Die kunste is die hartklop van die samelewing.
Hulle skryf ons stories, en maak ons heel.
Die Covid-19-pandemie en gevolglike inperking het ’n groot impak op die ekonomie en die sakewêreld gehad. Een van die industrieë wat die hardste getref is, is die vermaaklikheidsbedryf. Skielik was konsertsale en teaters leeg en was daar ook geen toeskouers nie.
Dink net ’n bietjie… Elke Suid-Afrikaner het sy/haar gunstelingliedjie, -fliek of -boek. Of jy nou daarvan hou om skelm te dans op Rock daai lyfie, of ‘n sepieverslaafde is, ons almal geniet die kunste, en vorm deel daarvan.
Die Tribuo-fonds hoor elke vryskutkunstenaar se stilte en wil ‘n verskil maak.
Meer oor die Tribuo-fonds
Die Tribuo-fonds is ‘n privaatfonds wat spesifiek gestig is om vryskutwerkers wat hul inkomste as gevolg van die Covid-19-inperkingsmaatreëls verloor het, finansieel by te staan – ook ná afloop van die inperkingstyd. Die vennote, wat elkeen ’n belang het in die uitvoerendekunstebedryf in Suid-Afrika, en by die Tribuo-fonds betrokke is, is: Die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), kykNET, die Feesteforum, Aardklop, Innibos, KKNK, Suidoosterfees, Vrystaat Kunstefees, Woordfees en Brand Republic.
Die fonds sal as ’n nood- hulpverleningsfonds bestuur word tot einde Desember 2020. Die fonds sal uit verskillende siklusse bestaan en na gelang van die hoeveelheid geld wat ingesamel word, kan dit in fases aangewend word.
Volhoubare ondersteuning in die vooruitsig
Hoewel die Tribuo-fonds spesifiek opgerig is om tydens die pandemie hulp aan kunstenaars te verleen, sal die fonds in 2021 herevalueer word, en sal gepoog word om die fonds te laat voortbestaan om sodoende volhoubare ondersteuning aan vryskutwerkers binne die bedryf van die uitvoerende kunste te bied.
Hoe kan jy deel word en ’n bydrae maak?
Die skenking aan die Tribuo-fonds is maklik en enige persoon kan bydra. Omdat dit ’n niewinsgewende maatskappy is, is die fonds se hooffokus om kunstenaars te help. Daar is geen minimum of maksimum bydrae nie, en die volle bedrag van donasies word aan die kunstenaars geskenk. Die skenkings is ook aftrekbaar van belasting en kwalifiseer vir ‘n Artikel 18-A-belastingsertifikaat. Om ’n skenking te maak, kan jy gerus die webtuiste besoek: https://www.tribuo.co.za/tribuo-fund-donations/ en direk ‘n donasie gee, of stuur ‘n e-pos aan info@tribuo.co.za.
Kwalifiseer ek vir hierdie fonds?
Indien jy bo die ouderdom van 21, ’n permanente inwoner van Suid-Afrika en ’n vryskutkunstenaar is, of op ’n nie-permanente basis aangestel is, is hierdie fonds vir jou.
Jy moet ook:
- Jou belastingnommer verskaf;
- Bewys kan lewer dat jy nie oor die afgelope maande meer as R10 000 in hulptoelae ontvang het nie;
- Kan bewys dat jy die res van die jaar nie geleentheid vir optrede het nie.
Die fonds fokus op befondsing vir musikante, dansers, tegnici, skrywers, regisseurs, choreograwe en ander personeel wat dit moontlik maak om werk op die planke te bring, maar is ook nie beperk tot die bogenoemde nie. Elke situasie is uniek, en daarom wil hulle graag van jou hoor.
Hoe doen ek aansoek?
Vul die aansoekvorm in op die Tribuo-fonds se webtuiste, of kontak hulle vir meer inligting rakende die keuring of uitbetalingsproses. Daar sal van die aansoeker verwag word om inligting te verskaf oor verlore geleenthede as gevolg van die grendeltydperk, asook skakels na van sy/haar vorige werk/optredes. Jy moet ook bewys kan lewer dat jy ’n kunstenaar is, of deel vorm van die tegniese personeel, asook jou langdurige betrkkenheid by die kunste.
Hoe word fondse toegeken?
Die keuringsproses en toekenning van fondse geskied anoniem. Jy sal na veertien dae vanaf die sluitingsdatum in kennis gestel word indien jou aansoek suksesvol was, en die geld binne veertien dae nadat jy in kennis gestel is, ontvang.
Ons kunstenaars maak ’n enorme bydrae tot die voortbestaan van die kunste. “Hulle hoor wat jy nie sê nie, en sien wat jy nie besef nie. Hulle gee betekenis aan woorde, en maak musiek in jou ore.”
Kom ons gee ons hart opnuut vir die kunste en maak ’n bydrae om ons kunstenaars te help om ons leefwêreld in te kleur soos net hulle kan.