Hier is riglyne.
Jy wil jou kinders tuisskool en het reeds jou navorsing gedoen, maar hoe weet jy watter program is die beste vir jou doeleindes en spesifiek jou kind se behoeftes. Hierdie keuse gaan berus op watter onderrigstyl die beste by jou kind pas, of jy self as fasiliteerder wil optree of nie, en natuurlik jou beursie. In ’n vorige artikel het Afrikaans.com die voor- en nadele van tuisskoling uitgelig en ook die vyf hoofstrome ten opsigte van die keuse hoe jy tuisskoling behoort te benader, genoem. In dié artikel poog ons om riglyne te gee oor hoe ouers te werk moet gaan om die beste keuse vir hulle en hul kinders te maak en lys ons verskillende opsies waaruit jy kan kies. Die lys is nie volledig nie, maar uit ons navorsing is dit die programme wat meestal in Suid-Afrika gebruik word.

Besin eer jy begin …
- Besluit tussen tuisonderrig of aanlyn onderrig.
- Tuisonderrig: Die ouers neem volle verantwoordelikheid vir die kind se vordering, verskaf self onderrig of stel ’n tutor/s aan.
- Aanlyn skole/virtuele skole: Die ouer kan fasiliteer, maar dié soort skole word deur ervare onderwysers aangebied en die leerder se studies word oor ’n afstand en binne ’n gestruktureerde kurrikulum bestuur.
- Leerders moet steeds vir tuisonderrig by die onderwysdepartement geregistreer word.
- Aansoeke vir tuisonderrig is gratis en kan elektronies by die Departement van Basiese Onderwys gedoen word. Daar is aflaaibare vorms op hulle webtuiste. Ouers moet ook vorige verslae, immuniseringsertifikate, weeklikse roosters en uiteensetting van termyne per jaar indien. Laasgenoemde sluit 196 onderrigdae per jaar en die leerprogram in. So ’n aansoek neem ongeveer 30 dae vir prosessering.
- Suid-Afrika se eksamineringsowerheid (Umalusi) vereis dat ’n leerder graad 10 tot 12 by dieselfde instansie moet doen.
- Indien ’n mens besluit om voortaan tuisonderrig te doen en jou kind was tot dusver in ’n hoofstroomskool, is dit belangrik om die skool in kennis te stel. Party skole vereis ’n maand kennis en ander ’n termyn.
- Organiseer jou kind se leermateriaal voordat jy begin met die program.
- Raadpleeg die kundiges.
- Sluit aan by die Pestalozzi Trust, Homeschooling in SA of Home Education. Hierdie instansies is gerat om jou met raad by te staan.
- Drie goedgekeurde eksamenrade in Suid-Afrika.
- In Suid-Afrika kan ’n mens kies tussen die Onderwysdepartement, die Onafhanklike Eksamenraad (Independent Examination Board -IEB) en die Suid-Afrikaanse Omvattende Assesseringsinstituut (SA Comprehensive Assessment Institute – SACAI).
Aanlyn kurrikulums om uit te kies
- MOS-Wêreldwyd (https://www.moswereldwyd.co.za/) – Wêreldklasonderrig wat wêreldwyd beskikbaar is! In hierdie bekostigbare aanlyn-tuisskool kan jou kind floreer en kry hy of sy een-tot-een-terugvoer. By MOS-Wêreldwyd word jou kind nie net toegerus met toekomsgerigte vaardighede en ‘n hernude liefde vir leer nie, hier leer hy ook om krities te dink, goed saam met ander te werk, beter vrae te vra, probleme kreatief op te los en uitsonderlik te kommunikeer. Ten einde sy of haar skoolloopbaan, sal jou kind die IEB-eksaminering aflê.
- Die Wolkskool – Maak deel uit van Solidariteit se Skoleondersteuninginisiatief. ’n Aanlyn leerplatform vir graad 1 tot 12. Leerders geniet hoëkwaliteit videolesse, assesserings en ondersteunende lesmateriaal in vakke soos Wiskunde, Wetenskap en Afrikaans Huistaal.
- Brainline – ’n Virtuele aanlyn skool vir graad R tot 12. Die KABV-kurrikulum (CAPS) word gevolg. Klasse word regstreeks uitgesaai d.m.v. webinare en opgeneemde lesse. Daar is ook handboeke beskikbaar. Die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) assesseer eksamens. Dit is dieselfde eksamen wat privaat skole skryf. Ouers ontvang ’n rapport na elke assessering.
- Impaq – Graad R tot 12. Die KABV-kurrikulum word gevolg met lesse wat deur webinare aangebied word. Meer as 1 200 tutors ondersteun die leerders. Impaq is by Sacai (SA Omvattende Assesseringsinstituut) geregistreer en leerders lê die Nasionale Senior Sertifikaat se eksamens af. Deur die Impaq-program te volg het leerders die keuse om weer by ’n tradisionele skoolopset in te skakel indien hulle dit later sou verkies. Registrasie by Onderwysdepartement geskied outomaties deur Impaq. Jy moet egter drie jaar lank die Impaq-leerplan gebruik omdat dit deur Suid-Afrika se eksamineringsowerheid (Umalusi) vereis word dat jy graad 10 tot 12 by dieselfde instansie moet doen.
- Nukleusonderwys – ’n Afstandsonderriglesmateriaalverskaffer wat met behulp van gekwalifiseerde onderwysers ’n KABV-gebaseerde leerplan vir graad R tot 12 daarstel. Leerders kan dus weer later by ’n hoofstroomskool inskakel indien hulle dit verkies. Daar is twee opsies: ’n assesseringsopsie sodat die leerder se vordering dopgehou kan word en ’n sonder assesseringsopsie waar leerders nie toetse of eksamens skryf nie. In laasgenoemde geval verskaf Nukleus net lesmateriaal. Graad 10- tot 12-leerders word deur SACAI geregistreer en hulle het die geleentheid om die Nasionale Senior eksamen af te lê en sodoende ʼn Umalusi-matrieksertifikaat te ontvang.
