Hierdie maand gee Afrikaans.com jou ’n kykie na van NB-Uitgewers se splinternuwe digbundels. Van Antjie Krog se oeuvre tot die nuutste poësie uit die penne van die bekroonde Nathan Trantraal en Johann de Lange; daar is iets vir almal! Laai gerus hieronder ’n gratis uittreksel uit elke digbundel af en word deel van Afrikaans.com se leesgemeenskap.

1
‘n Vry vrou: Gedigte van Antjie Krog
Antjie Krog, Karen de Wet
ISBN: 9780798180511
Uitgewer: Human & Rousseau
Krog is ’n internasionaal gerekende digter maar ook plaaslik geliefd. Vyftig jaar ná haar opspraakwekkende debuut, Dogter van Jefta, verskyn daar ’n splinternuwe versameling waarin meer as honderd gedigte uit haar elf bundels saampraat. Verse oor eerste liefde, oor moederskap, oor die landskap, en oor onreg; oplaas ook oor ouer word.
‘n Vry vrou bevat gunstelinge uit Krog se oeuvre, maar ook minder bekende dog ewe verrassende verse. Saamgestel deur Karen de Wet, kenner van Krog se oeuvre.

2
Vers & vrou: 258 gedigte
Karen de Wet
ISBN: 9780798180665
Uitgewer: Human & Rousseau
’n Versameling gedigte oor vroue, deur vroue, vir vroue – en vir dié wat met vroue leef.
Lees oor beroepsvroue en huisvroue, verliefde, geliefde en ontnugterde vroue, vroue met kinders en sonder kinders, vroue wat in die kalklig staan en vroue wat deur grense breek. In dié boek word die heelal beskou deur ’n vroulike blik. ’n Bloemlesing om aan te gee vir ’n vriendin of ’n suster, vir ma’s en vir dogters, vir geliefdes – omdat ons almal ’n bietjie so is, en ook nié so is nie.

3
Pienk ceramic-hondjies
Ryan Pedro
ISBN: 9780795709869
Uitgewer: Kwela
In Ryan Pedro se debuutbundel kom ’n sterk nuwe stem aan die woord in roerende gedigte wat dikwels uit die oogpunt van ’n bruin seun op ’n plattelandse dorp aangebied word. Die kompleksiteite van identiteit, ras, klas en opvoeding word ondersoek deur dié seun se beweging tussen verskillende wêrelde binne sy eie familie en binne die kleindorpse opset. Dit word in die taalgebruik in die bundel weerspieël deur ’n wisseling tussen variëteite. ’n Onderverteenwoordigde ervaringswêreld word oopgeskryf.

4
Die meeste sterre is lankal dood
Johann de Lange
ISBN: 9780798181235
Uitgewer: Human & Rousseau
Die meeste sterre is lankal dood is die bekroonde digter Johann de Lange se dertiende bundel. Dit bestaan uit ses verskillende afdelings, deurgaans gewy aan vlietende oomblikke vasgevang in ‘n vers (“om met woorde die onsegbare te sê”). Die bundel het ‘n elegiese toonaard, en word oorheers deur ‘n bewustheid van verlies en verganklikheid, van “inskaduwings van die lig”. Verse oor die skryfproses figureer as teenvoeter vir die verbygaande aard van mens wees. Dit is verse vir “my mooi dooies”. In “Oggendmusiek” beskryf die digter ‘n vroegoggendkoor van voëls voor sonsopkoms, elders ‘n koorddanser, voetjie vir voetjie oor die spantou. Soos in sy vorige werk is die erotiese verse ‘n hoogtepunt in die bundel, bv. in “Ode aan die mielie”: “Nét so, nog aan die oggend — tussen die syige bene van die dag — staan hy, volryp, pittig & reg.”

