Kom loer saam met Afrikaans.com na hierdie maand se reeks kinderboeke! Jy kan kies en keur uit ’n wye verskeidenheid – van meer leer oor nuwe insekte, tot boeiende ontvoerings en rekenaarspeletjies wat ’n nuwe wêreld na vore bring. Daar is iets vir elke nuuskierige agie, wat sal maak dat hulle nie anders kan as om stil te sit en saam te lees nie!
Hierdie maand gee ons ook al ons jong lesers die geleentheid om te WEN! Stuur ’n WhatsApp met die woord “KINDERBOEK” sowel as jou naam en van na Afrikaans.com by 064 652 6873 en staan die kans om ’n boekpakkie met al ses die onderstaande boeke te wen. Skryf nou in en word deel van die boekwurmbende!

1
Ouma Hester en die Getaway-kar
Janie Oosthuysen, Alex van Houwelingen, Alistair Ackermann.
ISBN: 9780798180726
Uitgewer: Human & Rousseau
Zany Zack voer ‘n skrikbewind by VERI HAPPI KIDZ, die videospeletjiesfabriek. Met die hulp van vier bose oumas van die Huur-‘n-Ouma-agentskap word kinders ontvoer en gedwing om dag en nag te werk om nuwe speletjies uit te dink. Maar gelukkig is daar ook oumas soos ouma Hester, Tian en Lisa se ouma. Haar Getaway-kar se wapens skrik vir niks en Tian en Lisa leer hoe om elke vernuftige toestel te gebruik in hul stryd teen die bose oumas. Saam beleef hulle woeste gevegte, jaagtonele, en hope naelbyt-spanning en -aksie. Die vakansie by ouma Hester gaan beslis onvergeetlik wees!

2
Jungu Josh 1: Die goue kalbas
Constant van Graan
ISBN: 9780624090779
Uitgewer: Tafelberg Uitgewers
Josh woon by sy tannie op ‘n plaas in Oos-Afrika nadat sy ma skielik verdwyn het. ‘n Vreemdeling daag op en probeer hom ontvoer. Doris, die huishulp, red hom. Sy vertel hom dat ‘n groep mense sy bloed soek en dat hy in die vallei, Kalimbula, die wyseman, Ngandu, moet gaan spreek om antwoorde te vind. Josh pas die legkaartstukkies van sy ma se verdwyning stadig bymekaar, maar toe die goue kalbas oopgemaak word om die naam van die troonopvolger te onthul, kry Josh die verrassing van sy lewe . . .

3
Ontdek: Insekte
Laurence Mound
ISBN: 9780798181105
Uitgewer: Human & Rousseau
Hierdie boek gee nuuskierige agies ‘n kans om in detail alles oor insekte te leer, met ongelooflike foto’s wat daarmee gepaardgaan. Die inhoud dek onder andere die dele van ‘n insek, wat ‘n insek is, die eerste insekte, kewers, vlieë, skoenlappers en motte, wespe, bye en miere, ander insekte, vyande, insekte in die water, hoe neste gebou word, miere, heuningbye en korwe, en meer. Die boek sluit af met ‘n Het jy geweet?-afdeling, insekklassifikasie, plekke om te besoek én ‘n woordelys.

4
Bitterbosbende 1
Die geheim van die nuwe hoof
Anzil Kulsen, Stephen Wallace
ISBN: 9780624090434
Uitgewer: Tafelberg Uitgewers
Kurt, sy suster Nieke en hul maats is in graad 5 in Laerskool Bitterbos, en bly in die koshuis. Die nuwe skoolhoof waai soos ‘n yskoue onweerswind by die eerste saalbyeenkoms in. Daar’s ‘n NW-taak wat moet klaarkom, as groepwerk! Toe Kurt-hulle se idee vir ‘n sonkragoondjie TE goed werk en hulle ‘n mini-ontploffing in die vierkant veroorsaak, word hulle na die hoof se kantoor ontbied – met verrassende gevolge …

5
Eisteddfod-pret 2
Nog gedigte, monoloë en samesprake vir die laerskool
Gloudine Kellerman, Jonelle du Toit, Tumi Steyn
ISBN: 9780798180245
Uitgewer: Human & Rousseau
Hierdie versameling van 108 oorspronklike gedigte, 24 monoloë en 20 samesprake volg op die baie suksesvolle eerste titel in die reeks en is weereens perfek geskik vir laerskoolleerders. Elkeen van hierdie werke het die potensiaal om die hoogste punte by ‘n eisteddfod te verwerf. Louise Lachenicht se riglyne vir ouers, onderwysers en afrigters – met ‘n fokus op gedramatiseerde poësie – verseker dat elke deelnemer hul beste werk kan lewer.

6
Kies-jou-avontuur: Die gevaarlikste speletjie op aarde
De Wet Hugo, Johann Strauss
ISBN: 9780798180696
Uitgewer: Human & Rousseau
Mario is die skool se rekenaarspeletjie-kampioen. Maar wanneer hy deur ‘n eienaardige nuwe speletjie weggevoer word na die kuberruim, moet hy veg om sy lewe. ‘n Geheimsinnige wese genaamd Gigabyte verduidelik dat hy na die sewe wonders van die antieke wêreld moet reis om ses goue muntstukke te vind, voordat hy kan terugkeer huis toe. Lewensgevaarlike uitdagings wag op hom . . .
‘n Kies-jou-eie-avontuur-storie propvol avontuur en naelbyt-aksie!
Hierdie boeke sal ‘n wonderlike geskenk wees …..as juffrou in die grondslagfase ,is boeke ons lewe!
Baie dankie dat jul afrikaanse boeke beskikbaar stel
My kind is n regte agie en Wil altyd weet van insekte dit lyk na vetpret book en vreeslik leersaam.