“Sy liefde en ywer vir Afrikaans as moedertaal vir bruin, wit en swart Suid-Afrikaners was helder en duidelik. Sy leierskap en passie vir Afrikaans en sy gemeenskappe sal gemis en met waardering onthou word.”
– Dr. Theuns Eloff, voorsitter: Dagbreek Trust
Dit is met groot hartseer dat Afrikaans.com verneem het van die dood van dr. Danny Titus. Dr. Titus is Vrydag, 18 September 2020, oorlede nadat hy sedert einde Julie in ’n koma was nadat komplikasies tydens ’n operasie ingetree het. Hy was 63 jaar oud.
Dr. Danny Titus
(Foto: News 365)
Dr. Titus was ten tyde van sy dood, voorsitter van die DAK-netwerk – ’n organisasie wat hom beywer vir die agtergesteldes in die Afrikaanssprekende gemeenskappe en deur sy naam hulde bring aan die geskiedkundige Khoisan-figure, Doman, Autshomao en Krotoa. Sê Danie van Wyk, waarnemende voorsitter van die DAK-netwerk: “Ons by DAK het veel om vir dr. Titus dankbaar te wees, waarvan die idee vir hierdie organisasie die belangrikste is. Dr. Titus se verbintenis tot die bewusmaking en koestering van bruin mense se identiteit en kultuur spreek duidelik hieruit.”
Dr. Titus was tot vroeër vanjaar uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede by die ATKV, voordat hy einde Mei na 12 jaar by die organisasie, afgetree het. Tydens sy jare by die ATKV het hy hom beywer vir taal en kultuur. Besturende direkteur van die ATKV-MSW, Sonél Brits, het die volgende oor dr. Titus gesê: “Saam met die ATKV het hy Afrikaans toegankliker en inklusiewer gemaak en hiervoor sal hy onthou word. Sy leierskap, integriteit en empatie sal my altyd bybly – hy was die regte man op die regte tyd. Sy afsterwe laat ’n groot leemte.”
Dr. Theuns Eloff, voorsitter: Dagbreek Trust, het die volgende oor dr. Titus gesê: “Ek het Danny Titus die afgelope dekade of so beter leer ken – nie net as ’n menseregteaktivis nie, maar ook as ’n taalaktivis. Sy liefde en ywer vir Afrikaans as moedertaal vir bruin, wit en swart Suid-Afrikaners was helder en duidelik. As ’n Afrikaanse taalleier het hy in gereelde gesprekke wat die Dagbreek Trust gereël het, ook taalversoening bepleit en bevorder. Maar hy het ook die daad by die woord gevoeg – hy was tot die einde aktief betrokke by die DAK-netwerk. Sy leierskap en passie vir Afrikaans en sy gemeenskappe sal gemis en met waardering onthou word. Ons dank die hemelse Vader dat Danny Titus aan die Afrikaanse taal en gemeenskap geleen is.”
Me. Astrid de Vos, uitvoerende trustee van die Dagbreek Trust het gesê dat die Trust baie hartseer is oor dr. Titus se afsterwe – iemand wat sy as ’n wonderlike kollega en vriend beskryf. “Persoonlik sal ek hom baie mis.” Sy het die volgende boodskap vir sy dogters: “Ek hoop julle vind troos in die fantastiese bydrae wat hy tot versoening in Suid-Afrika gemaak het en die verskil wat hy gemaak het op soveel ander plekke. Hy was ’n rots en steun.”
Regsman, taalman, historikus, meningsvormer … en omgeemens
“Dit is belangrik om trots te wees op jou herkoms, op wie en wat jy is en op jou ouers. Waar ons geskei is in die verlede oor ons verskille, is nou die geleentheid om ons verskille te gebruik as deel van die eenheid van die land. Bruin mense moet besef ons is ’n klein onderdeel in hierdie magtige masjien. Belangrik miskien, maar steeds ’n klein onderdeel.” – Dr. Danny Titus, 2016
Dr. Titus se nalatenskap strek oor kleurgrense heen en hy sal onthou word as ’n groot gees en kampvegter vir die Afrikaanse taal en gemeenskap … iemand wat hom beywer het vir groter begrip en inklusiwiteit. Hy het tydens sy lewe talle lewens aangeraak en het die moed van sy oortuiging gehad om ’n daadwerklike verskil te maak. Volgens hom het apartheid veroorsaak dat ons vreemd vir mekaar geword het, maar nou dat dit verby is, “moet ons die geleenthede aangryp om weer bekend met mekaar te word … dikwels kom ons agter daar is meer wat ons verenig as wat ons verdeel.” Tydens sy 12 jaar by die ATKV het dr. Titus hom daarop toegespits om as mentor vir die jonger bestuurders op te tree. Hy sê dan ook by geleentheid: “Hulle (jongmense) het ’n enorme bydrae wat nie misgekyk moet word nie. Hulle wil ’n verskil maak en nie juis met ouer mense se bagasie opgeskeep sit nie.”
Dr. Titus verwerf in 1982 sy BA LL.B. aan die Universiteit van die Wes-Kaap. In 1983 word hy toegelaat as advokaat van die hooggeregshof van Suid-Afrika en werk ook as staatsaanklaer by die Departement van Justisie. In 1987 kry hy die geleentheid om sy studies voort te sit aan die Universiteit van Leiden in Nederland waar hy sy meestersgraad en uiteindelik sy doktorsgraad verwerf. Hy keer in 1993 terug na Suid-Afrika waarna hy professor in strafregpleging en menseregte aan Unisa, asook vise-dekaan van die Kollege vir Regsgeleerdheid was. Vanaf 2009 tot 2016 beklee hy die pos van deeltydse kommissaris by die Menseregtekommissie en vanaf 2012 tot 2015 tree hy ook op as raadgewer by die Verenigde Nasies in die veld van inheemse nasies se menseregte.
“In ’n breër sin het dr. Titus ook die belangrikheid van onderlinge gesprekvoering in die Afrikaanse gemeenskappe bevorder, onder meer deur projekte soos ’n Waarheid-en-Versoeningsberaad oor Afrikaans se verlede en ’n opvolggesprek hieroor by vanjaar (2020) se Woordfees.” Aldus Danie van Wyk.
In Februarie vanjaar het dr. Titus as deel van sy geboortedorp, Worcester, se 200ste bestaansjaarvieringe die Freedom of the Town ontvang – ’n toekenning waarop hy baie trots was.
Afrikaans.com betuig ons innige medelye met dr. Titus se twee dogters, Daléne en Neriska, asook sy uitgebreide familie.