- Curro online – Die onderwyser is tydens elke les aanlyn teenwoordig. Ouers hoef net huiswerk na te gaan. Klasse word in Engels aangebied vanaf graad 4 tot 9. Die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se eksamens word geskryf.
- Clonard Distance Education – Die KABV-kurrikulum word gevolg met aanlyn lesse en handboeke. Geregistreer by Sacai (SA Omvattende Assesseringsinstituut).
- Mytopdog – Verskaf aanlyn leerhulp via Vodacom-e-skool. Gratis en sonder datakoste vir graad 4 tot 12. Leerders kan videolesse teen hul eie tempo volg.
- Think Digital College – Volg die KABV-kurrikulum vir graad R – 12. Die Britse skoolstelsel se R- tot A-vlakke wat deur die Cambridge-kurrikulum ondersteun word, word ook aangebied. Daar word gebruik gemaak van opgeneemde lesse. Leerders het toegang tot ’n tutorportaal met private tutors, en ouers ontvang weekliks ’n verslag oor hul kind se vordering.
- Cambrilearn – Die Cambridge-eksamen word vanuit Brittanje bestuur en volg die Britse kurrikulum aanlyn. Aanlyn onderwysers, daaglikse interaktiewe lesse, private lesse en kletskamers word aangebied. Voor-primêr tot by alle A-vlakke. Selfs slimfoon kan ingespan word. Lesse, vorderingstoetse en opdragte, asook toetseksamens om vordering te meet, word aangebied. Afrikaans Eerste of Tweede Taal is een van die keusevakke wat jy met Cambridge kan skryf, maar die res van die eksamen word in Engels afgelê. Cambridge is akademies uitdagend en meer gepas vir die leerder wat akademies aangelê is. Inskrywing vir Cambridge-matriek kan deur die British Council in Johannesburg geskied waarna die leerder by een van hulle goedgekeurde eksamensentrums skryf. Pretoria het ’n paar privaat skole waar jou kind ook die eksamen kan aflê.
Voordele van kurrikulumverskaffers vir matriek
- Jou kind volg steeds ’n hoofstroomskoolprogram. Dit maak inskryf by ’n universiteit makliker.
- Die program is uitgewerk en die studiemateriaal en handboeke is beskikbaar. Jou kind kan dus redelik selfstandig werk.
- Buiten ’n tegniese matriek, is dit tans die enigste manier waarop jou kind as tuisskoler matriek in Afrikaans kan skryf.
Nadele van kurrikulumverskaffers vir matriek
- Dit kan nogal aan ’n mens se sak raak omdat tariewe dikwels ooreenstem met die van privaat skole.
- Jy moet hou by vasgestelde skedules, sperdatums en voorkeure.
- Die leerinhoud stem ooreen met die by gewone hoofstroomskole, omdat die KABV-leerplan steeds gevolg word.
’n Tegniese matriek vir tuisskolers
- Nie alle kinders is akademies aangelê nie, stel nie noodwendig belang om universiteit toe te gaan nie en verkies ’n meer tegniese program. Om ’n tegniese matriek te verwerf, moet jou kind die nodige N-kursusse deurkom. N-kursusse vergelyk soos volg met hoofstroomskoolgrade: N1 = graad 10, N2 = graad 11 en N3 = graad 12. Elke N-vlak het minstens vier vakke en neem ongeveer tien weke om te voltooi. N-kursusse vorm ook die basis van vakmanopleiding. Tipiese vakke sluit in: Wiskunde, Ingenieurswetenskap, Motorwerktuigkunde se vakteorie en Metaalwerk se vakteorie.
Vakmanopleiding in Afrikaans
Tegniese matriek is bekostigbaar omdat dit stuk-stuk afgehandel kan word. Hierdie roete word blykbaar nie baie deur tuisskolers benut nie, maar ’n instansie soos Sol-Tech kan beslis raad gee.
- Sol-Tech bied ambagsopleiding aan. Indiensopleiding en die finale vaktoets (kandidate moet minstens 22 jaar oud wees) word ook gereël. Om ʼn volwaardige matrieksertifikaat met hierdie roete te kry, moet die kandidaat ook Besigheidsafrikaans en -engels deurkom.
- Ntek – Jou kind kan die N-kursusse grootliks deur selfstudie afhandel deur ’n aanlyn kollege soos Ntek.
Bronne en nuttige skakels
https://pestalozzi.org/af/wie-is-ons/
https://www.facebook.com/tuisonderwys/
https://www.facebook.com/groups/homeschoolinginSA/
https://www.facebook.com/groups/741229909592361/
https://www.sahomeschoolers.org/
Aanlyn kurrikulumverskaffers
Die Wolkskool – https://wolkskool.co.za/
Brainline – https://brainline.com/
Impaq – https://www.impaq.co.za/
Nukleusonderwys – https://www.nukleusonderwys.co.za/
Curro Online – https://www.curro.co.za/western-cape/curro-online-homeschooling/
Clonard Distance Education – https://www.clonard.co.za/
Mytopdog – https://www.mytopdog.co.za/vodacom
Think Digital College – https://www.thinkdigitalcollege.co.za/
Cambrilearn – https://www.cambrilearn.com/
Sol-Tech – Tegniese matriek – https://sol-tech.co.za/
Ntek Kollege – Tegniese afstandsonderrig – https://www.ntek.co.za/
http://www.netkids.co.za is ‘n BAIE oulike program vir kinders 3-6 jr! Baie beskostigbaar en het ‘n groot verskeidenheid klasse.