Die Afrikaanse Taalraad het onlangs hul nuwe direksie bekendgestel. Elkeen van die direksielede is veelsydig, woordryk en lief vir Afrikaans en met loopbane wat getuig van ’n onstuitbare passie vir die opbou en vooruitgang van Afrikaans.
Die 2021 direksie lyk soos volg: Michael Jonas (voorsitter), Annelise de Vries (ondervoorsitter), Anzil Kulsen, Sinki Mlambo, Karien Brits, Alana Bailey, Louis du Plessis (herverkies tydens die AJV op 29 Aug 2020), Japie Gouws, Aäron Messelaar en Frank Hendricks. Ons vertel jul graag meer oor enkele van hierdie lede … lees saam!

Michael Jonas is gebore in Stellenbosch en voltooi sy skoolloopbaan in die mooi dorpie Cloetesville. Hy begin sy naskoolse onderrig aan die Universiteit Stellenbosch waar hy sy BA-graad in Geesteswetenskappe verwerf, gevolg deur ’n nagraadse diploma in Museumkunde en ’n meestersgraad in Museum- en Erfenisstudies aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
Hy was vir meer as 21 jaar by die sub-direktoraat Museumdienste, wat deel vorm van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, werksaam. Sedert 1 Junie 2016, beklee Michael die posisie as hoof- uitvoerende beampte van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument waar hy verskeie rolle vervul, onder andere die bestuur van aktiwiteite, werkswinkels, strategiese beplanning vir instellings en opvoedkundige projekte.
Hy dien ook op verskeie direksies, soos onder andere as voorsitter van die Historium Trust, direksielid van die NuU-museum in Lübeck, Duitsland, asook direkteur van die CJ Langenhoven-Gedenktrust.

Frank Sylvester Hendricks is ’n kranige taalkundige en spesialiseer in sintaksis, variasietaalkunde en naamkunde. Sedert 1979 en tot met sy aftrede in 2017, was hy as professor verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Wes-Kaapland. Tans dien hy as emeritus-professor by die universiteit.
Frank Hendricks se voorliefde vir Afrikaans, asook Kaapse Afrikaans, kan gesien word in sy lewenslange bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans en sy variante. In 1978 verwerf hy sy MA-graad in Afrikaans en Nederlands met die verhandeling: ʼn Sinchronies-diachroniese studie van die taalgebruik in die drama ‘Kanna hy kô hystoe’ van Adam Small en in 1988 verwerf hy sy doktorsgraad met die proefskrif: Prolepsis in Afrikaans. Hy is ook mederedakteur van die publikasie Kaaps in Fokus wat in 2019 met ‘n Engelbrechtprys vir Taalkunde bekroon is. Saam met sy aftrede in 2017, publiseer hy ook Taalkundige essays: ’n gerf uit die vroegskemer.
Frank Hendricks se fokus is op die bewaring, opheffing en bevordering van Afrikaans. In 2019 ontvang hy dan ook ’n Kokertoekenning van die Afrikaanse Taalraad vir sy bydrae in die verband. Hy dien op verskeie liggame en is ook ondervoorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy was ook betrokke by die totstandkoming van die elfde uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls.

Alana Bailey is gebore en getoë in Krugersdorp waar sy matrikuleer aan Hoërskool Monument. Sy verwerf ’n meestersgraad in Historiese en Erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria. Tans beklee sy die rol as hoof van Afriforum se Kultuursake en is sy uitvoerende hoof van Kraal Uitgewers (Eiendoms) Beperk. Sy is ook ’n talentvolle en bekroonde kinderboekskrywer. Haar boek, Die Prinses van die Afrikavlaktes, wat in 2007 gepubliseer is, is met ’n ATKV-Woordveertjie en die Tienie Hollowaymedalje vir Kleuterliteratuur bekroon. Maar, haar passies strek verder en sy hou besonder baie van reis, die geskiedenis en lees. Haar hart klop warm vir Suid-Afrika en sy mense.

Annelise de Vries is ’n ywerige taalbeplanner en forensiese linguis. Sy is boonop ’n taalaktivis van formaat en fokus op die bevordering van linguistiek binne die Suid-Afrikaanse omgewing. Sy het haar doktorsgraad in toegepaste linguistiek verwerf en is verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, waar sy ’n navorser in arbeidsverhoudinge is.

Aaron Martin William Messelaar, is gebore in 1965 in die mooi dorpie van Campbell, en soos sy doopname verklap, het hy grootgeword in ’n streng tradisionele huishouding. Na die voltooiing van sy hoërskoolloopbaan in Kimberley het hy vanaf 1983 tot 1985 twee jaar diensplig gedoen en was ook deel van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Messelaar is getroud, en is die trotse pa van vier kinders. Hy en sy gesin woon in Elsiesrivier in die Kaap. Messelaar het ‘n duidelike liefde vir die Woord, en met ywer studeer hy aan die Luceum Kollege, die AGS Bybelskool, die Korrespondensie- Bybel-Kollege en die Christian Bible School. Hy sprei sy vlerke oor die waters waar hy met eredoktorsgrade vereer word. Die eerste vir teologie aan die Christian University of Southern Indiana, en die ander een in filosofie in kultuur en tradisie. Hy verwerf ook ’n B.Com-graad in Ekonomie aan die Kyangwoon University of Gumi in Suid-Korea. Messelaar staan beslis ook kop en skouers uit vir sy gemeenskapsbetrokkenheid by verskeie projekte, soos die People for Justice Peace Foundation, Faith World Organization en Peace and Justice with Solutions. Hy dien tans as Hoof van Administrasie in die Griekwa-Koningshuis waar hy die posisie van Hoof-Kommissaris beklee. Hy is in 2017 as die adjunk-sekretaris van die Wes-Kaapse Kongres van tradisionele leiers verkies en dien ook op die Griekwa- Nasionale Eenheidsforum.
Die Afrikaanse Taalraad is trots om hierdie lede in hulle midde te verwelkom en ons is opgewonde om te sien hoe hierdie individue die Afrikaanse taal net nog meer gaan bevorder.