“Here today, gone later today.” – Bun Booyens, voormalige redakteur van Die Burger
In 2011 praat Bun Booyens, destydse redakteur van Die Burger, oor die bedreiging van die gedrukte media – spesifiek koerante. Toe reeds het hy beweer dat die antwoord om oorlewing lê by die begrip van die markte. So noem hy destyds voorbeelde van hoe gedrukte media in simbiose met nuwe mediagenres saamleef. Byvoorbeeld, met die koms van televisie, druk tydskrifte en koerante TV-programme, vertel meer oor die programme en deel brokkies oor die filmsterre.
Dit is juis hierdie aanpasbaarheid van ons media wat ’n mens moed gee en laat besef dat die prentjie wat voorgehou word nie heeltemal so donker is nie – ongeag daarvan dat daar deur sommige doemprofete voorspel word dat sekere Afrikaanse koeranttitels binne die volgende twee jaar gaan toemaak, saamsmelt of suiwer digitaal word. As dit waar is, dui dit op ’n “dramatiese verskraling van die Afrikaanse koerantmark” en gaan daar oor twee jaar nie meer gedrukte Afrikaanse koerante oor wees nie. Hoekom is Afrikaans dan so kwesbaar?
Waldimar Pelser lewer in 2013 tydens die Afrikaanse Taalraad se simposium ’n bydrae oor Afrikaans en die media op pad na 2020. Toe reeds wys hy daarop dat meer mense nou Afrikaans praat as op enige stadium in die verlede en dat meer as die helfte van hulle bruin is. Hy noem ook die gewildheid van Afrikaanse musiek en CD-verkope, Afrikaanse feeste, Afrikaanse skole se prestasies, die Afrikaanse letterkunde, ens. “Daar is ’n ontploffing van Afrikaanse stemme in die media. Die meeste Afrikaanse koerante is markleiers, al is sirkulasie onder druk. “Ons doelwit is om die werklikheidservaring van veral Afrikaanse mense, maar nie nét Afrikaanse mense nie, sekuur te verwoord, en in Afrikaans te vermaak, te boei en ook vrae te vra.”
’n Mens kan maar net kyk na digitale platforms, die skerp groei in aanlyn gebruikers en watter webtuistes die beste vaar. Dit is duidelik: Solank Afrikaans gepraat word, gaan die taal voortbestaan en gaan daar ’n vraag na Afrikaanse media wees. Daar sal weliswaar aanpassings gemaak moet word om die mark te behou en te laat groei, maar dit is juis wat so opwindend is. Afrikaans.com het met ’n paar kenners in die media gesels en deel graag van hulle menings.

Wat is die media en spesifiek die Afrikaanse media se grootste uitdaging om hulle voortbestaan en geloofwaardigheid te verseker?
“Afrikaanse publikasies sal lewenskragtig en volhoubaar bly met die steun van lesers en adverteerders. Uiteraard besef ons die verantwoordelikheid wat dit op ons as publikasies plaas om relevant en nuttig vir ons lesers te bly. Dit is ons erns en passie.” – Henriëtte Loubser, Netwerk24
Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, se mening is dat in hierdie tye waar daar heelwat wantroue teenoor die hoofstroommedia en die gehalte van nuus is, die uitdaging vir koerante daarin lê om aan hulle lesers te bewys dat hulle gerespekteer word en “dat hulle versugtinge en aspirasies verstaan word”. Daar moet sorg gedra word hoe daar met die nuus omgegaan word en die inligting wat gedeel word. Kwessies wat vir die gemeenskap saak maak moet aandag geniet en dit moet met integriteit en waagmoed getakel word. Die gemeenskap wil deel voel van die leefwêreld waaroor berig word en “wil hulleself in die produk (koerant) herken”. Tog, sê Waldimar is die uitdaging nie ’n tekort aan lesers nie, maar kommersieel, want waar adverteerders voorheen produksiekoste gedra het, het dit nou gedeeltelik verander. Hy noem dat daar in 2018 meer aan aanlyn reklame bestee is as op advertensies in koerante en op radio. Die probleem is egter dat die inkomste uit digitale advertensies landuit vloei. Dit stop die sakke van Google en Facebook, maar dra nie by tot die produksie van gedrukte media nie. Die gevolg is dat lesers die ekstra las moet dra. Tog blyk dit dat indien koerante relevant bly en nie skroom om met ’n “harde” stem die waarheid te praat nie, lesers hulle sal aanhou steun.
Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, sluit hierby aan en sê dat mense moet weet dat hulle jou sonder huiwering kan vertrou, anders gaan hulle hul lojaliteit êrens anders neem. Lesers wil weet jy verstaan hulle leefwêreld. Daarom moet media-instansies veerkragtig en aanpasbaar wees “om instinktief en deurlopend by die vinnig veranderende nuusomgewing aan te pas”. Daarsonder kan hulle nie oorleef nie.
Henriëtte Loubser, hoofredakteur by Netwerk24 is van mening dat goeie joernalistiek teen ’n prys kom. Daar moet wegbeweeg word van telefoon- en lessenaarjoernalistiek. Daarom is genoeg joernaliste nodig wat kan navorsing doen om “by die kruks van die saak uit te kom, wat kan uitgaan na nuustonele en wat die nodige ondersteuning, in die hoedanigheid van subredakteurs en hekwagters, in die nuuskantoor kry om die joernalistieke kuns te bemeester en so seker te maak die produk wat lesers bereik is geloofwaardig en van goeie gehalte”. Daarom is dit nodig dat die lesersgemeenskap bereid sal wees om vir inhoud te betaal, hetsy in gedrukte media of aanlyn. “Vir advertensie-inkomste moet ons teen internasionale reuse soos Facebook en Google meeding en dit boonop in ‘n klein Afrikaanse mark. As lesers ons ondersteun sal adverteerders eweneens besef dat Afrikaanse media ‘n belangrike plek is om hul teikenmark te bereik.” Aldus Loubser.
Wat maak Afrikaanse gedrukte koerante so kwesbaar?
Lees ’n mens tussen die lyne, lyk dit asof rand en sent hier die leiding neem. Henriëtte sê dan ook dat Media24 se hooffokus gehalte joernalistiek is, maar soos reeds genoem, kos dit geld. “Ons werk voluit om ons koerante vir so lank as wat ons moontlik kan in gedrukte formaat te laat voortbestaan. Die toekoms hang natuurlik van baie faktore af, ook die eksterne ekonomiese omstandighede in die land en die wêreld.”
Sy sê verder dat die sluit van koerante of die verskuiwing na ’n suiwer digitale model die afgelope maande wêreldwyd plaasgevind het. Net so is die Afrikaanse mark ook besig om digitaal te skuif en werk hulle onverpoos daaraan om ook Netwerk24 ’n volhoubare toekoms vir gehalte-joernalistiek in Afrikaans te skep.
Digitaal ons voorland? Maak ’n kopskuif.
“Joernalistiek is nie papier nie. Dit is navorsing, feite en sifting. Dis woorde wat vernuftig en akkuraat sin maak van die nuus. Dis joernaliste wat kan ontleed en konteks gee en omgee oor wat gebeur en namens lesers die vrae stel.” – Henriëtte Loubser, Netwerk24

Daar sal aanpassings gemaak moet word om te verseker die mark hou aan groei, maar Henriëtte is van mening dat digitale media groot voordele kan inhou. Veral as ’n mens kyk na die onlangse verlede waar van die grootste korrupsie-blootleggings in Suid-Afrika en internasionaal aanlyn en met meer impak gebeur het. Die rede hiervoor was juis omdat dit aan “‘n groter digitale klok gehang is, teenoor die meer beperkte blootstelling in die suiwer gedrukte era”.
Sy sê ook: “Met die digitale omskakeling van Volksblad en Die Burger Oos-Kaap het ons juis daarop gekonsentreer om nie aan die verslaggewing en nuusaanbod uit daardie streke afbreuk te doen nie. Trouens, daar word elke dag baie meer berigte uit die streke aanlyn gedoen as waarvoor daar in die gedrukte koerant plek was. Die berigte word ook deur duisende meer mense gelees as wat die geval in die gedrukte era was – tot in Australië en Kanada en waar ook al Afrikaanse mense hulself bevind.”
Susan Lombard van Maroela Media sê dat ’n sterk handelsmerk baie belangrik is. “Ons filosofie met Maroela is dat ons handelsmerk ons lesers moet “vind”, ongeag die platform of medium waarop hulle is. Jou waardes is onlosmaaklik deel van jou handelsmerk, en daarom moet jou waardes saam met jou handelsmerk gereflekteer word in alles wat jy doen. Dit gaan oor hoe jy jou lesers antwoord; hoe jy kommentaar hanteer; hoe jy met hulle teruggesels as hulle met jou gesels op sosiale media; hoe joernaliste in ‘n aanlyn onderhoud met ‘n kunstenaar praat, in die manier hoe mens e-posse en telefoonoproepe hanteer.” Die lys is eindeloos. Volgens Susan gebruik hulle lesers ’n verskeidenheid van platforms om Maroela te volg, en al verskil die inhoud en formaat waarin dit aangebied word, ervaar die lesers die handelsmerk steeds dieselfde. “En vind hulle jou daar, voel hulle dadelik tuis en veilig, want hulle weet wat hulle van jou kan verwag.”
