“’n Kookprogram met ’n verskil. PappaChef sit ’n kinkel in die konvensionele kookprogram.”
Grense word verskuif in hierdie Afrikaanse multimediavertoning wanneer radio en sosiale media saamspan. Van die grootste name in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf sluit elke week by Pieter Malan, bekende sjef en kospersoonlikheid van KykNET se Kokkedoor-faam, aan vir ’n kookervaring soos min.
Die volgende twee maande gaan verskeie dorpe getrakteer word op dié kookprogram met ’n verskil. Die PappaChef-toer, in samewerking met Afrikaans.com, sit ’n kinkel in konvensionele kookprogramme wanneer Pieter sy voorskoot vasmaak en sy potte en panne uithaal om saam met bekendes te klets en te kook.
Lek jou lippe af vir dubbele lekkerte!
Vir die eerste keer word radio en sosiale media saam ingespan en kan duisende luisteraars inskakel op hulle plaaslike radiostasie om na die manewales van hulle geliefde bekendes in die kombuis te luister. Die volledige video van die kosmakery kan ook op Afrikaans.com se webtuiste gekyk word – dus dubbele lekkerte om na uit te sien. Hou gerus die sosialemediablaaie dop om op hoogte te bly van gebeure in die PappaChef-kombuis. Tydens elke program, gaan daar gekook, gesels en gelag word … kosstories en geheime gedeel word … kortom, luisteraars en kykers gaan ’n heel ander kant van hulle geliefde bekendes ervaar en sommer ’n nuwe resep ook leer.
Op die spyskaart:
- Daar is agt episodes wat weekliks vanaf 19 Oktober tot 7 Desember 2020 op 21 plaaslike radiostasies uitgesaai word.
- Die programme is opgeneem voor ’n lewendige gehoor en word op Afrikaans.com se webtuiste gehuisves sodat mense agterna daarna kan gaan kyk.
- Verskeie gaste en plaaslike legendes neem deel.
- Daar sal elke week ook ’n insetsel wees wat fokus op toerismeaantreklikhede van die dorp wat besoek word.
- Elke episode word afgesluit met musiek deur die PappaChef-orkes, Havanna.
- Die aanbieder van die program is Pieter Malan, alias PappaChef en die kreatiewe regisseur is die akteur Francois Jacobs.
- Elke week se resep word op Afrikaans.com geplaas (klik op die blokkie hieronder).
- Elke week word daar ook ’n toekenning gemaak aan ’n plaaslike legende – iemand wat in en vir Afrikaans ’n bydrae maak. Hou gerus Afrikaans.com dop om meer van die legendes te wete te kom.
- Hierdie toer is ’n verlenging van die aanlyn PappaChef-programme waar bekendes soos Kurt Darren, Fatman, Nicholas Louw, Manie Jackson, Rubber DUC, Posduif, Hannes van der Walt en Pierre Nel, hul vernuftigheid agter die kospotte gewys het.
PappaChef-kombuis word moontlik gemaak deur B-well.
Lusmaker vir program
In die eerste episode ontmoet ons die akteur en musikant Altus Theart wanneer hy saam met Pieter wildsburgers maak. Die plaaslike onderneming waarop daar vandeesweek gefokus word, is Chippos – Jaco Dos Santos. Ontmoet die span hieronder en hou ons webtuiste dop vir episode 1!
Meer oor Pieter Malan

Pieter het bekendheid as sjef verwerf toe hy in 2019 aan die gewilde werklikheidsreeks, Kokkedoor op KykNET deelgeneem het en uiteindelik een van die top-3-deelnemers was. Deesdae is hierdie besige pa en eggenoot ook ’n seremoniemeester, motiveringspreker, radioaanbieder, professionele lid van die Suid-Afrikaanse Sjefvereniging, ’n geakkrediteerde SA Sjef-beoordelaar en ’n ontvanger van die gesogte Eat-Out-toekenning. Behoorlik ’n mondvol!
Pieter het al opgetree by bekende feeste, soos Aardklop, die Pretoria-fees en die Pekan-fees. In 2019 is hy ook tydens Aardklop deur die plaaslike radiostasie, Overvaal Stereo, as die mees inspirerende ikoon by die fees vereer.
Radiostasies
Skakel in op die volgende plaaslike radiostasies as jy wil deel in PappaChef se kombuisklets en -kook. Diegene wat oorsee woon, kan ook aanlyn inskakel en luister.