In Suid-Afrika moet jy ouer as 18, ’n Suid-Afrikaanse burger of permanente inwoner wees as jy ’n Suid-Afrikaanse kind wil aanneem. Aannemings kan egter slegs deur ’n geakkrediteerde maatskaplike werker wat aannemings hanteer, geprosesseer word. Alle voornemende ouers word ook streng gekeur om hulle geskiktheid en bevoegdheid om ‘n kind aan te neem, te bepaal. So ‘n keuringsproses sluit in agtergrondondersoeke, die stabiliteit van die voornemende ouers se verhouding, leefstyl, inkomste, persoonlike onderhoude, tuisbesoek, ens. ’n Polisie-uitklaring (aanneemouers word op die Suid-Afrikaanse Oortredingsregister nagegaan) en sielkundige evaluering is ook hierby ingesluit.
Nader dus ’n aanneemagentskap in jou area, ’n privaat maatskaplike werker, Kinderwelsyn, die CMR, of ’n maatskaplike werker van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, om die proses aan die gang te sit.
Voornemende ouers stel hulle voorkeure op skrif, bv. geslag, ras, ouderdom, ens. Hierdie kriteria word dan gebruik om ’n geskikte kind te soek. Die proses kan soms baie lank neem, veral as voornemende ouers baie spesifieke kriteria oor ras en ouderdom daargestel het. Party instansies gebruik ook bykomende kriteria, soos om die voornemende aanneemouers te vra om ’n fotoprofiel saam te stel. Die biologiese ouers kan dit dan ook as riglyn gebruik om hulle keuse te maak.
Sodra daar ’n kind beskikbaar is, word daar gereёl vir ’n kontakbesoek by die kantoor van die agentskap. Indien jy instem om die kind aan te neem, word jou verslag na die Kinderhof gestuur vir finalisering en om ’n Aannemingsbevel uit te reik. Die hofverslag word ook na die Departement vir Maatskaplike Ontwikkeling gestuur sodat daar gekontroleer kan word dat die regte prosedure gevolg is en om jou en die kind se besonderhede op te teken.
Biologiese ouers wat kind vir aanneming uitplaas
Hulle kan slegs toestemming vir aanneming onderteken na die geboorte. Dit word onder toesig in ’n hof gedoen. Beide ouers het dan 60 dae grasie om van besluit te verander – intussen word so ’n kind dikwels in ’n plek van veiligheid gehou tot na afloop van die grasietydperk.
Tydsduur en koste
Hoe lank die proses gaan neem verskil van geval tot geval. So ook hang die koste af van die spesifieke aannemingsagentskap en of die aanneming deur Kinderwelsyn of staatgesubsidieerde agentskap gefasiliteer word.
Daar moet onder andere begroot word vir fooie en uitklarings, maar dit is gerusstellend om te weet dat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling die fooie wat gehef word, monitor. Koste word volgens ’n glyskaal gewysig en aannemings kos tussen R12 000 en R15 000 indien dit deur Kinderwelsyn en agentskappe sonder winsbejag geskied. Indien jy sou besluit om die privaat roete te volg, kan dit jou tot R60 000 kos, maar dit kan eksterne keuring, berading en ondersteuning aan die kind se biologiese ma, in.
Wanneer kan ’n kind aangeneem word?
Hoofstuk 15 van die Kinderwet (pp 88 – 107) stipuleer dat ’n kind aangeneem kan word indien:
- die kind ’n weeskind is en geen voog of versorger het wat gewillig is om die kind aan te neem nie;
- daar nie vasgestel kan word waar die kind se ouer of voog is nie;
- die kind verlaat is;
- die kind se ouer of voog die kind mishandel of doelbewus verwaarloos het of toegelaat het dat die kind mishandel of doelbewus verwaarloos word; of
- die kind ’n permanente alternatiewe plasing nodig het.
Persone wat ’n kind mag aanneem
- ’n Kind mag gesamentlik aangeneem word deur:
- ’n egpaar;
- vennote wat permanente huishoudelike lewensmaats is; of
- ander persone wat ’n gemeenskaplike huishouding deel en ’n permanente gesinseenheid vorm.
- ’n Wewenaar, weduwee, geskeide of ongetroude persoon.
- ’n Getroude persoon wie se gade die ouer van die kind is of ’n persoon wie se permanente huishoudelike lewensmaat die kind se ouer is.
- Die biologiese pa van ’n buite-egtelike kind.
- Die pleegouer van ’n kind.
Kontak vir navrae:
Die beste is om die kantoor naaste aan jou te kontak en/of te besoek. Raadpleeg die webtuiste van die Nasionale Aannemingskoalisie van Suid-Afrika (NACSA) vir ‘n maatskaplike werker of agentskap in jou provinsie. Klik hier.
*Vrywaring: Die gedeelte oor die aannemingsproses soos in bogenoemde vervat, is net bedoel as ’n algemene riglyn en kan verskil afhangend van die instansie en kanale wat gevolg word. Afrikaans.com aanvaar dus geen verantwoorlikheid vir moontlike foutiewe inligting nie. Raadpleeg altyd die aangewese instansie en hulle onderskeie kundiges in jou omgewing.