In hierdie podsendingreeks gesels Afrikaans.com met merkwaardige persone binne die Afrikaanse leefwêreld. Ons bied jou ‘n blik op jou gunstelingbekendes op maniere soos jy hulle nog nooit vantevore kon leer ken nie, en stel jou ook bekend aan nuwe name, projekte en idees.
In hierdie episode gesels aanbieder Edwin van der Walt met die geliefde aktrise Mila Guy (Hotel, Wonderlus, Binnelanders). Hulle gesels oor:
- Haar tyd in Nieu-Seeland.
- Die moeilikste seisoene in haar lewe.
- Die realiteite van aktrise-wees.
- Waarom sy daarin glo om ja te sê.
- Wat sy in die wêreld sal wil verander.
Luister saam …
Mila Guy is ‘n aktrise en opgeleide kostuumontwerper van Nelspruit wat tans in Linden, Johannesburg woon. Sy is bekend vir haar rolle in films soos Liewe Kersfeesvader (2017), Wonderlus (2017) en die kykNET-komediereeks, Hotel (2016).
Edwin van der Walt is ‘n akteur, aanbieder en entrepreneur. Sedert hy vir die eerste keer gehore se harte in 2014 in die romantiese komedie, Hollywood in my Huis, gesteel het, het ‘n rits lokettreffers gevolg. In films soos Jagveld, Wonderlus, Ballade vir ‘n Enkeling en Die Pro het hy sy diversiteit as kunstenaar ten toon gestel en die respek van die industrie sowel as aanhangers gewen. Dit is egter die man agter die karakters, Edwin self, wat deesdae groot golwe maak. Onder sy vriende, en nog meer onder die publiek, word hy geken as ‘n persoon wat verbetering van self en van ander voorop stel. Edwin leef sy passie hiervoor ook uit op die platform Novieguide , waar ‘n verskeidenheid aanlyn kursusse gekoop kan word.