5
Bientang
Jolyn Phillips
ISBN: 9780798180948
Uitgewer: Human & Rousseau
Van Bientang het net die naam van ‘n restaurant in Hermanus oorgebly: Bientang’s Cave, asook ‘n weggooi-opmerking: die laaste Strandloper. Uit hierdie gegewens sny die digter se verbeelding spoor in ‘n kontra-epos. Wie was Bientang? Te midde van historiese geskrifte, kontemporêre angste en oorlewerings, verskyn buitelyne om haar vir oomblikke binne bereik te bring. Die toonaard van die bundel is egter verlies oor ‘n verlede wat geen spoor laat in die opgeskryfde geskiedenisse van die land nie.

6
Rooiborsduif: Gedigte oor die liefde
Breyten Breytenbach, Charl-Pierre Naudé
ISBN: 9780798178761
Uitgewer: Human & Rousseau
’n Oorsig van Breytenbach se digkuns is ‘n voëlvlug oor die jare sestig tot vandag, waarin beide Europa en Afrika hulself radikaal geherdefinieer het. Die gedigte is chronologies gerangskik volgens die digter se lewensgang: jongmenslewe in Kaapstad, Parys, bannelingskap weens sy huwelik, terugkeer en tronkstraf, die buiteland. En oplaas ’n pendelaarslewe tussen noorde en suide van die aardbol, waarin tuiskoms slegs in die arms van die liefde is.

7
Uit die kroes
Lynthia Julius
ISBN: 9780795709531
Uitgewer: Kwela
In Uit die kroes word die Noord-Kaapse leefwêreld opgeroep in verse wat Namawoorde op verrykende wyse inkorporeer. Dit bevat gedigte wat die sentrale dog geringgeskatte rol van die bruin vrou in die Suid-Afrikaanse geskiedenis belig. Ook die hedendaagse posisie van die jong bruin vrou word bekyk – hoe daar byvoorbeeld steeds teen wanpersepsies oor ras en skoonheid gestry word.
Jy dra jou kroes hare so laat mense kan sien
Glad alleen beteken nie mooi nie.

8
Oolog
Nathan Trantraal
ISBN: 9780795709517
Uitgewer: Kwela
In Oolog word stryd, konflik en oorlogvoering op verskeie vlakke ondersoek – nie net met verwysings op ’n nasionale en internasionale skaal nie, maar veral in die beskrywing van intieme, persoonlike ruimtes. Die realiteite van die Kaapse Vlakte word oopgeskryf.
Met sy narratiewe verse, geskryf in verrykende Kaaps, vertel Trantraal stories wat dikwels met ’n vuishou in die verrassende slotreëls tref. Hierdie gedigte is vindingryk en vreesloos, met donker humor maar nie sonder deernis nie.

9
Chinatown
Ronelda Kamfer
ISBN: 9780795709500
Uitgewer: Kwela
In die bekroonde digter Ronelda Kamfer se vierde bundel, Chinatown, bied sy opnuut poësie met ’n emosionele slaankrag wat die leser nie onaangeraak sal laat nie. Geslagspolitiek word ondersoek deur ’n vrouestem wat opklink teen die patriargie. Verwysings na ’n gebroke verhouding tussen pa en dogter kom deurlopend voor. En kwessies wat deel vorm van die huidige sosio-politieke diskoers – vrouemishandeling, rassisme en armoede – kom aan die bod, maar word met ’n diep menslikheid hanteer

10
Kryt
Hennie Nortjé
ISBN: 9780795802065
Uitgewer: Queillerie
In Hennie Nortjé se tweede digbundel (na die bekroonde In die skadu van soveel bome) kom die bokskryt van die menslike kondisie aan bod in ingehoue, subtiele en dikwels wrang humoristiese verse. Kryt bewoord die uitwissing van eras (soos die Kryttydperk); die impak van katastrofes op die heelal; die uitlewering van die mens aan bedreigings (onder meer die aanslag van bordkryt, en die uitkrytery tussen bevolkingsgroepe); die verbystering oor die skoonheid en wonders van die natuur; en die drang van die klein skepper om in die kryt te tree teen Tyd se sloping deur middel van kunsskepping. Geologiese, ekologiese en natuurhistoriese temas word vooropgestel, sowel as gedigte oor die natuur en kunstenaarskap wat lesers van sy vroeëre werk na aan die hart sal lê.