
Vir Jacorien Swart het die groot deurbraak een aand by ’n troue gekom. Een van haar vriende het na haar toe gedraai met die vraag: Op ’n skaal van een tot tien, hoe mal is jy? Grappenderwys het sy hom met twee groot oë beantwoord. Hy het gevolg met die stelling dat hulle hulself besig hou met ’n klomp dinge waarin hulle nie belangstel nie omdat hulle te bang is (of nie mal genoeg is) om dít te doen wat hulle regtig WIL doen nie.
“Ek was uit die veld geslaan omdat ek so pas ’n speech gekry het wat ek gewoonlik aan ander mense gee,” sê Jacorien. Net daar het sy die besluit gemaak om haar werk as onderwyser te bedank en al haar tyd en aandag aan haar juweelbesigheid, Tjirp, te skenk. Vandag dryf Jacorien die Tjirp-skip met twee ander kollegas en vriende – Mohneen van Wyk en Thoko Mnguni.

Ons het by Jacorien gaan inloer om meer te leer oor wat Tjirp so uniek maak.
Hoe het Tjirp ontstaan?
Ek kan die kere wat ek juwele gekoop het op my een hand tel. Ek het nog altyd my eie juwele gemaak met gomgewere, glitter, knope, geld, felt, materiaal, hout, leer – enige ding wat ek in die hande kon kry. Ek het met klei begin werk omdat my idees nie gewerk het met ander materiale nie en ek nie geld vir duur masjiene gehad het nie. Ek rol steeds my klei uit met ’n roller en vorm die meeste dele met my hande self. Ek het in 2015 vir ’n vriendin gewys hoe om haar eie juwele te maak sodat sy nie deur haar ore daarvoor betaal nie en later het ek begin om dit te verkoop. Dit het vrek stadig gegaan aan die begin. Ek dink ek het een bestelling gekry. My vriendin, Christine, het toe gesê ek moet dit na ‘n mark neem en daar het dit vlam gevat.
Wat maak Tjirp se juwele so uniek?
Elke stukkie van hierdie juwele word met klei en deur een mens gemaak. Die klei is nie sag nie en word eers 45 minute lank gebrei voordat dit gebruik kan word. Die klei kom ook nie voor in die kleure wat ons gebruik nie, so elke kleur word ook spesiaal gemeng. Om een paar oorbelle te maak, neem sowat 60 minute waarna dit dan in ‘n oond gebak word. Ek het al van kleins af met klei gespeel op elke liewe geleentheid wat ek kon kry en is MAL daaroor. Ek is baie lief vir mode en juwele en om goed met my hande te maak.



Hoe werk julle ontwerpproses?
Ek ontwerp al die juwele self (sonder die hulp van Pinterest). Dit is nie soveel van ‘n proses as wat dit ‘n geskenk is nie. Ek is nie kunstig nie, maar ek dink wel die Here het my geseën met bonatuurlike kreatiwiteit en ek is elke dag dankbaar dat ek iets kan doen wat ek só baie geniet!
Hoekom doen julle juis besigheid in Afrikaans?
Afrikaans is my moedertaal. Ek vind dit baie makliker om in Afrikaans besigheid te doen (daar is wel Engelse kliënte en ek help hulle met liefde in Engels … natuurlik), maar ek glo daar is baie minder misverstande wanneer twee mense in hulle moedertaal kommunikeer. Aan die begin het ek hier en daar Engels gepraat, maar baie vinnig besef dat die meerderheid van my kliënte Afrikaans is.
Wat is jou toekomsdrome vir Tjirp?
Tjirp is soos ’n kind vir my. Ek wil net die beste hê vir my besigheid. Dit is klaar vir my verskriklik lekker om in die dorp te loop en iemand te sien wat van my juwele dra. Ek wens dat die idees nooit opraak nie. Ek sal dink dit is baie cool as dit so kan groei dat een van my kinders dit eendag by my kan oorvat.
Tjirp se slagspreuk is “Niks wat mooi is, is perfek nie”. My wens vir die toekoms is dat elke vrou wat dit dra dit sal onthou.
Vir meer inligting of om juwele te bestel, besoek gerus Tjirp se Facebook- en Instagramblaaie.