Waldimar Pelser sê die digitale revolusie het nuwe gehore na vore gebring. Hy self lees nuus digitaal, maar ook in gedrukte formaat en volgens hom gaan dit goed met die Afrikaanse media in hulle pogings om die nuus aanlyn te vestig. Boonop gee digitale platforms geleentheid vir nuwe projekte en kort video’s waarin berigte verpak word. Dus is daar interaksie tussen die statiese produk en sosiale media.
Volgens Loubser is die digitale waarde-aanbod nie te betwis nie, maar die grootste struikelblok is dat lesers die tegnologie soms nog oorweldigend en vreemd ervaar. Dit is een van die uitdagings om die gebruik van hierdie platforms so maklik en intuïtief moontlik vir mense te maak.
“Vir sommige is die bekoring van ‘n koerant dat dit ‘n begin en ‘n einde het. Ons probeer in daardie behoefte voorsien deurdat mense benewens al die brekende nuus heeldag lank op ons tuisblad steeds ook hul koerant aanlyn kan lees – hetsy in webformaat op die koerant se landingsblad, met al die stories in daardie dag se koerant onder mekaar, of as e-koerant met dieselfde uitleg as ‘n papierkoerant.”
Die statistiek vertel sy eie storie
Kyk ’n mens na die syfers en meningspeilings, lyk die prentjie beslis meer rooskleurig.
Volgens Loubser het Netwerk24 se intekenare oor die huidige boekjaar wat einde Maart geëindig het, met 32% gegroei en sê sy dat die koronavirus-pandemie verbruikers se digitale kopskuif nog verder versnel het. “Van begin Maart tot einde Junie het ons meer as 10 000 intekenare bygekry. Netwerk24 se intekenare staan dus nou op bykans 70 000 – die grootste inteken-nuusdiens in Afrika.”

“In April het byna 2,5 miljoen unieke gebruikers ’n draai op die webwerf of app gemaak om berigte te lees of te kom kyk wat Netwerk24 alles bied.” Loubser is van mening dat weerstand teen digitale joernalistiek baie te make het met gewoontes en persepsies en dat baie lesers nou eers nuwe gewoontes sal moet kweek.
Pelser vertel dat Rapport se pdf-koerant al hoe groter aanhang geniet en dat die intekenare reeds op 70 000 staan. So ook is hul sirkulasiesyfers reeds weer amper waar dit was voor die aanvang van inperking.
In 2013 tydens ’n praatjie by die Afrikaanse Taalraad se simposium deel Waldimar die volgende “profetiese” inligting: “Die grootste mediawindkous vir Afrikaans in 2020 is egter aanlyn. Die internet lyk dalk van ver af Engels, maar as jy Afrikaans soek, gaan jy vind dat sowat 40% van webgebruikers in Suid-Afrika Afrikaans praat.” Destyds noem hy ook die sukses wat die tydskrif Huisgenoot op sosiale media geniet (toe reeds spog hulle met 220 000 volgers).
En die rol van gemeenskapsmedia?
Christo Theron, besturende redakteur van die Rustenburg Herald, vertel dat hulle situasie van die hoofstroommedia verskil, omdat hulle dalk minder blootgestel en beter geposisioneer is ten opsigte van die wispelturigheid van die mark en ander uitdagings. “Ek glo nog altyd die plaaslike koerant is die enigste werklike stem van die plaaslike gemeenskap.” Daarom is hy van mening dat die behoud van ’n gemeenskapskoerant sy “unieke aard, karakter en persoonlikheid” is.
Ook gemeenskapskoerante was die afgelope tyd genoodsaak om koerante aanlyn uit te gee. Hieroor sê Christo dat dit ’n verskynsel van sy tyd is en dat dit oor die langtermyn sal beteken dat dit waarskynlik meer nuwe lesers of dan volgers in die mark sal oplewer … en dit kan net positiewe gevolge inhou “Dit sal egter ’n tydjie neem, maar omdat die mens aanpasbaar is, sal die meeste mense vinnig aan die nuwe manier van doen gewoond raak.”
