
As jy haar gelukkig wil maak, gee vir haar ʼn bos blomme. So sê Minki van der Westhuizen, ankeraanbieder van die gewilde geselsprogram Minki, wat weer op 8 Julie op VIA (DStv-kanaal 147) begin het. Oor die splinternuwe seisoen, wat reeds die vyfde een is, is Minki besonder opgewonde. Sy vertel dat die program ʼn nuwe formaat het. Dit word nou ʼn uur lange program met baie nuwe insetsels. Die seksuoloog Elna Rudolph sal elke week raad verskaf oor bedsake en kykers se vrae beantwoord. Herman Lensing, Sarie se kosredakteur, is weekliks saam met Minki in die kombuis waar hulle ʼn storm los kook. Alles klink voorwaar heerlik opwindend.
Kleintyd het Minki nooit daarvan gedroom om eendag as ʼn televisieaanbieder ʼn kuiergas in mense se voorhuise te word nie. Haar loopbaan as model het ná matriek blink voor haar uitgestrek en sy het alle geleenthede in daardie rigting aangegryp en baie sukses, plaaslik en internasionaal, as model gehad. In 2007 het daar onverwags ʼn nuwe deur oopgegaan toe Amor Engelbrecht, wat op daardie tydstip die vervaardiger van die joernaalprogram Pasella was, haar genader het om as aanbieder op te tree.
“Aanvanklik was ek so ʼn bietjie skaam voor die kameras, want ek het nog altyd geglo ek is nie ʼn aktrise nie, maar met Pasella het alles verander. Van die eerste oomblik af was dit vir my verskriklik lekker. Ek sal Amor altyd dankbaar wees,” sê Minki.

In 2016 en 2017 het sy behoorlik diep in die harte van televisiekykers gekruip met haar sprankelende aanbieding van die gewilde realiteitsprogram op kykNET, Boer soek ʼn Vrou. Tevrede kykers het haar ook in 2017 in die Huisgenoot Tempo-toekennings aangewys as die beste televisieaanbieder van die jaar. Sy is besonder dankbaar dat mense haar ondersteun en haar harde werk raaksien, sê sy.
Om ʼn beeldskone swemklere-model te wees en aangewys te word as die sexyste vrou in die wêreld, kan dalk veroorsaak dat mense jou nie te ernstig opvat nie. Hieroor lag Minki net en systap die vraag baie effektief. “Ek was nog altyd net myself en het nooit probeer voorgee om iets anders te wees nie. Ek glo dit het natuurlik gekom en danksy die televisiebedryf, kon mense my hart raaksien. Soms het mense baie vooropgestelde idees en dit is moeilik om dit te verander, maar ek is dankbaar dat ek wel die geleentheid kon kry om vir mense ʼn deel van my hart en ʼn deel van my menswees te wys met dit wat ek op televisie doen,” verduidelik sy.
Oor een ding is Minki baie ernstig: haar program is nie bloot net ligte vermaak nie. Haar gaste word sorgvuldig gekies, juis omdat hulle op een of ander manier inspirerend is. Sy wil graag mense inspireer deur met verskilmakers te gesels wat ten spyte van moeilike omstandighede, ʼn opdraande stryd of een of ander gebrek, positief kan wees en ʼn verskil maak waar hulle ook al gaan. Sy hoop haar program kry dit reg om goedvoel-emosies wakker te maak en aan kykers se harte te raak.

Een ding waaroor Minki baie graag gesels, is haar drie dogtertjies. Haar oudste, Katerien, het nou in Julie sewe jaar oud geword en is vanjaar in graad 1. Elise, haar middelkind, word ses in Augustus en klein Elsa het in Maart twee jaar oud geword.
Ma-wees is die lekkerste lekker in haar lewe, sê sy. Dis boonop ʼn lekker wat nie ophou nie. “Wanneer ek na my dogtertjies kyk, dan dink ek dat hulle nie ouliker kan word nie. Dan doen hulle weer iets anders of begin gesels en dan is dit nóg ouliker. Dis heerlik om hulle dop te hou en te sien hoe hulle as mense ontwikkel, elkeen op haar eie manier. Dis ʼn wonderlike voorreg om ʼn ma te kan wees van drie gesonde kinders en hulle groot te maak in ʼn gesonde en gelukkige huwelik. Ernst is ʼn baie betrokke pa wat altyd met die kinders help. ʼn Mens kan net dankbaar wees oor soveel seën en genade,” sê Minki.
Iets wat ʼn mens opval van Minki is dat sy, anders as baie ander bekendes, heerlik in Afrikaans gesels op sosiale media. Afrikaans, sê sy, lê haar baie na aan die hart. Afrikaans is haar moedertaal en ook hulle huistaal. Sy skram nooit daarvan weg om op sosiale media in Afrikaans te kommunikeer nie, want dis ʼn taal waarin sy gemaklik is en die taal waarin sy dink en droom.
Een van die dinge waaroor sy juis baie dankbaar is, is die geleentheid wat haar drie kinders het om hier in Suid-Afrika in hulle moedertaal te kan skoolgaan. Tydens Ernst se rugbyloopbaan by Saracens, het hulle in Londen gewoon. Minki vertel dat die inperkingstyd haar nogal herinner het aan die tyd in Londen weens die feit dat hulle in daardie eerste vyf weke van streng inperking baie op mekaar aangewese was en geen familie of vriende gesien het nie.
“Alhoewel ek baie lief is vir Engeland, wil ek nie teruggaan nie. Die feit dat ek kan werk, dat my kinders kaalvoet én in Afrikaans kan skoolgaan, die feit dat hulle omring is met oupas en oumas, tannies en ooms en neefs en niggies, ons wonderlike klimaat en die hele leefwyse wat ons hier het, sal ek vir niks verruil nie,” sê sy beslis.
Met ʼn gelukkige huwelikslewe, drie pragtige kinders en ʼn baie suksesvolle loopbaan, wonder ’n mens onwillekeurig of daar nog drome oorbly. Sy gee weer daardie mooi glimlag van haar. “Daar sal altyd drome bly, maar ʼn mens mag seker ook nie gulsig wees nie. Vir nou hoop ek dat my program nog vir lank sal kan aangaan en goed doen. Dat mense dit altyd sal geniet en dat ons die beste moontlike programme kan maak. Ek is oneindig dankbaar vir al die geleenthede wat oor my pad gekom het en die werk wat ek kan doen. Eintlik kan ek vir niks meer vra nie.”