2020 AVBOB-Poësiekompetisie kondig wenners aan

Tuis 5 Weet dit 5 Taalnuus 5 2020 AVBOB-Poësiekompetisie kondig wenners aan
Gedigte
Gedigte

Skrywer: Annelie van Jaarsveldt

“Poësie bring ons terug na mekaar, en na onsself. Want poësie behoort aan mense. So ook kan pyn as ’n katalisator vir kreatiwiteit gebruik word … AVBOB se poësieplatform is daarom ’n spilpunt van genesing,’n smeltkroes van skeppende talent.”

Die jaarlikse AVBOB-Poësiegala-aand, met die immer sprankelende Rozanne McKenzie as gasvrou, het op 6 Augustus 2020, in die brawe nuwe wêreld van sosiale distansiëring – en vir die eerste keer sedert die bekendstelling van die AVBOB-Poësiekompetisie in 2017 – virtueel en aanlyn plaasgevind.

AVBOB-bestuurshoof Carl van der Riet, Engelse redakteur Douglas Reid Skinner, en digter en dosent Liesl Jobson was die gassprekers wat gepraat het oor die meriete van poësie as deel van die rouproses en die sosiale nut en waarde daarvan. Van der Riet het ook gesê dat die bloemlesings wat uit hierdie kompetisie saamgestel word “moet dien as historiese rekord, ’n lewende bewaarplek van en vir al ons tale”.

Die kompetisie se hoofredakteur, Johann de Lange, glo dit is belangrik om ons inheemse tale te bewaar. “Geskiedenis op sigself vertel nie die hele verhaal van die mens nie; die kunste vorm die ander helfte, en taal is die menslikste ding wat ons het. Dit is ook deur en deur verweef met wie ons is en waar ons is. Taal is nie net hierdie deursigtige medium wat ons gebruik om dinge te sê nie; dit is die kwas, dit is die skilderdoek. Dit skep werklikheid. Daarom is poësie ʼn kragtige medium.”

Die 11 eerstepryswenners het elk ʼn kontantprys van R10 000 en ʼn boekbewys ter waarde van R2 500 ontvang.

In sy programrede by die gala-aand, het AVBOB-bestuurshoof, Carl van der Riet, sy dankbaarheid teenoor die nasie se digters uitgespreek: “Ek wil graag elke digter bedank vir haar en sy waagmoed en vir hul bereidwilligheid om kwesbaar te wees – dit verg enorme moed om ʼn mens se intieme gedagtes en gevoelens met ander te deel. Ons vereer julle vir jul eerlikheid en vrygewigheid, en dat julle hierdie reis met ons deel.”

Die 2020 AVBOB-Poësiepryswenners vir Afrikaans:

Wenner: Maretha Maartens – Peperboom

2de plek: Maritha Broschk – Swanesang

3de plek: Hannes Visser – Vir Piet Visser (21.7.1925 – 19.7.1967)

Maretha Maartens

Maretha Maartens is ʼn vryskutskrywer wat in Bloemfontein woon en al verskeie toekennings vir haar werk ingepalm het. Sy skryf sedert die ouderdom van 13 toe sy ʼn Olivetti-tikmasjien by haar pa present gekry het. Maretha het vir die kompetisie ingeskryf omdat dit vir haar soos ʼn welkome tuiste vir digters voel. Haar wengedig is geïnspireer deur ʼn onuitwisbare oomblik tydens haar ma se laaste winter op aarde – die bewustheid van die naderende dood.

Peperboom

Maretha Maartens (1ste plek)

“Geil en goed gegroei om só verwoes te word.”

Die lem vibreer deur bas en duramen

en jy, suurstofsoekend voor die venster,

kreun oor die peperboomstam wat grond toe stort.

 

Ma, jy was tog lewenslank lembestand

onknakbaar sterk en doodweerstandig

– ons lowerryke peperboom

huisboom, groen baken van ons binneland.

 

Ons het ons honger en nood voor jou oopgegooi

en die bessies wat jy strooi soos die sysies

streepkoppies en rooirugsaadvreters opgepik.

Weet jy, Ma, daardie bessies was genesend rooi.

 

“Aan ’n peperboom,” het jy gesê, “kleef daar ’n eenvoudigheid

wat aan saadvretervoëls en koeltesoekers bied wat hulle soek.”

Toe jy gekreun het omdat die stam dwarsdeur sy pithout knak

– ou huilboom, huisboom in jou gewaande onaansienlikheid –

 

moes ek gesê het: “Die boomsaer dink hy vát jou, Ma,

maar die takke uit jou stam sal jou peperbessies dra.”

