Hierdie lente, ter viering van nuwe lewe, moontlikhede en groei, gesels ons met ’n aantal invloedryke persone uit verskillende omgewings binne die Afrikaanse leefwêreld. Wanneer ’n mens beter verstaan hoe ander die meeste uit ’n dag maak, help dit jou om dieselfde te doen. Daarom het ons vir die deelnemers ’n lys van 11 vrae gestuur en hulle genooi om tussen 5 en 7 daarvan te antwoord …
Riaan Cruywagen, legende in elke aspek van die woord, is ons tweede gas in dié reeks. Hy vertel ons van verskeie omkeertye in sy lewe sedert hy as nuusleser by die SAUK uitgetree het, gesels oor ’n strik wat jongmense moet vermy, en verduidelik waarom stilte steeds ’n goue reël bly! Lees en leer saam!
As jy ’n massiewe buitelugadvertensiebord iewers kon oprig wat miljoene mense sou bereik, wat sou dit sê en hoekom?
Dit kan ’n paar woorde wees of ’n volledige paragraaf. Jy kan selfs iemand aanhaal.
Die spreekwoordelike wag voor ’n mens se mond behoort ook voltyds by jou ore diens te doen – nié om te sensureer wat jy hoor nie, maar om jou te help om méér inligting in te neem as wat by jou mond uitgaan. Sê dus minder as wat jy weet, en weet meer as wat ander vermoed. Dit is die gulde reël. Te veel mense se verstand staan botstil terwyl hulle tonge lustig luier. Só blaker hulle dikwels dinge uit wat liefs ongesê moes gebly het. Dit het ook maklik ’n aweregse gevolg, want ydel pogings om te spog met wat jy weet kan uiteindelik ’n gebrekkige kennis of erbarmlike oningeligtheid blootlê. Ware wysheid is om meer te weet as wat jy laat blyk, om elke geleentheid te benut om kennis en inligting in te neem. My advertensiebord sou dus in vet letters lui: Wees wys – spits jou ore en beteuel jou tong!
Wat is een van die beste beleggings wat jy al ooit gemaak het?
Dit kan tyd, geld, energie, ens. wees.
‘n Belegging in my moedertaal, Afrikaans, was een van die bestes wat ek ooit gemaak het. Die opbrengs was nie meetbaar in harde kontant nie, maar wel in geestesverryking. Laat ek verduidelik. Toe ek in 1965 as ‘n Stellenbosse student ingevolge die bepalings van my SAUK-studiebeurs oor die radio begin uitsaai het, het ek onmiddellik bewus geword van die noodsaaklikheid om ‘n taalwag voor my mond te hou en gemaklike, onopgesmukte, keurige Afrikaans te praat. Dit het spoedig ’n blywende lewenswyse geword. In die jare sestig was die Afrikaanse radiodiens die nie-amptelike normeerder van gesproke Arikaans en het onderwysers en dosente andertaliges wat die taal wou aanleer, aangemoedig om na dié diens te luister as hulle wou hoor hoe Afrikaans in sy netjiese snyerspak klink. Die verpligting om voor óf weg van die mikrofoon goeie Afrikaans te praat, was vir my ’n vreugdevolle een, want selfs vandag nog, 55 jaar later, ontvang ek steeds waardering vir my taalgebruik uit alle oorde van ons bevolking. Dit beteken hoegenaamd nie dat ek enige variëteit van die taal as meerderwaardig of belangriker as die ander beskou nie – inteendeel! Elke mens praat immers soos hy gebek is, het die gerekende taalkundige, wyle prof. Johan Combrink, gesê. Die plek en omstandighede bepaal egter die variëteit, dialek of sosiolek wat gepraat word. Voor die radiomikrofoon was dit destyds die sogenaamde standaardvorm. Die vereistes is sedertdien aansienlik versoepel en elke variëteit van Afrikaans geniet nou die erkenning wat dit verdien. Die taal het eindelik sy eksklusiwiteit afgeskud en inklusief geword. Gevolglik het ek die keusevryheid om my gevestigde gebruik van die ietwat meer formele register onbeskroomd te kan handhaaf sonder om daaroor skuldig te voel, terwyl ek my kan verkneukel in die ryk, melodieuse klanke van die wye Afrikaanse spektrum om my heen.
In die laaste vyf jaar, watter nuwe siening of gewoonte het jou lewe die meeste verbeter?
