streekstaal en sy navorsing in die vooruitgang van die taal en taalgemeenskap is merkwaardig. Ons deel graag sy menings en sienings…
“Afrikaans se toekoms het selde so blink gelyk.
Dis ’n taal waarin ons land se mooi geskiedenis opgeteken is.”
Watter betekenis dra hierdie toekenning?
Prof Neville Alexander was ’n taalkundige reus wat ’n enorme impak op die Suid-Afrikaanse taallandskap gehad het. As dosent aan die Universiteit van Kaapstad, en as hoof van PRAESA (Project for Research in Alternative Education in South Africa) het hy ‘n nalatenskap in taalonderrig agtergelaat wat nog nêrens elders in Suid-Afrika gesien is nie. Toe ek veel jonger was, het hy my saamgeneem vir ’n studieskool aan die Universiteit van Tutzing waar prof Alexander gestudeer en ook klasgegee het. Hy was ’n kampvegter vir veeltaligheid, ’n visie wat hy in sy persoonlike lewe uitgeleef het deur Engels, Afrikaans, isiXhosa en Duits vlot te kon praat. Hy word ook beskou as die vader van moedertaalonderrig in Suid-Afrika, veral oor sy standpunt van ’n moedertaalgebaseerde taal-in-onderwys-beleid. In Tutzing het hy ons geleer dat ʼn kind ʼn tweede taal vinniger en beter aanleer wanneer hy of sy ’n goeie begrip van die moedertaal het. Om dus die Neville Alexander Prestige-toekenning te ontvang, is ’n groot eer vir my, omdat dit my vir ewig vasbind aan die man wat vir my ’n inspirasie sowel as ’n mentor was.
Watter waarde dra toekennings soos dié van die ATM by tot bewusmaking van Afrikaans?
Hierdie toekenning dien as motivering vir my om my navorsing oor taal-in-onderwys-beleid voort te sit, en om voort te gaan met die bewusmaking oor die rol van Afrikaans as ’n instrument om ander mense te bemagtig om te wees wie hulle wil wees. Ek doen dit in die wete dat dit ’n lewenslange droom van prof Alexander was dat elke kind en student bemagtig word om in die taal van sy keuse onderrig te word. Prof Alexander was ook baie beslis dat jongmense (studente) nie voor ’n keuse gestel moet word om te kies tussen hul moedertaal OF Engels nie. Vir hom was dit altyd ’n geval van jou moedertaal EN Engels, omdat jy albei benodig in hierdie diverse land van ons. In ’n tyd waar ek self aan hierdie beginsel begin twyfel het, kom die toekenning op die regte tydstip sodat ek opnuut gemotiveer word om prof Neville se nalatenskap uit te leef.
Wat is u siening oor die voortbestaan van Afrikaans en hoe die taal in die toekoms sal lyk?
“Afrikaans se toekoms het selde so blink gelyk. Dis ’n taal waarin ons land se mooi geskiedenis opgeteken is.”
26 jaar gelede, net na Suid- Afrika ’n demokrasie geword het, het ek ’n artikel geskryf met die titel dat Afrikaans se toekoms selde so blink gelyk het. Ek huldig steeds daardie siening.
Vir my is dit belangrik om Afrikaans te posisioneer as ’n versoenende en ’n omgangsvriendelike taal. Dis ’n taal waarin ons land se mooi geskiedenis opgeteken is. Dis die taal waarin ek skryf en dig; waarin ek my kinders grootgemaak het. Dis die taal waarin ek my studente leer van Poppie Nongena, NP van Wyk Louw en Kanna wat hys toe gekom het. Dis die taal waarin die slawe hulself kon uitleef en uiteindelik hul vryheid in 1834 gekry het. Dis ook die taal waarin ek baklei vir menseregte, net soos ek in die jare 70 en 80 in Afrikaans teen apartheid in opstand gekom het, Afrikaans is die taal van die struggle, maar ook die taal van versoening. Die taal het soveel om te bied, as ons net die onderlinge twis kan omskakel na harmonie soos die mense van die Bo-Kaap al eeue lank gelukkig saam woon, al is hulle van verskillende kleure. Dis ’n taal wat mense kan saambind mits ons bereid is om mekaar se standpunte in te sien en respek vir mekaar se unieke verlede te toon. Afrikaans het oorloë, apartheid, kolonialisme en pandemies oorleef. Daarom is daar by my geen twyfel dat die taal net sterker en sterker sal groei nie. Afrikaans se toekoms het lanklaas so seker gelyk soos nou.