Swanesang

Maritha Broschk (2de plek)

dood begin by die voete, het ek Breyten aangehaal

na jou hoeveelste oudisie,

jy het net gelag, gesê: as ek nie dans nie, ís ek dood

en jou bloeiende tone verbind en verberg

in bedrieglike satyn

ons eiesoortige pas de deux – ek denker, jy danser –

twee spikkels in ’n skare aspirantdromers,

ek onthou hoe ons in jou flat in Sunnyside bokswyn drink,

Mahler luister, en ek aanhaal – God is dood –

jy wat lag soos ’n drein – nee, Nietzsche is! –

jou arms swaaiend asof jy ook windmeulens jaag,

ons het geglo ons is uniek soos jy glo as jy jonk is

en aan halms van clichés klou – if you can dream it you can do it –

en hét jy gedroom van hoofswaan in die hoofstroom wees,

die slapende skoonheid verrys ná die kus van sukses,

die naam Gisela klink na Giselle, lag jy en pirouette tot by die yskas

vir nog ’n glasie,

later ’n buiging vooroor soos ’n kwynende Odette

terwyl jy ’n wit lyn sny

want dit maak jou veerlig en jy wil vlieg, vlieg soos ’n swaan

jy maak jou buiging, keer op keer, in rehab,

plié oor ’n urienstokkie, jou pupille swart gate in die kollig van ’n dokterslig

maar jy wil vlieg, veerlig soos ’n swaan

die opsigter kry jou in jou flat in Sunnyside

met rigor mortis-tone gepunt en onverbind

vingers steeds ongekrul – allongé! – en ek dink Gisela wat na Giselle klink,

as jy nie dans nie, is jy dood, my maat, met die laken ’n gordyn oor jou gesig

en ek vra vir God of jy en Nietzsche nou op dieselfde plek is

en huil en huil elke keer as ek Mahler hoor

Vir Piet Visser

(21.7.1925 – 19.7.1967)

Hannes Visser (3de plek)

pa, ek verjaar vandag, twee en sestig jaar nadat

jy my geboortehuis in Curriestraat gekoop het

en twee en vyftig jaar nadat hulle jou daardie

Woensdagnag op ’n wit trollie uitgehaas het

ek het nog één foto van die huis met sy bont

stoeptralies en hekke van gekrulde yster wat jy

oor naweke op die myn gesweis het, maar die

swart en wit versteek die helder kleure van toe

ek kan bladsye vol gedigte skryf oor jou, maar

sukkel my dood om te onthou hoe jy lyk, want ma

het mos met haar tweede keer in die waan van trou

teatraal een Saterdag vuur gemaak met alles van jou

ja, ek verjaar vandag twee en vyftig jaar nadat jy

by jou stoeptralies en ysterhekke verby en onder

flitsende rooi ligte onomkeerbaar verdwyn het en

elke jaar is daar meer en meer wat ek jou nog wou vra

Skryf nou in vir 2021

Die vierde kompetisie is reeds op 1 Augustus 2020 geloods en jy word uitgenooi om deel te neem.

“Deur die kompetisie het AVBOB ʼn ruimte geskep waarbinne die digkuns vir ons almal toeganklik is. En dit is die wonderwerk: Al wat ons hoef te doen, is om die deur van die poësiebiblioteek oop te maak, om ons oë en koppe oop te maak, en te lees.” – John Muir, Amerikaanse omgewingskundige

Besoek www.avbobpoetry.co.za om in te skryf.

 

Volume 3 van die AVBOB-Poësie-bloemlesing nou beskikbaar

Die jongste bloemlesing, I Wish I’d Said, wat saamgestel is deur die kompetisie se hoofredakteur, Johann de Lange, saam met digter en skrywer Goodenough Mashego, bevat 102 plaaslik geskrewe gedigte – 66 gedigte (ses in elke ampstaal) wat in opdrag geskryf is, 33 deur die eerste- tot derdepryswenners in elke taalkategorie, en drie gedigte in die |Xam-taal wat besig is om uit te sterf.

Volume 3 kan bestel word by www.naledi.online of 078 648 8616, en is beskikbaar by vooraanstaande boekwinkels. Of SMS die woord ‘poem’ na 48423 (teen ʼn standaardkoste van R1.50 per SMS) om dit per pos teen ’n totale koste van R240 te ontvang.

Besoek gerus die AVBOB aanlynpoësieversameling, wat vryelik beskikbaar is by www.avbobpoetry.co.za.

Bron: Persverklaring

by | Aug 12, 2020 | Taalnuus, Weet dit

Deel hierdie plasing