As voltydse beroepsuitsaaier was my daaglikse lewe altyd onderworpe aan tyd en stiptelikheid. Die dag in 1968 toe die programdirekteur van die SAUK, wyle dr. Jan Schutte, my in die geledere van die Afrikaanse Diens se vaste omroeperskorps verwelkom het, was sy eerste woorde: “Onthou, die seweuurnuus word om seweuur gelees – nie om tien sekondes oor sewe nie!” Sedertdien het sekondes en ’n nimmereindigende wedloop teen tyd deel van my besige bestaan by die radio en daarna ook by televisie geword. Ek het nóóit laat opgedaag vir werk, opnames, sosiale geleenthede of enige ander verpligting nie. Toe ek egter as ’n 70-plusser in die loop van 2018 besluit het om die veeleisende druk van regstreekse televisieuitsendings vaarwel toe te roep, het dit ’n dramatiese dog welkome ommekeer in my lewe tot gevolg gehad. Ek sou my voortaan toespits op voorafopgeneemde TV-programme op dae en tye wat vir my geleë is. Skielik kon ek my verlustig in die ongekende weelde van tyd tot my beskikking, aande en naweke vry, en ’n heraktivering van my sosiale lewe. Ek het meteens tyd gehad om my vrou na restaurante en teaters te neem en my vriendekring as’t ware te herontdek en uit te brei. Ek het besef dat die horlosie nie meer my ongenaakbare baas is nie en my tydsbestuur het baie minder veeleisend geword. Trouens, ek en my vrou het selfs besluit om Johannesburg se stof van ons voete af te skud en het in November 2019 met huitjie en muitjie na Mosselbaai verhuis. My lewensgehalte het mateloos verbeter sedert ek hier anker gegooi het. Ek het steeds volop geleentheid om vryskutwerk te doen wanneer dit my pas. Danksy die nabygeleë George-lughawe is ek binne maklike bereik van die groot sentra en vlieg ek maandeliks vir twee dae na Johannesburg om my TV-programme op te neem. Daarna is die vreugde en opwinding egter groot om weer in die vliegtuig te stap en terug te keer na die rus en vrede van my nuwe bestaan aan die Kaapse suidkus. Die digter Totius was in die kol toe hy Repos Ailleurs geskryf het – want die rus is inderdaad elders!
Watter advies sal jy vir ’n jong, gedrewe persoon gee wat op die drumpel staan om die sogenaamde regte wêreld te betree?
Watter advies moet hulle ignoreer?
Dit is goed dat jongmense wat op die drumpel staan om ‘n loopbaan te betree en die veeleisende uitdagings van die lewe aan te durf, idealisties en gedrewe is. Hulle oë is vol drome van ‘n blink toekoms gekenmerk deur sukses, welvaart en geluk. In verreweg die meeste gevalle wil hulle ‘n verskil in die land help maak en ‘n tasbare nalatenskap agterlaat. Die befaamde dr. Anton Rupert se gevleuelde woorde lui: “Hy wat nie in wonderwerke glo nie, is nie ‘n realis nie.” En wonderwerke is helaas dikwels nodig om sommige jongmense se drome te verwesenlik, die gevleuelde stelling ten spyt. Die fout wat so baie jongmense maak is om van meet af aan alles te wil hê – ‘n senior aanstelling, ‘n weelderige motor, ‘n luukse woning, duur meubels, toelaes, byvoordele, bonusse, noem maar op. Só ‘n puur materialistiese ingesteldheid is nie realisties nie en waarborg nie welslae of geluk nie. ‘n Bereidwilligheid om die suksesleer van die onderste sport af te begin klim, hard te werk, onkreukbare integriteit te openbaar en ononderhandelbare werksetiek aan die dag te lê, is die grondslag van alle eerlike sukses. Weerstaan die versoeking van maklike skuld net om by die bure kers te kan vashou of ander mense te probeer beïndruk. As jy eers in ‘n skuldspiraal vasgevang word, is dit bitter moeilik om weer ongeskonde daar uit te kom. Almal aanvaar dat die meeste mense hulle huise en motors op skuld móét koop. Maar wat ander verbruikersgoedere betref, is dit nuttig om dié goue reël toe te pas: As jy nie kontant vir ‘n ding kan betaal nie, kan jy hom nie bekostig nie. Hou dit in gedagte en bly uit die knyp!
Oor die afgelope vyf jaar, waarvoor sê jy nou meer geredelik, of makliker, nee?
(Byvoorbeeld uitnodigings, afleidings, ens.) Watter nuwe insig of siening het jou gehelp om dit te doen? Enige ander advies?
Daar was ‘n tyd in my lewe toe ek my genoop gevoel het om elke sosiale uitnodiging te aanvaar, mits my werkverpligtinge dit toegelaat het. Ek was immers ‘n openbare figuur en het ‘n soort selfopgelegde verpligting gehad om deur my teenwoordigheid by ‘n wye verskeidenheid funksies, gesellighede, byeenkomste ensomeer te toon dat ek belangstel in en omgee vir gebeure of verwikkelinge in die gemeenskap. Dit het tot gevolg gehad dat my vrye tyd selfs nog méér beperk was. Sedert ek op 26 November 2012 na 37 jaar die tuig as die langsdienende TV-nuusaanbieder van die SAUK neergelê het, het ek besluit om veel meer selektief met uitnodigings van enige aard om te gaan. Ek het begin om my gesin en veral my eggenote se belange voorop te stel en elke uitnodiging op meriete te beoordeel, as ‘t ware die koring van die kaf te skei. Die gevolg van dié besluit was ‘n rustiger, meer ontspanne leefwyse. ‘n Mens hoef werklik nie oral gesien te word nie; jou reputasie, die gehalte van jou werk en jou selektiewe betrokkenheid by geleenthede van watter aard ook al behoort jou beeld as openbare persoonlikheid heeltemal voldoende te poets!
Foto ter vergunning van The post officially
Afrikaans.com doen gedurende September 2020 ’n reeks gebaseer op die entrepreneur en skrywer Tim Ferriss se Tribe of Mentors. In Tribe of Mentors, gesels Ferriss met invloedryke en suksesvolle persone uit verskillende omgewings om die publiek die geleentheid te bied om beter te verstaan hoe hierdie mense dink en leef. Ferriss gebruik 11 vrae wat hy aan hierdie persone stel. Vir hierdie reeks, wat weekliks gepubliseer gaan word, het ons dieselfde gedoen.