Ek kan rock in my taal.
Ek maak amok in my taal.
En ek kan skok in my taal.
Maar kan ek vloek in my taal?
Ons almal het dit al gedoen… Wanneer iemand voor jou motor injaag, wanneer jy jou kleintoontjie teen die sitkamerbank stamp, of wanneer jy jou roomys op die vloer laat val. Tog bly die vraag onbeantwoord: Hoekom vloek ek en jy?
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het einde verlede jaar ’n simposium oor vloek en vloekwoorde aangebied, wat opnuut die kollig op hierdie taboe-onderwerp geplaas het. Professor Gerhard van Huyssteen, taalkundige aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en die oprigter van vloek.co.za het ’n navorsingsprojek van stapel gestuur wat vloek in Afrikaans bestudeer.
Hierdie projek word onderneem met befondsing van die NWU, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en BlueTek Computers.
Hoekom is dit belangrik om navorsing te doen oor vloek?
Weens die taboewaarde van vloekwoorde is navorsing in hierdie veld baie beperk. Volgens Gerhard is dit byvoorbeeld belangrik dat daar in die veld van kunsmatige intelligensie onderskei word tussen “gewone taal” en vloektaal. Toepassings soos Alexa en Siri moet vloekwoorde kan herken, wat slegs moontlik is as hierdie woorde in die programmatuur gemerk word. Daarom stel vloek.co.za hul ook ten doel om ’n Afrikaanse vloekwoordeboek – die Vloekepedia – saam te stel wat nie net ’n definisie vir verskeie vloekwoorde bied nie, maar hul ook op grond van hul taboewaarde van mekaar onderskei.
Oor die afgelope paar maande het Gerhard al taboewaardes vir ʼn klompie woorde aan die hand van meningspeilings ingesamel. Hierdie eerste resultate is vanaf vandag op ʼn interaktiewe manier beskikbaar by vloek.co.za se Vloekmeter.
Wanneer is ’n woord ’n vloekwoord?
Navorsing het reeds uitsluitsel gebied oor die verskillende domeine waaruit Afrikaanse vloekwoorde ontleen is. ʼn Paar “makkerige” voorbeelde illustreer die domeine:
- Diereryk (belhamel)
- Natuur (donder)
- Religie (allemapstieks)
- Skatologie, die domein wat betrekking het op liggaamsprosesse en uitskeiding (poefie)
- Seks (tollie)
- Siekte en dood (vrek)
- Andersheid (skurk, of skelwoorde om na ander bevolkingsgroepe, mense van die ander geslag, ensovoorts te verwys)
Een van die onopgeloste probleme in (internasionale) navorsing oor vloek, is die vraag oor wat presies ʼn vloekwoord is en wanneer ʼn woord as ʼn vloekwoord beskou kan word. Is ʼn versagtende woord (soos poefie hier bo) byvoorbeeld ook ʼn vloekwoord slegs omdat dit na ʼn taboe domein verwys? Tans gebruik Gerhard en sy span die term “vloekwoord” as sambreelterm wat alles insluit – van beledigings, vervloekings, swetse en skelwoorde, tot versagtende woorde wat gebruik kan word in omgewings waar ʼn mens dalk maar wil doekies omdraai. Al wat nié ingesluit word nie, is neutrale, wetenskaplike woorde, soos ekskresie in plaas van poefie.
Hoekom vloek mense?
Nog ʼn vraag wat Gerhard hoop om deur sy navorsing te beantwoord, is waarom Afrikaanse mense vloek, en of dit dalk verskil van mense uit ander taalgroepe. Selfs ook in internasionale navorsing is daar nog nie ʼn klinkklare beeld hierop nie.
Om antwoorde op hierdie en ander verwante vrae oor vloek te kry, gaan vloek.co.za, in samewerking met Afrikaans.com, in die komende maande blogs, podsendings en ʼn hele klomp meningspeilings oor dié boeiende onderwerp beskikbaar stel. Ons loods ook verskeie kompetisies wat jou die geleentheid bied om aan hierdie unieke navorsingsprojek deel te neem.
Hoe werk die kompetisie?
Die hoofmeningspeiling oor hoekom mense vloek, is vanaf 7 Augustus 2020 tot en met 31 Oktober 2020 op vloek.co.za beskikbaar. Een gelukkige persoon wat hierdie vraelys invul, sal met ’n kontantprys van R1 000 wegstap.
Verder gee Afrikaans.com ook maandelikse pryse weg. Elke maand kom ’n ander tema van vloek aan die beurt. Ons gaan byvoorbeeld fokus op vloek in Afrikaanse musiek (September 2020), TV, rolprente en teater (Oktober 2020) en publikasies (November 2020), onder andere ook met die doel om die eerste vloekwoorde in Afrikaans op te spoor.
Aan die begin van elke maand sal ʼn nuwe tema aangekondig word. Deelnemers sal dan voorbeelde wat met daardie tema verband hou, op vloek.co.za se webblad kan gaan laai, deelneem aan meningspeilings, luister na onderhoude met bekende Afrikaanse mense, ensovoorts. Aan die einde van elke maand sal daar ook ’n kontantprys van R1 000 vir ʼn gelukkige deelnemer gegee word.
Die wenners van die kompetisie, sowel as die voorlopige resultate van die hoofmeningspeiling, sal op 1 Desember 2020 bekendgemaak word.
Jy moet registreer om deel te neem
Om te verseker dat voldoen word aan die streng etiese voorwaardes wat aan sulke wetenskaplike navorsing gekoppel word, moet deelnemers op vloek.co.za se webtuiste registreer. Die registrasieproses verseker ook dat jy in die toekoms baie vinnig en maklik aan vloek.co.za se meningspeilings kan deelneem. Registrasie is gratis en inskrywings word volledig anoniem hanteer.
Om as deelnemer by vloek.co.za te registreer, klik hier.
As jy al geregistreer is en direk aan die meningspeiling wil deelneem, klik hier.
Vir die volledige bepalings en voorwaardes, klik hier.
Bron: VivA Afrikaans
Ek vloek in my taal omrede dit n manier is om beter uit te brui oor hoe ek voel en dis die rede vir baie mense…sekerlik.