Afrikaans.com se nuutste veldtog en TV-advertensie is net weereens ’n bewys dat Afrikaanssprekendes ’n woord of uitdrukking vir elke situasie het – en bestaan daar nie ’n woord nie, dan skep hulle een! Boonop sit hulle ’n lag by die traan en is die nuutskeppings gewoonlik met humor deurspek, want as die lewe druk, druk hulle hom eenvoudig harder terug.

Agtergrond
2020 was tot dusver ’n jaar van verandering – alles te danke aan die koronapandemie. ’n Virus wat die lewe soos ons dit ken, op sy kop kom draai het. Vreemde ervarings moet egter naam kry en so het bestaande woorde nuwe betekenis gekry en is daar ook nuwe woorde geskep om sin te maak van die onderskeie gedeelde ervarings wat skielik deel van ons lewens geword het. Hieruit het Afrikaans.com se Covid-19-woordeboek ontstaan. ’n Woordeboek wat terme en verduidelikings bevat vir al die vreemde ervarings waarmee alledaagse Suid-Afrikaners gekonfronteer is.
Dit is hierdie woorde (en ervarings) wat die vertrekpunt vir Afrikaans.com se nuutste veldtogadvertensie was, want daarmee wil ons die kollig plaas op Afrikaans se dinamiese aard en wys dat elke Afrikaanssprekende help skryf aan die toekoms van die taal.
Meer oor die advertensie
Met hierdie advertensie poog Afrikaans.com om ’n belangrike deel van die geskiedenis in woorde en beelde vas te vang. Gebeure of ervarings dien dikwels as inspirasie vir die skep van nuwe woorde of uitdrukkings in Afrikaans.
Die oorhoofse boodskap
Alhoewel baie dinge verander het, bly die lewenskragtigheid en dinamiese aard van Afrikaans steeds behoue en word daar steeds aan die toekoms van die taal geskryf. Daarom word ’n ieder en ’n elk genooi om saam te skryf.
Die advertensie speel in 2020 in Suid-Afrika af – in ’n tyd waarin die lewe soos ons dit ken, onherroeplik verander het. Deur gebruik te maak van ’n verteller, word spesifieke scenario’s van die veranderende realiteite in 2020 uitgebeeld en word nuutskeppings ingespan om hierdie ervarings te beskryf – maar met ’n goeie skeut humor daarby.
Die volgende woorde word in die advertensie uitgebeeld:
- Tuinholler – Daardie persoon wat ondanks inperking in sy tuin of op sy sypaadjie oefen – kompleet met oefenklere.
- Klikaktivis – ’n Persoon wat klik op individue wat nie die inperkingsreëls (volgens sy/haar oordeel) volg nie.
- Grypkoper – Iemand wat paniekaankope doen en produkte opberg – in die geval die alombekende opgaar van toiletrolle.
- Wynappel – Die pynappels wat mense in hul massas aangekoop het om tuis alkohol te stook.
- Sofajoga – Die oefening wat jy op jou rug op jou rusbank doen terwyl jy jouself eintlik vergryp aan lekkernye en vraatkyk op TV.
- Grendelglipsie – Babas wat gedurende die inperkingstyd verwek is – want ’n mens kan nou ook nie heeldag TV kyk nie!
En hier is hy!
* Die advertensie word vanaf 15 Julie 2020 op Via, DStv-kanaal 147, uitgesaai. Kyk gerus Minki om 19:30 wanneer Afrikaans.com se nuutste advertensie die eerste keer op TV te siene sal wees.
Afrikaans is soet en streel die oor..
Dit gee sprankel aan die tong en
Laat die siel sing.
Afrikaans jy is my liefde!
Vat aan mens se hart… Al hierdie eg-Afrikaanse nuutskeppings.
Wonderlik! Ek praat, dink,bid, lees Afrikasns vir soetkoek, pitkos, suurkontjies, hartskos, boustof, omgee en korswil!
My kleinseun, Jacques Swanepoel, van Alberton is ‘n volle 3 jaar en 5 maande oud. Toe ons so ‘n maand gelede vir hom ‘n gesigskerm (face shield) opsit, haak hy af en praat spontaan van sy gesigvenster. Dink dit is n goeie nuwe woord.
Dit is werklik jammer dat die “onbekende” digters nie n regverdige kans teen die geharde digters gekry het nie. Ek sou sê Jan Publiek verdien n regverdige kans op die skrywe van poësie.