Weens die skole wat vanjaar later as verwag oopmaak, is daar besluit om die sluitingsdatum van die Skilder-met-woorde-kompetisie uit te skuif na 31 Maart 2021.
jy sê daar’s ’n man
wie se woorde ek moet verf
hy loop vooruit… soos Silver de Lange
dis hoe my stories vlerke kry
Die liedjieboer en vader van Afrikaanse rock ’n roll, Anton Goosen, het oor die jare Suid-Afrikaners se harte met sy kleurryke lirieke en sielvolle musiek gesteel. Na meer as 30 jaar neurie ons steeds saam met tydlose treffers soos Waterblommetjies, Jantjie en Trompie – almal uit die pen van dié legende.
Sowat drie jaar gelede het die kunstenaar Elsie Jooste begin om van Anton se bekendste liedjies op houtkitare te skilder. Op ’n unieke manier het sy, sonder woorde, klanke of frases, gestalte gegee aan die kleurryke lirieke wat Anton se musiek kenmerk.
Nou is dit jou beurt om jou slag met die kwas te wys! Afrikaans.com het met Anton en Elsie saamgespan vir die Afrikaans.com- Skilder met Woorde-kompetisie waar jy en jou skool gróót kan wen. Met hierdie kompetisie word daar nuwe lewe geblaas in van Anton se bekendste liedjies deur skoolleerders uit te daag om sélf van sy liedjies te skilder.

Hoe werk die kompetisie?
Met die Afrikaans.com- Skilder met Woorde-kompetisie daag ons skoolleerders uit om een van die volgende liedjies deur Anton Goosen te skilder:
- Jantjie
- Hanoverstraat
- Waterblommetjies
- Umfaan
- Harlekyn
- Trompie
- Straattroebadoere
- My Stellenbosse nonnatjie
Klik hier om die lirieke van die liedjies af te laai.
Stuur ’n hoëresolusie foto van jou kunswerk aan Afrikaans.com by myafrikaans@afrikaans.com met jou naam, van, graad, die naam van jou skool, asook die naam van die liedjie waarop die kunswerk gebaseer is, daarby.
Inskrywings open 5 Oktober 2020 en sluit 31 Maart 2021. Wenners sal in die eerste week van April 2021 aangekondig word.
Vir die volledige kompetisiereëls en bepalings en voorwaardes, klik hier.
Wat kan jy wen?
Deelnemers kan uitsien na kontantpryse ter waarde van R22 000. Die volgende individuele pryse is op die spel:
- 10 finaliste: R500 vir elke finalis
- Top 5-inskrywings: R1000 elk
- Eerste prys: R2000 (Die skool waarin die betrokke leerder is, sal ook wegstap met R10 000)
Meer oor Anton Goosen
Anton Goosen, die vader van Afrikaanse rock en roll, is gebore op 5 Maart 1946 en het grootgeword in die Vrystaat. Na skool het hy onderwys studeer en vir ’n paar jaar skoolgehou, voordat hy die onderwys ’n paar jaar later vaarwel geroep en hom ten volle op sy musiekloopbaan toegespits het. Van die bekendes vir wie Anton liedjies geskryf het, sluit in Sonja Herholdt, Carike Keuzenkamp, Laurika Rauch, Richard Clayderman, Francis Goya en Koos Kombuis. Van die mees bekende liedjies uit sy pen is Waterblommetjies, Jantjie, ’n Brief vir Simoné en Boy van die Suburbs.
Anton se lewensverhaal, Liedjieboer, uit die pen van die bekende joernalis Hanlie Retief, is ook onlangs bekendgestel. Hierin vertel hy van sy grootwordjare in die Vrystaat, sukses en roem, sy lewe op die langpad, die Musiek-en-Liriek-era, die hoogtepunte en teleurstellings langs die pad en sy lewe teen die stroom op.
Skilder met Woorde
ons speel met kitare
sonder snare…
die jare spoel verby
steeds word ons gelei
dis maar hoe die beeste loop.,.
almal in ’n ry
jy sê daar’s ’n man
wie se woorde ek moet verf
hy loop vooruit… soos Silver de Lange
dis hoe my stories vlerke kry
ek is soos ’n kind
wat rondspeel in sy brein
van “jantjie” tot “swart water”
speel my kwas met kleur
ek loop langs hom
in die veertig jaar van sy stories
geen hoofletters
geen morfologie
geen anatomie
geen geneuk
maak ek my oë oop…
ek luister
ek besef
ons afrikaanses, lig en donker
sing nog al die woorde op die stoep
dis waarop ons leef
dis waaroor hy skryf
ek wens jy kon die verf sien olla …
die skilder van sy woorde
- Elsie Jooste