2020 was tot dusver ‘n jaar van uitdagings, maar dit het nie die ATKV en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM)van stryk gebring nie. Vir dié organisasies bly dit steeds ‘n jaar om te vier. Die Vriende van Afrikaans (VVA), in samewerking met Afrikaans.com, gesels in hierdie Ommietafelgesprek met Sonel Brits, besturende direkteur van die ATKV en Michael Jonas, hoof- uitvoerende beampte by die ATM.
Waarom is 2020 so ‘n spesiale jaar vir die ATKV?
‘n Baie trotse mylpaal is dat die ATKV op 19 Augustus 2020 negentig jaar oud geword het. Covid-19 het ‘n bepalende effek gehad op wat ons beplan het in Januarie en wat toe uiteindelik kon manifesteer. Dis vir ons ‘n groot voorreg om oor 90 jaar terug te kon kyk en te kan sê: Afrikaans is steeds die kern en spil waarom die ATKV draai. Ons is ook bly, trots en dankbaar om die diversiteit van sy sprekers en tongvalle te kon vier.
Die ATM het ook ‘n spesiale viering in 2020. Wat maak 2020 so spesiaal vir die ATM?
Vanjaar is die 45ste bestaansjaar van die Afrikaanse Taalmuseum en op 10 Oktober 2020 vier ons die opening van die monument, 100 jaar na die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners en 50 jaar nadat die taal sy amptelike status verwerf het.
Hoe het die ATKV se beginjare gelyk?
Die ATKV is in 1930 oorspronklik as ‘n debatsvereniging gestig. Baie mense het op die spoorweë gaan werk en die behoefte het ontstaan om hulle taal ook in hulle werksplek uit te leef terwyl hulle terselfdertyd aan hulle identiteit, verweef in die taal, skaaf. So is die Debatsvereniging in 1930 te Kaapstad gestig. Dit het gelei tot die aankoop van die plaas Hartenbos in 1936 as ‘n plek waar families bekostigbare vakansies kon hou. Dit was die begin van die hibriede sakemodel waarvoor die ATKV vandag bekend is. Die takke met vrywilligers het toe reeds ‘n groot rol in die uitbou van die organisasie gespeel. Van die begin af was die ATKV daarop toegespits om op die behoeftes van gemeenskappe te fokus.
Hoe lyk die ATM vandag?
Die ontstaan van die ATM was ook ‘n publiekgedrewe proses. In 1940 is daar versoek dat ‘n monument en museum opgerig word. Die monument is uiteindelik in 1974 met behulp van staats- en privaatgeld voltooi. Vandag is ons strewe om ‘n dinamiese, inklusiewe ruimte te skep waar veeltaligheid seëvier en uitgeleef word. As openbare entiteit is ons afhanklik van staatsgeld, maar moet ons ook dienste lewer. Daarom bied ons programme aan die publiek om kop bo water te hou. Ons het tans 32 fondsinsamelingsaktiwiteite om onsself te onderhou.
Sonel, wat is vir jou hoogtepunte binne die storie van die ATKV?
Wat ‘n mens altyd tref, is dat dit mense was wat uit passie iets geskep, meegemaak en gedeel het. Ons kan nie ontken dat die ATKV deur sy lede-basis baie goed ondersteun is en dat die ATKV se lojale lede-basis steeds hulle bes doen om die ATKV te ondersteun nie. Families het ingekoop en hulle harte is uitverkoop aan die ATKV. Wat uitstaan, is die werk wat ons binne gemeenskappe doen om mense bymekaar te bring, om brûe te bou en deur vennootskappe groter impak te maak. Ons het deur die jare relevant gebly, saam met die tye beweeg en na mense geluister en hulle behoeftes geïnterpreteer. Ons het vir die eerste keer die ‘Onse Fees’ in 2019 in samewerking met die ATM aangebied. Wat uitstaan, is die verskeidenheid mense en die diversiteit ten opsigte van talent, dialekte en deelnames.
Wat staan uit as hoogtepunte vir die ATM?
Wat uitstaan vir die ATM is dat ons in ons bestuursbenadering van die afgelope vyf jaar die klem geplaas het op die implementering van kwaliteit- bestuurstelsels, voortdurende vernuwing en doeltreffende lewering van dienste vir ‘n diverse groep mense. Hierdie ideale is grotendeels bereik en dit stel ons in staat om relevant te bly, om te voldoen aan die eise van die tyd en dienste te lewer aan ‘n diverse Afrikaanse landskap. Die rede vir ons bestaan as museum is om te versamel, dokumenteer, na te vors, uit te stal en inligting te versprei. Een van die hoogtepunte is die digitale bewaring en opteken van onopgetekende Afrikaans en die leefwêrelde in die Noord-Kaap – ‘n taak wat ons reeds die afgelope dekade mee besig is. As museum is ons fokus op die bewaring van Afrikaans en al sy bronne, soos byvoorbeeld Arabiese Afrikaans. Op die manier het die ATM ‘n kontaksone vir ‘n diverse Afrikaanse gemeenskap geword.
Watter vooruitsigte voorsien julle vir julle organisasies?
Vir die ATKV sal dit belangrik wees om tegnologie nog meer aan te wend sodat ons vir ons jongmense ruimte en ondersteuning kan bied in hierdie veranderende wêreld en dan ook om die diversiteit van ons taal te bemark.
Die ATM poog om inklusiwiteit binne en buite die Afrikaanse gemeenskap te skep en te bevorder en om Afrikaans as kultuurbate te gebruik in ons pogings tot nasiebou.