Waarom sou u sê is die bevordering van al die dialekte en variante van die taal so belangrik?
“Hoe anders sal ek hulle (die rymkletsers, blommeverkopers, vissermanne) verstaan as ek dan nou my taal afskeep? Daarom praat ons Afrikaans in my huis, want dit is dan dat ons met mekaar se harte kan praat.”
Dis ’n taal wat die ryke kultuur van ons mense verwoord soos die tradisies van sang, klopse en kerskore. Dis ook ’n taal waarin ons mense deur die eeue heen hul godsdiensvryheid beoefen het, onder andere die Koran wat in Arabiese Afrikaans vertaal is en tot vandag toe in die moskees gebruik word. Maar ook die vertaling van die Bybel in Afrikaans, het ’n energie losgemaak wat tot die eerste Afrikaanse koerante in die Paarl én Genadendal sou lei.
Die taal het ook gelei tot die eerste Afrikaanse skole in Dorpstraat, Kaapstad en in Dal Josafat in die Paarl, al het die kinders in daardie skole met verskillende tongvalle gepraat. Dis die taal waarin die massas op die Kaapse Vlakte rymklets; en die taal waarin Adam Small van die belangrikste letterkundige werke geskryf het: Dis die taal waarin die blommeverkopers in Adderleystraat hulle se blomme vekoep; die taal waarin die vistermanne van die Weskus hulle vis aan die hoogste bieër van die hand sit. Hoe anders sal ek hulle verstaan as ek dan nou my taal afskeep? Daarom praat ons Afrikaans in my huis, want dit is dan dat ons met mekaar se harte kan praat.
Gaireyha Fredericks

Gaireyha Fredericks, ongekunsteld met ’n passie vir Afrikaans en alles wat die taal kan bereik. As aktrise is sy vinnig besig om naam te maak vir haarself, maar terselfdertyd gebruik sy haar invloed om haar passie vir Afrikaans uit te leef. Ons deel graag haar menings en sienings…
“So as long as wat daa activists bestaan vir al die variasies van Afrikaans koester, sal Afrikaans se toekoms rooskleurig bly.”
Watter betekenis dra hierdie toekenning?
Die toekenning is ’n validation van harre wêk, deursettingsvermoë en onbaatsugtige toewyding. Oek ’n getuie vir my van my kinnes se sacrifices. Allie tyd wat ek soms van hulle moes weg om my en my medeskrywers se drome te bewaarheid. Ek staan elke oggend op en doen, dis al. Ek doen vir myself en whomever op my To-do-list dai dag is. Wether ek virre klein fooichie mentor, offe aspirantskrywer bemoedig, of ’n klas van 13 studente free Zoom- en WhatsApp-klas gee om leiding en onderstening innie vorm van werkswinkels te gie, dis wat ek doen. Die toekenning gaan vir my oek nou toegang kan gie tot die moontlikheid van befondsing kry, sodat ek nog meer kan doen en vele meer skrywers kan assist om hulle vlam wat brand annie lieewe te hou.
Ek sien baie wat wil skryf ma nie in hulle klein budgets ’n werkswinkel oek nog kan bekostig nie. So why must they be kept in the dark and excluded? Dis my vraag. Die gemarginaliseerde, voorheen onderdrukte skrywer en creative need ’n platform om in sy moedertong sy stories in te kan vertel. Is long overdue anyway. Die sogenaamde bruin skrywer issit al due way back when cos daar’s nog soveel wat moet ingehaal word, ommat wat hulle ken miniemul gehou was. En as die Kanon se gesig ’n kort exhale uitblaas wat nie eers die lang asem vani gemarginaliseerder accommodate nie, dan issit soes twee mense wat mekaa djaa, ma altwee move at the exact same pace. Da’s nie a chance ve inhaal nie.
Oek need da altyd iemand te wies wat hulle kan verwittig dat om te praat in moedertong issie dom en onnosel nie, soes gereeld maak belief, maar ’n volwaardige medium van kommunikasie en dat hulle naturally spiced is for storytelling. Eg en oulik en met sy eie flair en attitude. Dit laat my ook trots op myself voel en my efforts wat ek allie jare penniless moes maak, die moeite werd lyk. Die onderdrukte skrywer moet sien hoe moontlik dit truly is en leer wat dit gaan kos om hoogtes te bereik. Cos they really do not know! En as daar eerbewyse aan die antie af innie straat wat oek skryf toegeken word, word die moontlikhede tangible en real vir amal. Die toekenning represent hoop en validation en die reality dat daa is gems wat nog discover moet word.
