Verlede maand het ons niefiksieboeke wat gelees moet word, op ons Lapa-boekrak uitgelig. Hierdie maand verskuif ons die kollig terug op fiksie … en deel ons drie van Lapa Uitgewers se gunstelingboeke vir ouer tieners en volwassenes. Laai die eerste hoofstuk gratis af en besluit self watter een jou verbeelding die meeste prikkel … daarna is dit doodmaklik om die boek aan te skaf!

Die 17de veer
Nanette van Rooyen
Lara werk in haar vrye tyd by ’n tatoeëersalon, en wonder soms oor die pa wat sy nooit gehad het nie. Alex het in ’n kinderhuis grootgeword en het ’n vreemde fassinasie met uile. Lara weet dit nog nie, maar haar en Alex se stories is op die punt om vir ewig verstrengel te word. En alles begin met ’n boks vol briewe wat sy in ’n hoededoos op haar ma se kas ontdek.
Koop die boek of e-boek hier.

Oopmond
Jan Vermeulen
Hierdie boek was die wenner van LAPA se Jeugromankompetisie in 2017. Madelaine Taaibosch vermoed die skenkerhart wat in haar bors klop, is ’n gebroke hart. Die dokters verseker haar daar is niks met die hart verkeerd nie, maar sy begin vreemde dinge sien. Dinge uit die verlede. Dinge wat in die toekoms gaan gebeur. Die speurtog na die waarheid oor haar skenker laat haar stadigaan besef dat party harte mekaar selfs oor eeue heen kan vind.
Koop die boek of e-boek hier.

Pleisters vir die dooies
Fanie Viljoen
In een hellenag konfronteer die swerwende, naamlose hoofkarakter sy duiwels kaalvuis; ontmoet hy vreemde en skrikwekkende karakters wat sy innerlike demone laat lewe kry; vertroetel hy sy wraakgedagtes soos ’n magasyn vol koeëls; lek hy die wonde van sy tienerseerkry. Hierdie is nie ’n boek vir sensitiewe lesers nie. Dis ’n boek wat tieners én hul ouers moet lees. Dis ’n boek oor seerkry en wraak. En tog is dit ’n boek wat onverwags troos en begrip, soos pleisters, uitdeel. Dis ’n vuishou van ’n boek.
Koop die boek of e-boek hier.
Ons is volgende maand terug met ‘n splinternuwe keur op die boekrak … in watter genre? Daarvoor sal jy moet wag en kyk!