In hierdie podsendingreeks gesels Afrikaans.com met merkwaardige persone binne die Afrikaanse leefwêreld. Ons bied jou ’n blik op jou gunstelingbekendes op maniere soos jy hulle nog nooit vantevore kon leer ken nie, en stel jou ook bekend aan nuwe name, projekte en idees.
In hierdie episode gesels aanbieder Edwin van der Walt met die geliefde aktrise, skrywer en spreker, Milan Murray. Hulle gesels oor:
Aktrise-wees, ma-wees en skrywer-wees.
Depressie en wat sy oor die afgelope 45 jaar daaroor geleer het.
Haar nuutste produksies en die toekoms van die kunste.
Milan se kinderboek-onderneming.
Waarom sy haarself nie as ’n ‘’influencer’’ ag nie.

Milan Murray is ’n aktrise, sakevrou en skrywer en die eienaar van die gewilde kinderboek-uitgewery, Murray & Me. Sy is ook bekend vir reekse, rolprente en teaterwerk in produksies soos Isidingo, Mooirivier, Die Boekklub en Die Byl. Milan is getroud met Schalk van der Merwe. Hulle het twee kinders, Steph en Lua.

Edwin van der Walt is ‘n akteur, aanbieder en entrepreneur. Sedert hy vir die eerste keer gehore se harte in 2014 in die romantiese komedie, Hollywood in my Huis, gesteel het, het ‘n rits lokettreffers gevolg. In films soos Jagveld, Wonderlus, Ballade vir ‘n Enkeling en Die Pro het hy sy diversiteit as kunstenaar ten toon gestel en die respek van die industrie sowel as aanhangers gewen. Dit is egter die man agter die karakters, Edwin self, wat deesdae groot golwe maak. Onder sy vriende, en nog meer onder die publiek, word hy geken as ‘n persoon wat verbetering van self en van ander voorop stel. Edwin leef sy passie hiervoor ook uit op die platform Novieguide , waar ‘n verskeidenheid aanlyn kursusse gekoop kan word.