September. Dis die amptelike begin van lente en daarmee saam ’n gevoel van vernuwing en groei. Dit is om dié rede dat ons dit goedgedink het om in die komende maand met suksesvolle persone uit verskillende ruimtes van die lewe te gesels om meer te leer oor hoe hulle groei …
Die reeks is gebaseer op die Amerikaanse entrepreneur en skrywer Tim Ferriss se Tribe of Mentors-boek en skop af met Afrikaanse legende en Spoegwolf-voorsanger, Danie du Toit. Soos met die ander deelnemers, het ons ’n lys van 11 vrae aan Danie gestuur en hom genooi om 6 tot 8 daarvan te antwoord …
Hier is wat ons geleer het …
Watter aanvanklike mislukking of skynbare mislukking het later vir jou sukses ingehou? Het jy ’n “gunsteling”-mislukking?
Ek was op die finale kortlys om Oxford toe te gaan met die Rhodes-beurs. Daar was ’n ete vir die top 9 by Mandela se ou huis (hulle gebruik dit nou vir sulke goed). Die oomblik was vir my te groot en ek kon nie die knoop deurhaak nie. Ek het toe nie Oxford toe gegaan nie. ’n Paar maande later het ons ons liedjie Die Donker Toring bekendgestel. The rest is history! As ek die Rhodes-beurs ontvang het, sou ek hierdie jaar eers teruggekom het – met geen Spoegwolf nie. En dit sou verkeerd gewees het, want hierdie is die lewe wat ek oor en oor sou kies (ek was net bietjie mal toe ek gedink het ek wil oorsee gaan!). Iets wat dus skynbaar soos ’n mislukking lyk of voel, stel jou dalk op die presiese pad waar jy moet wees.
Wat is een van die beste beleggings wat jy al ooit gemaak het? Dit kan tyd, geld, energie, ens. wees?
Ek het dit nie self gemaak nie. Die kerk het vir my ’n tweedehandse Fender Stratocaster-kitaar gekoop toe ek 14 was. Ek het “Basjan” op dit geverf. Hy speel in elkeen van ons shows. Ek het selfs as jong student session-werk daarmee gedoen. Daai stukkie hout het my deur universiteit gesit. Hy word amper elke dag gebruik. Hy word rondgegooi, hy het al buite in die reën gelê vir ’n aand in Ceres. No problems – just service. Day in and day out – al van 2006.
’n Belegging in jou eie of iemand anders se talente en passies het altyd ’n goeie opbrengs – al is dit net in die vorm van daardie persoon se geluk.

Wat is ’n ongewone gewoonte wat jy het, of iets skynbaar absurd wat jy baie graag doen?
Ek bid konstant. Konstant! Selfs as ek sing.
Watter raad sal jy vir ’n jong, gedrewe persoon gee wat op die drumpel staan om die sogenaamde “regte wêreld” te betree? Watter raad moet hulle ignoreer?
Doen cool goed en glo in jouself! My raad vir ’n jong persoon wat hul lewe as volwassene begin sal wees om nie eerste te dink aan geldmaak nie. Die mense wat ek ken wat op die ou end baie geld gemaak het, het almal een ding in gemeen – hul het nie probeer om geld te maak nie. Blywende rykdom en blywende nalatenskappe kom van persone wat iets doen waarvan hulle hou. As jy in die oggend wakker word en nie opgewonde is om te gaan doen wat jy moet doen nie … en dit vir baie oggende so aanhou, verander dan wat jy doen. My wens vir elke persoon is dat hul soggens kan wakker word en voel dat wat hulle doen die wêreld op een of ander wyse ’n beter plek maak.
Wanneer jy oorweldig of ongefokus voel, wat doen jy om dit te oorkom?
Ek is baie gelukkig dat al die besighede waarby ek betrokke is, die restaurant, die uitgewersmaatskappy ensovoorts, alles in een blok in Stellenbosch is – toevallig ook naby die Eersterivier hier in Dorpstraat. Wanneer ek oorweldig voel, verwyder ek myself en stap af na die rivier toe. Ek gaan sit, drink ’n koffie en word rustig. Ek luister ook dan gereeld na Bob Dylan, Valiant Swart of Bruce Springsteen. Wanneer ’n mens sukkel om te fokus, help dit juis om ’n tree terug te neem. Vind ’n plek waar jy dit kan doen.
Wat is die slegste raad wat jy al ten opsigte van jou beroep/vakgebied gehoor het?
Baie mense het al vir my gesê dat daar nie ’n mark vir ons musiek is nie. Ons het vir 10 jaar aanhou speel sonder enige vergoeding – ons kon ook nooit by ’n platemaatskappy teken nie. Maar ons het gehou by ons plan en dít wat ons geweet het. Daar gaan baie oppe en affe wees in ’n mens se beroep, ongeag wat jy doen. As jy egter oortuig is dat jy op die regte plek is, hou aan. Vir ons eerste album, het ons geld geleen. Die res is geskiedenis.
Wat is die boek (of boeke) wat jy graag en mees dikwels as geskenk gee en hoekom? Of, wat is die een tot drie boeke wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het en hoekom?
Ek is mal oor Harry Potter en For Esmé, with love and squalor. Ek het die Harry Potters gelees soos ek gegroei het, en Esmé toe ek begin krimp het. Harry Potter help jou om die wêreld te fight. Esmé help jou om die vernedering te hanteer.