Die rol van televisie en die radio om Afrikaans te bevorder
Susan sê dat radio veral ‘n baie belangrike rol speel. Hoewel internetpenetrasie in die Afrikaanse mark reeds redelik hoog is, is baie Afrikaanssprekendes vanweë finansiële uitdagings nie in staat om data te gebruik vir aanlyn media nie, en baie mense is ook nie lief vir lees nie. Radio bly ‘n geselskapsmedium… oral byderhand en goedkoop om te gebruik. “Gemeenskapsradiostasies doen in hierdie verband ongelooflike werk, want hulle ken hulle gemeenskappe en bedien hulle. Ongelukkig kry gemeenskapsradiostasies finansieel tans baie swaar. Daar is min mediums wat ‘n Afrikaanse gemeenskap so goed kan bereik as radio. Daarvoor moet daar natuurlik goeie gehalte produksies in goeie Afrikaans op hierdie radiostasies wees.”
Televisie sien reeds ‘n baie sterk migrasie na digitale platforms. Susan se mening is dat die dae van lineêre TV waarskynlik amper op ‘n einde is. “Mense wil self kies wat hulle wanneer wil kyk, want dis deel van die verbruikerskultuur waarin ons tans is. Goeie gehalte Afrikaanse produksies in beeld wat vir kykers beskikbaar is om te kyk wanneer en waar hulle wil, gaan toenemend belangrik word.” Dit sluit aan by die punt dat ‘n handelsmerk teenwoordig moet wees op mediums en platforms waar die mark reeds is. “As daar goeie gehalte videoproduksies in Afrikaans beskikbaar is op ‘n platform, sal Afrikaanssprekendes dit vind, want hulle eerste keuse van media sal spontaan in hulle moedertaal bly indien dit beskikbaar is – maar ongelukkig sal hulle nie huiwer om ‘n ander taal te “verbruik” as daar nie sulke media in hulle eie taal beskikbaar is nie.”
Watter vaardighede het die hedendaagse joernalis nodig?
“Lees, en as jy daarmee klaar is, lees nog … want dit is slegs as jy wyd en gereeld lees, dat jy beter sal skryf.” – Waldimar Pelser
’n Mens hoor dikwels dat die gehalte van nuusstories aanlyn en ook in die gedrukte media veel te wense oorlaat. Stories is eensydig, duidelik nie goed nagevors nie en die taalgebruik is vrot. Tog is daar joernaliste wat gehalte werk lewer en sê Waldimar dat daar baie goeie gehalte inhoud aanlyn en ook in gedrukte media beskikbaar is. So, wat maak van iemand ’n goeie joernalis?
Susan sê daar is twee belangrike dinge:
- Eerstens, veelsydigheid. ’n Joernalis moet veelsydig wees en eienaarskap neem van sy hele storie. Deesdae het ’n joernalis nie meer ’n spesialisrol nie en moet hy verskillende tipes stories kan doen. Hulle moet ook kan video’s of foto’s neem, klankonderhoude doen, ens. en natuurlik kan skryf en dus ’n goeie taalvermoë hê. Dit is nou behalwe die tegniese kundigheid om self ’n storie te publiseer, op sosiale media te deel en dit dop te hou en te bestuur om te bepaal hoe lesers daaroor voel, watter wenke vir opvolgstories in die kommentaar gedeel word en so meer.
- Tweedens, is daar ’n groot behoefte aan Afrikaanse, ondersoekende joernaliste. Volgens Susan is hierdie soort joernaliste wat diepgaande en politieke stories kan doen so skaars soos hoendertande en in groot aanvraag. Sy beveel dus aan dat joernalistiekstudente dit oorweeg om ’n addisionele vak soos politieke wetenskappe te neem en as student reeds geleenthede sal soek en aangryp om ondersoekende werk te doen – selfs sonder vergoeding, want dis ’n vaardigheid wat volgens Susan al meer in aanvraag gaan word, veral in Suid-Afrika.
Waldimar sê ’n joernalis is daar om agter die kap van die byl te kom – nie sy eie opinie te lug nie. Sosiale media is waar mense die nuus deesdae ontdek, maar dit is die joernalis se taak om die nuus behoorlik te verpak. En dit kom met ervaring en opleiding in die nuuskantoor – daar waar daar vangnette behoort te wees en die storie deur meer as een stel hande gaan om te verseker dat wat die leser uiteindelik op swart en wit sien, geloofwaardig en korrek is.
