In 2014 het Rolene Strauss se lewe onherroeplik op die Mejuffrou Wêreld-verhoog verander. Met die afsluiting van dié kompetisie, was dit duidelik dat veel meer as skoonheid binne haar borrel. Nou, ses jaar later, as mamma, besigheidsvrou, spreker en skrywer, is Rolene meer as ooit die baken van hoop wat sy as 21-jarige beloof het om te word – ’n rolmodel – maar tog ook so heeltemal menslik. Ons het met haar gesels oor haar nuutste projekte, ouerskap en Covid-19. Lees en kuier saam!
“As ’n mens helderheid wil hê oor wat jy wil doen, moet ’n mens ook helderheid hê oor wie jy is – en vir my is Afrikaans ’n baie groot deel daarvan… My vermoë om ’n goeie ma te wees, is ook soveel meer as ek dit in my moedertaal doen.” – Rolene Strauss, voormalige Mej. Wêreld

Rolene by die bekendstelling van haar Christelike dagboek, Vanuit die Hart.
As ’n voormalige Mejuffrou Wêreld verwag ’n mens nie dat jy, soos soveel ander mense, ook al met selfvertroue gesukkel het nie. Dit het jou aangespoor om die ‘’No, Perfect’’-beweging te begin. Watter raad het jy vir ander mense wat sukkel met selfwaarde?
Baie keer as ek praat oor my eie worsteling met selfvertroue wil niemand my glo nie… Ek dink dis ’n bewys dat ’n mens nie selfvertroue van buite af kan kry nie, maar dat selfvertroue van binne kom. Dit wat jy het, hoe mense jou sien of hoe jy lyk, gaan dus nie vir jou selfvertroue gee nie. Ek het altyd gedink dat selfvertroue ’n abstrakte term is en dat ’n mens nie regtig daaraan kan werk nie – of jy het dit of jy het dit nie. Ek is tans besig met ’n meestersgraad in filosofie en afrigting, en het met daardie navorsing besef dat dit wel iets is wat ’n mens prakties kan opbou. Die raad wat ek dus vir mense het, is eerstens om te weet dat jy nie alleen is nie – daar is soveel mense wat daarmee struikel. Tweedens, om te besef dat selfvertroue van binne af kom. Dit is waarom ek ’n aanlyn kursus, Herontdek Jou Selfvertroue, ontwikkel het. Die kursus sal vanaf 24 Julie beskikbaar wees en sal veral vroue met hierdie kwessie help.

Rolene – ‘n skoonheid van binne en buite.

Rolene word in 2014 as Mejuffrou Wêreld verkies.

