
Dating … of dan nou vlerksleep, is ’n nodige maar gereeld pynlike en humoristiese ervaring in ’n mens se pogings om uiteindelik ’n lewensmaat te vind. Dis ritse ongemaklike koffies, later se lag oor skielike belangstelling in oefening, lees of kook om die ander party te beïndruk, en noukeurige beplanning van elke teksboodskap met inset van jou 10 beste vriende of vriendinne. Tog is dit ook een van die lekkerste ervarings in ’n mens se lewe. Ja, die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik, en, deesdae, is die liefde ook aanlyn.
Volgens navorsing maak ’n beweerde 91-miljoen persone wêreldwyd van toepassings soos Tinder en iDate gebruik om pasmaats te soek. Hieronder ook talle Afrikaanssprekendes … tot dusver moes ons egter in Afrikaans op Engelse toepassings probeer vry. Maar, die voëltjies fluit dat dit verander het – Koer, die eerste Afrikaanse vlerksleeptoepassing, is nou wêreldwyd en gratis beskikbaar om af te laai.
Binne ’n week het ons al meer as 3 000 mense – dit bevestig dat die behoefte inderdaad bestaan. – Armand Aucamp, Koer
Afrikaans.com het met een van die stigters, Armand Aucamp (ook ’n bekende akteur en kok), gesels oor wat hierdie toepassing uniek maak.
Hoekom liefde op ’n Afrikaanse toepassing soek, eerder as bloot in Afrikaans op van die ander gewilde vlerksleeptoepassings soos Tinder?
Dit was ons hele uitgangspunt: Hoekom sal mense Koer kies bo die wat reeds bestaan? Die behoefte om te doen en leef in Afrikaans is duidelik uit besighede soos Lekkeslaap en Virseker – verblyf en versekering is immers dienste wat in oorvloed ook in Engels beskikbaar is. Wanneer ’n mens egter in jou moedertaal kan omgaan, is daar meer gemak en selfvertroue. Natuurlik kan jy dalk op ’n ander platform ’n Afrikaanssprekende ontmoet, maar ons wou ’n plek skep waar dit juis die fokus is. Ons taal, kultuur en mense is uniek, en na gelang daarvan het ons ’n unieke en geteikende toepassing ontwikkel.

Wat kan mense te wagte wees wanneer hulle die toep aflaai?
Absolute eenvoud. In ons marknavorsing het ons gevind dat die Afrikaanse vlerksleep-webtuistes wat wel bestaan nie gebruikersvriendelik is nie – dit neem ure om jou profiel uiteindelik lewendig te maak. Boonop is die navigasie ’n nagmerrie. Ons wou hierdie model verander. Die toep kan gratis afgelaai word, jy sluit dan deur Facebook of e-pos aan, en voltooi ’n vinnige en eenvoudige proses om jou profiel te skep. Daarna kan jy koer na hartelus!
Die toepassing is nou al meer as ’n week beskikbaar … Hoeveel Afrikaanssprekendes koer reeds? Hoe is die toepassing deur die publiek ontvang?
Ek dagdroom al vir ’n jaar – as ons 100 mense per dag kan werf, sal ons 3 000 lede hê aan die einde van maand 1. Binne ’n week het ons al meer as 3 000 mense – dit bevestig dat die behoefte inderdaad bestaan. Ons is baie opgewonde om Afrikaanssprekendes by mekaar te bring! Die terugvoer wat ons tot dusver ontvang, is baie positief.
Oor die afgelope jare het dit meer aanvaarbaar geraak om aanlyn na ’n pasmaat te soek … Julle bied ook egter opsies vir vriendskap. Vertel ons meer daarvan?
Ons dink altyd dis kinders wat moeilik vriende maak, maar ek wonder of dit nie moeiliker is as ’n volwassene nie. Veral nou dat mense van die huis af werk … waar moet jy vriende maak? Ons glo ook dat die post-Covid-19-wêreld baie meer afgesonder gaan wees. Digitale oplossings tot vriende ontmoet is dus die toekoms.
Baie mense glo dat kuberkletskamers gevaarlik is. Watter maatreëls het julle ontwikkel om persone se gemoedsrus en veiligheid te verseker?
Die aard van toepassings op sigself maak dit eintlik veiliger as tradisionele vlerksleep – jy hoef nie jou huis te verlaat gedurende die eerste fases van die verkenningsproses nie. Binne Koer het jy ook die opsie om iemand op enige tyd te blok of te rapporteer. Verder, word geen persoonlike inligting soos selnommers op jou profiel gedeel nie. Om mense teen hulself te beskerm, laat ons ook nie toe dat enige foto’s uitgeruil word nie.
Sal graag ‘n handige man ontmoet wat reeds iets in die lewe bereik het bv ‘n elektriese engineer. Die klem is op “handig”. Hy moet gaaf wees, interessant kan gesels (joviaal) Hou van reis (belese & berese is is plus punte). Geduldig wees & definitief nie kortgebonde. Drinkers wat nie perke het – pas nie in my prentjie. Hy moet
romanties & liefdevol wees. Hy moet darem nie te kort wees – want ek is lank (177 cm+), want ek is lank). Ouderdom – vanaf so vanaf 50 +.