Enige gesprek oor die toekoms van Kaaps gaan eintlik oor die toekoms van Afrikaans as geheel. Afrikaans moet herbedink word – nie net deur die akademici nie, maar deur sy sprekers. Die Afrikaanse Taalraad, in samewerking met Litnet en die Afrikaanse Taalmuseum, het onlangs ’n webinaar aangebied om Kaaps as skryftaal, spreektaal, besigheidstaal, onderrigtaal en leeftaal, te ondersoek.
Die paneel het bestaan uit Charlyn Dyers (professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap), Monn-lee Geduld (‘n Afrikaansonderwyser), Jeremy Vearey (skrywer), Gerda Odendaal (mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal) en Frank Hendricks (professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap) en het die belangrikheid van Kaaps in alle milieus van die Afrikaanse leefwêreld bespreek.
Bo van links na regs: Charlyn Dyers, Heindrich Wyngaard, Jeremy Vearey, Frank Hendricks. Onder van links na regs: Gerda Odendaal, Monn-lee Geduld, Conrad Steenkamp.
‘’Kaaps en sy sprekers is histories gemarginaliseer en gestigmatiseer – hieroor moet ons eerlik wees. Afrikaans in sy geheel ly vandag hieronder. Die toekoms van Kaaps gaan dus in wese oor die waardigheid daarvan as die moedertaal van miljoene. Dit gaan ook oor die gelykwaardigheid van alle Afrikaanse variëteite en oor regstelling en versoening.’’ Conrad Steenkamp, Afrikaanse Taalraad
Kyk die volledige webinaar:
Watter voordele sou dit hê vir die sprekers van Kaaps spesifiek, maar ook alle Afrikaanssprekendes oor die algemeen, as Kaaps in ’n verskeidenheid ruimtes aangemoedig en aanvaar word? Jeremy Vearey verduidelik dat dit eerstens skrywers, leerders en ander sal toelaat om egte uiting te gee oor hul ervarings in en oor hul leefruimtes – sonder dat enigiemand anders namens hul praat of hulle in vertaalde denke moet leef en verbeeld. Dit sal tweedens verseker dat die geskiedenis van hierdie leefwêrelde in eie stem op alle gebiede vir die toekoms vasgelê en vergeld word.
‘’Herstandaardisering gaan dus nie om enigiets van enigiemand af weg te neem nie – maar oor toevoeging – ’n verbreding na alle variëteite van Afrikaans.’’ Gerda Odendaal (Woordeboek van die Afrikaanse Taal)
Gerda Odendaal wys egter tereg uit dat hierdie herstandaardisering nie bereik kan word deur mooipraatjies nie – die vraag is dus nie wat daar gesê word oor Kaaps nie, maar wat daar gedoen word vir Kaaps. Sy verduidelik dan dat die herstandaardisering van Afrikaans konstant moet plaasvind. Hierdie proses behels die volgende stappe:
- Kontekstualisering: Wat is die sosiale, politieke, ekonomiese en opvoedkundige konteks waarin ’n variëteit en sy sprekers funksioneer?
- Evaluering: Wat is die tekortkominge en winste van die huidige standaard? Wat is reeds gedoen en waarop kan daar voortgebou word?
- Statusbeplanning: Die invoer van verskillende variëteite van Afrikaans in verskeie kontekste, veral in die gebruik van hoër funksies soos die onderwys en besigheidspraktyk.
- Korpusbeplanning: Die uitbreiding of verbreding van die standaard woordeskat en die grammatika van Afrikaans om uiteindelik alle variëteite van Afrikaans in te sluit.
- Prestige beplanning: Bewusmaking en bemarking van die nuwe gestandaardiseerde taal.
- Vernuwing: Dit dui op die sikliese aard van herstandaardisering – ’n voortdurende proses. Die standaard moet weer en weer ondersoek word – ’n taal verander elke dag.
Daar is reeds opwindende vooruitgang gemaak om te verseker dat Kaaps, as die oudste en oorspronklike variëteit van Afrikaans, weer sy regmatige plek sal inneem. Die taal blom deesdae opnuut in besighede (dink byvoorbeeld aan Vannie Kaap), in skryfkuns (Jeremy vannie Elsies, Kaaps in Fokus en talle ander) en word al meer aangemoedig in skole en universiteite. Alhoewel daar steeds ’n lang pad is om te stap, stem ons heelhartig saam met Charlyn Dyers se woorde: ‘’Die toekoms van Kaaps is vir my baie blink. Dit is bykans onmoontlik om te praat oor die uitsterf van hierdie dinamiese variant – hy groei, elke dag en in nuwe praktyke!’’
Daar is tans verskeie praktiese projekte wat die oplewing en herlewing van Kaaps ondersteun. Hou Afrikaans.com dop vir meer.
Ek is baie lief vir my moeder taal Afrikaans
Groete
Robert Stanley