Rolene is passievol daaroor om ‘n gesonde en aktiewe leefstyl te handhaaf. Foto: Instagram.
Ons is tans in die oploop tot Mejuffrou Suid-Afrika 2020. Na jou mening, wat is die een eienskap waaroor ’n Mejuffrou Suid-Afrika moet beskik?
Wat vir my die belangrikste is, is dat jy helderheid moet hê oor jou toekoms. Baie vroue wat inskryf se hoofdoel is om die titel te wen … As jy egter op die ouderdom van 23 of 24 jou lewensdoelwit verwesentlik – wat dan daarna? Ek glo wanneer jy duidelikheid het oor waarheen jy wil gaan en wat jy wil doen met jou lewe, jy die platform werklik kan gebruik om lewens te verander. Jy moet weet waar jy op die langtermyn ’n verskil wil maak. Vir my was dit (en is dit steeds) om vroue te help met die dinge waarmee ek self ook sukkel. Mejuffrou Suid-Afrika was dus deel van die groter prentjie, eerder as die uiteinde.
Jy is ’n rolmodel vir soveel mense. Wie is jou rolmodelle?
Dit sluit mooi aan by waaroor ons vroeër gesels het … Een van die dinge wat jy kan gebruik om jou selfvertroue op te bou, is om rolmodelle te hê wat van toepassing is op die huidige situasies waarin jy jouself bevind. Dit klink dalk teenstrydig – ons het immers so pas gesê dat selfvertroue van binne af kom. Maar, as jy ’n rolmodel het wat iets bereik het wat jy graag wil bereik, of ’n uitdaging oorkom het wat jy graag wil oorkom, gee jy jouself die toestemming om dit ook te doen. ’n Ander belangrike ding is om nie na ’n persoon op te kyk nie, maar na sekere kwaliteite wat jy binne hulle raaksien. Ons is almal mense wat soms kortkom. Afhangend van die situasies waarin ek al was en die persoon waarna ek strewe om te word, het ek dus al baie verskillende rolmodelle gehad – dit is moeilik om enkele individue uit te lig. Ek het verskillende rolmodelle in verskillende fasette van my lewe, byvoorbeeld spiritualiteit, fisiese gesondheid, besigheid, verhoudings, ensovoorts. Terselfdertyd is dit ook belangrik om inspirasie van hierdie persone af te ontvang, sonder dat jy jouself met hulle begin vergelyk. Vergelyking kan die teenoorgestelde van die gewenste effek tot gevolg hê.
Jy is ’n skrywer, spreker, afrigter én dokter. Watter ander drome wil jy nog graag bewaarheid?
Die oorhoofse doelwit van my lewe is om my volle potensiaal te bereik, om my familie – veral die drie manne in my lewe – te help om hulle volle potensiaal te bereik, sowel as om vroue te help met die dinge waarmee ek ook gesukkel het. Enige geleenthede wat oor my pad kom om dit te doen, sal ek graag wil aangryp. Op die oomblik is een van daardie geleenthede om aanlyn hulpbronne te ontwikkel wat ’n gehoor van mense bereik waarby ek nie tans persoonlik kan uitkom nie.
Hoe het Afrikaans bygedra tot die vele suksesse wat hierbo genoem word en wat beteken Afrikaans vir jou?
Vir my gaan ’n taal hand aan hand met kultuur en identiteit – ek is so trots om Afrikaans te wees. Toe ek jonger was, het ek soms gewonder of daar genoeg geleenthede binne die taal is en hoe dit gaan bydra tot dit wat ek graag wou bereik … Dit is egter ’n integrale deel van ’n mens se persoonlikheid en vorm ook grootliks hoe jy die wêreld ervaar. As ’n mens helderheid wil hê oor wat jy wil doen, moet ’n mens ook helderheid hê oor wie jy is – en vir my is Afrikaans ’n baie groot deel daarvan.
Afrikaans.com se projekbestuurder, Milanie Vosloo, in gesprek met Rolene.
Jou blootstelling strek oor grense en tale … Waarom kies jy steeds om jou seuns in Afrikaans groot te maak?
Ek glo dat elke ding wat in ’n mens se lewe geplaas is, is daar om ’n rede, hetsy dit nou die taal is wat jy praat, of waar jy grootword. Ek het soveel geleer by die Afrikaanse kultuur en wil graag my seuns die geleentheid gee om dieselfde te doen. My vermoë om ’n goeie ma te wees, is ook soveel meer as ek dit in my moedertaal doen. Ongeag die taal of tale wat hulle eendag gaan praat, fokus ek ook daarop om hulle die universele taal van liefde en genade te leer. As ’n mens daardie taal kan praat en verstaan sal jy suksesvol wees en werklik ’n verskil kan maak.

Rolene met die drie manne in haar lewe. Foto: Instagram
Hoe balanseer jy ouerwees met ’n lewe in die kollig?
Met ’n klein woordjie – prioritiseer. Dit is so belangrik om te weet waarvoor jy wil ja sê en waarom. Dit is hoekom van die aanlyn hulpbronne wat ek tans ontwikkel juis oor tydsbestuur gaan. Dit voel soms of die lewe ’n mens in alle rigtings trek, maar jy kan dit voorkom en jy is in beheer van waarby jy jouself betrek.
Wat is die eerste drie dinge wat jy soggens prioritiseer?
Eerstens Bybelstudie – om myself emosioneel voor te berei vir die dag. Dan, natuurlik, my man en kinders – om seker te maak dat ek kwaliteit tyd met hulle spandeer voor my werksdag begin. Laastens maak ek tyd om gesonde kos vir die dag voor te berei – as jou liggaam gesond is, dan volg die res.
Hoe het jou lewe verander sedert die Covid-19-pandemie begin het?
Daar is baie dinge wat ’n mens nie meer kan doen nie … Die een ding wat egter vir my uitstaan, is hoe ek skielik meer kreatief geword het om ’n verskil te maak. Ek was gewoond daaraan om deur praatjies, funksies en so meer met mense in gesprek te tree. Ek kan dit egter nie meer doen nie. Dit het gelei tot die aktiewe ontwikkeling van my aanlyn hulpbronne en daaroor is ek baie opgewonde.
Jy het gedurende die gesprek verwys na verskeie hulpbronne wat vir mense baie waardevol kan wees … Waar kan ons lesers meer daaroor uitvind?
Hulle kan gerus my webtuiste, https://www.rolenestrauss.com/, besoek. Ek nooi mense ook om spesifiek in te teken op die nuusbrief waarin ons alle nuwe kursusse sowel as heerlike ander inhoud, deel.
Rolene Strauss is ’n voormalige Mejuffrou Wêreld. Sy is ook ’n gekwalifiseerde mediese dokter en studeer tans verder aan ’n meestersgraad in filosofie en afrigting. Sy is ’n kranige skrywer, spreker en besigheidsvrou wat haar sake bedryf om ’n verskil te maak.