“Die heel belangrikste ding is natuurlik dat families die navraag vir Afrikaans moet handhaaf deur Afrikaans aan hulle kinders oor te dra en te sorg dat hulle by Afrikaanse skole uitkom. Daarsonder sal Afrikaans nie staande bly nie. ” – Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof, Afrikaanse Taalraad
Sedert 2016 en na ’n hofbevel in 2019 deur die hooggeregshof in Pretoria, is Afrikaans uitgesluit as onderrigtaal aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en is Engels as primêre onderrigtaal gebruik. Talle studente en voornemende studente is hierdeur geraak en was verplig om ander keuses uit te voer.
Buiten Unisa was daar die afgelope paar jaar drie ander hofuitsprake teen die verengelsing van voorheen Afrikaanstalige universiteite, naamlik die Universiteit Stellenbosch, Universiteit van Pretoria en Universiteit van die Vrystaat. Daar is telkens ten gunste van verengelsing beslis. Daarom is dié jongste hofuitspraak ’n ligpunt vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal.
Meertalige onderrig by Unisa moet Afrikaans insluit
“Die ontwikkeling van enige ander inheemse taal bevorder meertaligheid en daarmee die saak vir Afrikaans.”
Die hooggeregshofuitspraak in 2019 is sterk teengestaan en die burgerregtegroep AfriForum het Unisa die stryd aangesê. Op Dinsdag, 30 Junie 2020, het die appèlhof in Bloemfontein die omstrede taalbeleid wat Afrikaans die afgelope vier jaar reeds as onderrigtaal by Unisa uitsluit, tersyde gestel. Appèlregter Mandisa Maya, president van die appèlhof, het die taalbeleid as ongrondwetlik en onregmatig verklaar. Sy het onder andere beveel dat voornemende studente wat nou wil studeer ook die keuse moet hê om die vakke wat sedert 2016 nie meer in Afrikaans aangebied is nie, op eerstejaarsvlak en in Afrikaans te ontvang. Huidige studente wat tot dusver genoodsaak is om enige van hierdie modules in Engels te volg, moet nou die keuse hê om die modules in Afrikaans te voltooi. Die regter het ook Unisa se argument dat dit onprakties is om Afrikaans vir ’n minderheid studente aan te bied, verwerp.
Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum het gesê dat die Grondwet voorsiening maak vir onderrig in Afrikaans en dat daar nou vir die eerste keer wel ’n lig in die tonnel is. “Dit is ’n oorwinning vir die beginsel van taalregte en ’n baie belangrike uitspraak vir Afrikaans.”
Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR) het aan Afrikaans.com gesê dat hy AfriForum gelukwens hiervoor en dat die uitspraak ’n groot oorwinning vir Afrikaans is “omdat die hof na ’n reeks terugslae vir Afrikaans, uiteindelik die regte van Afrikaanssprekende studente bevestig”.
Hoe Unisa op die uitspraak gaan reageer en of die saak uiteindelik na die Konstitusionele Hof verwys sal word, bly uiteraard ’n ope vraag en Steenkamp sê dat dit ’n vraag vir die regskundiges is om oor te besin. Steenkamp sê wel dat die Afrikaanse Taalraad as ’n organisasie “beter gerat is om kwessies onderliggend aan die saak te takel, naamlik die persepsies en vooroordele jeens Afrikaans wat in die eerste plek tot die uitskakeling van die taal by Unisa gelei het. In die langtermyn, hang die behoud van Afrikaans by Unisa en enige ander instelling daarvan af of mens ook die oortuigingsaak kan wen.”
Die behoud van Afrikaans vereis vennootskappe met ander tale
Ervaring het natuurlik geleer dat dit nie so ’n maklike taak is nie. Steenkamp voel egter dat dit “die enigste pad vorentoe is indien mens Afrikaans as onderrigtaal en vak by openbare instellings wil behou. Om hierdie rede skakel die Taalraad al ’n geruime tyd reeds met rolspelers wat meertaligheid en die ander inheemse tale van die land bevorder, onder andere ook by universiteite. Die behoud van Afrikaans vereis vennootskappe met ander tale.”
Wat kan ons gewone Afrikaanssprekendes doen om Afrikaans as onderrigtaal te bevorder?
“Wys dat daar aanvraag vir Afrikaans is en ondersteun daarmee die implementering van die Taalbeleid vir Hoër Onderwys. Bou alliansies met medestudente wat ander tale praat. Probeer om saam iets vir almal te kry.”
Dr Conrad Steenkamp gee die volgende riglyne:
- Studente kan sorg dat hulle gebruik maak van die bestaande Afrikaansaanbod by watter instelling ook al, Unisa inkluis. Ondersteun ook Afrikaanse instellings soos Akademia en Sol-Tech. Die Taalraad stel binnekort ʼn lys van alle Afrikaansmediumkursusse landswyd bekend wat hiermee sal help.
- Studente word aangemoedig om formeel te kla indien ʼn universiteit se taalbeleid oortree word. Hulle moet ook goed rekord hou van alle stappe en interaksies wat plaasvind. Formele klagtes is baie beter as om net deur sosiale media te kla en maak dit vir die Taalraad en ander Afrikaanse organisasies makliker om studente te ondersteun. Enige student wat intimidasie ervaar, moet hiervan laat weet.
- Studente moet aanspraak maak op hulpmateriaal en ondersteuning in Afrikaans – selfs in die geval van instellings wat slegs Engels vir lesings gebruik. Wys dat daar aanvraag vir Afrikaans is en ondersteun daarmee die implementering van die Taalbeleid vir Hoër Onderwys.
- Bou alliansies met medestudente wat ander tale praat. Probeer om saam iets vir almal te kry. In die openbare sektor sal Afrikaans slegs binne ʼn inklusiewe meertalige bestel oorleef, iets wat Afrikaans nie alleen gaan bewerkstellig nie. Neem dus deel aan gesamentlike gesprekke en seminare oor meertaligheid en bou daardie verhoudings.
- Opponeer gerus die hegemonie van Engels in die lesingsaal en elders. Volg daarmee die nuwe internasionale post-koloniale beweging om Engels uit die middelpunt te neem – maar doen dit altyd saam met ander.
- Stel Afrikaans onder geen omstandighede op teen ʼn ander inheemse taal nie. Die ontwikkeling van enige ander inheemse taal bevorder meertaligheid en daarmee die saak vir Afrikaans.
- Beklemtoon die aard van Afrikaans as ʼn inklusiewe en inheemse eenheidstaal wat deur ʼn wye diversiteit van mense gepraat word. Voeg daad by woord en leer oor die diversiteit van Afrikaans. Skryf gerus aan die Taalraad by atr@afrikaansetaalraad.co.za om meer hieroor te ervaar.
- Leer ʼn inheemse taal.
Afrikaans.com sal die saak vorentoe dophou en lesers op die hoogte hou indien die saak na die Konstitusionele Hof verwys word.