Legende vir die eerste episode!
Vandeesweek se legende is die alombekende Nelspruiter en media- en bemarkingsbestuurder van Innibos Nasionale Kunstefees, Sandra Jacobs. Afrikaans.com wou meer weet oor hierdie dinamiese vrou … Lees gerus verder.

Vanwaar Gehasi?
Ek is in die klein dorpie Ixopo gebore, het in Natal grootgeword, op Tukkies geswot (waar ek my man ontmoet het) en woon die afgelope 33 jaar in Nelspruit. Ek het drie kinders en vier kleinkinders.
Vertel meer oor jou betrokkenheid by Innibos.
Ek is die media- en bemarkingsbestuurder van die fees. Ek en Andy Lubbe, die feesbestuurder, het die fees 17 jaar gelede saam begin, en ons is nog steeds hier! Ons het ‘n bestuurspan van nog sewe mense en saam het dié span al die afgelope jare elke keer ‘n wonderlike fees op die planke gebring. Ons is reeds vyf keer as die fees van die jaar by die KykNET Fiesta aangewys (meer as enige ander fees in die land). Dit is te danke aan goeie menseverhoudings, ongelooflike borge, lojale feesgangers en ‘n span mense wat weet hoe om te werk en oorspronklik te dink!
Hoe beïnvloed die Covid-19-pandemie jul bedrywighede vanjaar?
Covid het ons, soos almal in die kunste- en feesbedryf, hard geslaan. Dit het ons egter gedwing om anders te dink: Ons het in ons normale tydgleuf in Junie ‘n digitale fees aangebied, wat goed ontvang is. Of die fees egter sal kan plaasvind in Desember (ons het die feesdatums in Junie na Desember geskuif (16 – 19 Desember) is nog ‘n ope vraag. Met die huidige inperking is dit onmoontlik, maar wie weet…
Hoekom moet mense Nelspruit en die fees besoek?
Waar’s dit lekker? Hier’s dit lekker! sê Emo in sy liedjie. Ek dink die fees is so gewild omdat daar regtig iets vir elkeen op die program is: Of jy nou 4 of 84 is, daar sal iets op die program wees wat jou pas! Woelwaters met kinderteater en aktiwiteite vir die kleingoed, ‘n heerlike teaterprogram, lekker musiek en kuier op die feesterrein, die Boeke-Crawl en skrywerspraatjies vir boekmense, die lys gaan aan… en die pragtige Laeveld is natuurlik altyd die moeite werd om te besoek.
Hoe voel dit om as legende aangewys te word?
Hahaha… oud! Nietemin – dis ‘n eer dat iemand dink ek het ‘n nalatenskap wat die moeite werd is. Ek is dankbaar vir die erkenning.
Enige staaltjies wat jy kan deel tydens verfilming van PappaChef?
Hoe almal my aangespreek het, was nogal ‘n ding: My seun, die akteur Francois (Jacobs), was regisseur op die stel. Hy noem my altyd spelenderwys “Moeder”. Pieter het probeer, maar hy kon nie anders as om my “Tannie” te noem in die onderhoud nie. Altus, wat die celeb- gas op stel was, het my “Ma” genoem. So, ek was alles behalwe Sandra op die PappaChef Show!! (Ag ek verkwalik hulle nie regtig nie – dis maar outydse boeremaniere!)
Jou gunstelinggereg – om te eet en om voor te berei.
Ek het ‘n soet tand – so enige nagereg is my dood. Ek hou van kosmaak, maar ek kan regtig nie bak nie. My man sê ek maak die beste omelette in die wêreld. Dis seker nie waar nie, maar ek voel gevlei deur sy die kompliment!
Enige verskuilde talent waarvan ander dalk nie bewus is nie?
In my jonger dae het ek gesing. Op Tukkies was ek as deel van die groep Trio Ses ATKV Crescendo-wenners! Dis many moons ago. Cor en Letitia Uys, wat vandag nog dikwels as Oom Karoolus en Lente optree, was ook deel van ons groepie van ses.
Wat is heel bo-aan jou kluitklaplys?
Ek het darem al heelwat goedjies afgetiek op daai lysie. Ek en my man is mal oor reis en ons het al ongelooflike plekke besoek. Iran, Rusland en Kuba is van my gunstelinge, en ek hoop om nog ‘n paar ongewone lande te kan besoek sodra die reisbeperkings opgehef word. Ons sou eintlik op hierdie oomblik in Azerbajan en Armenië getoer het. Covid het natuurlik ‘n stokkie voor daardie planne gesteek!
Ek het so twee jaar gelede die Visrivier Canyon gestap. Dis ongeveer 80 km oor klippe en sand… Dit was ongelooflik mooi, maar fisies vir my geweldig uitdagend, maar ek soek nog! Ek hoop om eendag die Camino de Santiago in Spanje te kan gaan stap.
Agter die skerms
Radiostasies
Skakel in op die volgende plaaslike radiostasies as jy wil deel in PappaChef se kombuisklets en -kook. Diegene wat oorsee woon, kan ook aanlyn inskakel en luister.