Watter waarde dra toekennings soos dié van die ATM by tot bewusmaking van Afrikaans?
Ek’s ’n Kaapse digter. Ek skryf in my moedertong. Ek is eg aan my heritage en dit wat ek uit my lewensverhaal al van gedraw het. Daar’s baie aspirantskrywers wat nie wiet hulle mag skryf soes wat die taal hulle lippe verlaatie, mos nou ’n variasie van Afrikaans genoem, asof Afrikaans steeds al standaard is, in kan skryf nie. Onthou, Afrikaans is oek ’n variasie wat ontwikkel het uit kitchen Dutch en kombuistaal, gepraat deur die slawe inne mengelmoes van tale. Geskryf eeste in Arabiese-Afrikaans. Soe die toekenning validate diegene wat in hulle moedertong wil skryf en hul tradisionele en egte geskiedkundige stories wil neerpen. Dus is die tipe van toekenning by default ’n moeviese validation en billboard van erkenning en bewusmaking van dai djuiste feit!
Wat is u siening oor die voortbestaan van Afrikaans en hoe die taal in die toekoms sal lyk?
“So as long as wat daa activists bestaan vir al die variasies van Afrikaans koester, sal Afrikaans se toekoms rooskleurig bly.”
Ek hettie ’n crystal ball om tot innie toekoms te kykie, maar wat ek wel vesiekke wiet, ommat ek my oor constantly oppie spoor hou, is dat daar ’n verniewing van waardeering vir moedertong broei en oppie ground-level baie wêk gedoen wôd ommat die realization van validation nou ees rerag by Djan Alleman gedawn het. Is projects soes myne, Blaq pearl, Thami Mbongo, Baxter se Zabalaza festival en soeveel anne wat inclusive platforms skep.
Da is nog stram riete wat refuse om te buig, ma die majority het nou al dit in hulle koppe gekry dat as allie variasies validation kry, is wat hulle as ‘hulle Afrikaans’ sien oek safe virre voortbestaan. Dis die organisasies en individuals wat die onus op hulle self gevat het om inclusive te operate wat die pot bly annie roer hou. So as long as wat daa activists bestaan vir al die variasies van Afrikaans koester, sal Afrikaans se toekoms rooskleurig bly. Die toekoms van Afrikaans is eintlik eenvoudig innie hanne van opreg validate, nie condescending troos nie. Dan sal amal met een tong in different sounds een song sing en os finally ‘n koor vorm.
Waarom sou u sê is die bevordering van al die dialekte en variante van die taal so belangrik?
“Want die mense praat dai taal en dit is hulle sole form of communication, passed on in generations en hulle soul function innie taal. “
Ek dink ek’t soemma altwee die vrae, die een van boe en dié een met my vorage antwoord geklap, maar as ek maar dit vir jou moet net weer verduidelik, dan issit eenvoudig dit: Want die mense praat dai taal en dit is hulle sole form of communication, passed on in generations en hulle soul function innie taal. Elke mens moet kan express sy existence in sy moedertong en elke anne mens warrit aanhoor moet kan volwasse genoeg wies om te believe dis part van dai people’s heritage en opbrengs en dit te validate. Dai define intelligence in anyways. Os innie Suid-Afrikaanse konteks het al te veel verloor en gesacrifice om nog orie laaste chop te stry. Kommunikasie isse lifeline, djy krappie by dittie en djy weerhou oekie mense van dittie, want dan gaan djy ‘n famished nasie kry wat iet whatever hulle kry rondlê en dan ganie souls al hoe mee afgewater raak en dierlik vertoon, hence os current moraal in os land. Take from people en briek hulle af en hulle sal jou wys wat barbaars is. Validate mense en hulle nooi jou en shower jou met mooi customs en culture, want hulle voel gevoed en versadig.
Afrikaans in al sy vorme, variante en dialekte bly ’n passie en leefstyl wat elke dag uitgeleef moet word. Nes professor Le Cordeur en Gaireyha Fredericks, moet Afrikaans meer wees as net ’n taal … ons moet die bevordering van Afrikaans ons doel maak.
Namens Afrikaans.com wens ons die wenners hartlik geluk, en is ons trots om te sien hoe hulle hul liefde vir Afrikaans uitleef en nooit ophou skryf aan die toekoms van Afrikaans nie.