Henriëtte sê dat sy die grootste respek het vir die manier waarop joernaliste die eise wat nou aan hulle gestel word, hanteer. “Benewens die eienskappe wat nog altyd deel was van ‘n joernalis se mondering, soos belangstelling in die wyer wêreld en om deel van die groter dialoog te wees, moet jy nog meer as ooit aanpasbaar wees, in ‘n span kan saamwerk, bereid wees om heeltyd nuwe vaardighede te leer en jy moet vir seker veelsydig wees. Joernaliste wat die kern van ‘n saak vinnig kan snap en dit akkuraat en verstaanbaar kan weergee, floreer in ‘n aanlyn werksomgewing. Fisieke en geestelike stamina is ook van groot belang, want die druk is groot en die nuus waarmee jy werk dikwels boonop ontstellend. Jy moet jouself kan bestuur en meganismes hê om stres te hanteer.“
Christo Theron is van mening dat ’n joernalis wat sy sout werd is, ’n uitstekende kommunikeerder moet wees, intens belang moet stel in sy gemeenskap en ’n goeie verbeelding moet hê. Hy moet die vermoë het om die kernfeite vinnig uit ’n storie te haal en saam te vat. Daarbenewens moet hy vinnig en onder druk kan werk. En dan is ’n besondere taalvaardigheid natuurlik ’n plusplunt.
In vandag se era van fopnuus het dit nog belangriker geword dat joernaliste baie seker moet maak van hulle feite voordat hulle iets plaas – selfs al is die druk soveel groter en moet daardie storie binne 20 minute aanlyn wees. Daar is altyd nog tyd om 100% seker te maak. Trouens, jy is dit aan jou lesers verskuldig.

Wat kan ons doen om oorlewing van die media in Afrikaans te verseker?
“Dit gaan eerstens oor mense, maar ook oor ’n taal. Elke bietjie Afrikaans wat verdwyn, of dit nou ’n verhoogstem of ’n gedrukte koerant is, is ’n stukkie verlies vir die taal.” – Tim du Plessis, hoof van aktualiteit, KykNET
Hier by Afrikaans.com is ons slagspreuk: “Koop dit. Lees dit. Praat dit. Leef dit.” En dit is presies wat ek en jy kan doen om seker te maak Afrikaanse media gedy. Koop koerante en tydskrifte – dit sluit aanlyn in. Ondersteun ons uitvoerende kunstenaars. Sonder hulle sal Afrikaans in die vermaaklikheidswêreld moeilik oorleef. Help waar jy kan. Ondersteun inisiatiewe soos NATi, die Tribuo-hulpfonds en ander om kunstenaars en verwante personeel in die verhoogbedryf by te staan.
“Al sterf koerante, sal nuus nie sterf nie, want uiteindelik is nuus vaardighede, nie papier nie. Dit gaan dus oor die diens wat gelewer word nieteenstaande die medium .. en is dit eerder ’n geval van meer keuses, maar nie noodwendig vervanging van een medium met ’n ander nie.” – Bun Booyens
Koerante het dalk nie meer die monopolie op nuus nie en kyk ’n mens deesdae op Twitter om te sien wat aangaan, tog doen die meeste joernaliste steeds wat hulle die beste doen, naamlik om konteks aan die nuus te verskaf.
Ons moet ook nie ons ouer garde te vlak kyk nie, veral as ’n mens agterkom dat jou tannie van 90 plus heel aktief op Facebook en WhatsApp is, nie bang is vir knoppies druk nie en selfs die nuus aanlyn lees!
Kom ons volstaan met die woorde van Waldimar Pelser tydens die ATR-simposium in 2013 en weergee in ’n artikel op LitNET:
“’n Bepaalde bevryding van stemme is moontlik gemaak deur die digitale revolusie.
Afrikaanse mense is digitaal geletterd en honger vir Afrikaanse inhoud. Ons vernaamste uitdaging is egter om met gesag te kan praat oor wat om en in ons gebeur, in Afrikaans. Om nie op te hou praat in Afrikaans oor ideale nie, en nie net Afrikaanses se ideale nie, maar ook anderstaliges s’n, want Afrikaans het nog nooit gefloreer in kunsmatig Afrikaanse omgewings nie. Dit is ’n taal van hier.”
Addisionele bronne:
https://www.litnet.co.za/afrikaans-en-die-media-op-pad-na-2020/
https://www.litnet.co.za/die-toekoms-van-gedrukte-media-in-suid-afrika-la-bun-booyens/
https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/tim-du-plessis-steun-in-lewe-beter-as-trane-20200731
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/nuusflits-oor-die-toekoms-van-nuus/
https://www.rsgplus.org/nuus-sport/wat-die-toekoms-van-gedrukte-media/
https://www.litnet.co.za/die-stand-van-die-suid-afrikaanse-media/