Wat is die grootste les wat jy al ooit geleer het? Watter boeke het jou lewe verander? Wat hoop jy om eendag as ouer aan jou kind oor te dra? Met sosiale media, is ons vandag nader as ooit aan ‘n magdom mense – jou buurman en jou gunstelingbekende is almal net ’n soekfunksie weg. Tog loop media en menslikheid nie altyd parallel nie … want, tussen die hoogtepunte wat gedeel word, lê daar ‘n 1000 ander ervaringe.
In ons nuwe podsendingreeks, wat deur die geliefde akteur, aanbieder en entrepreneur, Edwin van der Walt, aangebied gaan word, bied ons ‘n blik op bekendes en ander invloedryke persone soos nog nooit tevore nie … Edwin span sy liefde vir mense, passie vir leer en die geleentheid om deur sy beroep allerlei interessante mense vriende te kan noem, in om vrae te vra wat saak maak.

Edwin is bekend vir reekse soos Fynskrif en rolprente soos Ballade vir ‘n Enkeling en Jagveld.
‘’Daar het iets in my lewe gebeur wat my heeltemal geshake het. Ek het besef: Edwin, jy is toe nie so goed as wat jy gedink het nie! Ek het gewerk aan al hierdie karakters, maar nie aan myself nie. Ek moes gaan ondersoek instel en ‘n paar dinge op die harde manier leer. Daarna was ek baie gesteld om nie net uit my eie lewe te leer nie, maar ook by ander. Ek wil en wou dit ook graag met die groter publiek deel – daar het my paadjie met potgooie begin.’’
Leer ons nuwe potgooi-aanbieder beter ken – luister die eksklusiewe onderhoud.
Op sy persoonlike platform, Rock What You Got, het hy bekendes soos Bibi Slippers, Beer Adriaanse, Neels van Jaarsveld, Jamie Marais, Cobus van den Berg en Bennie Fourie openlik gevra nie net oor hul sukses nie, maar ook hul wonde, moeilike seisoene, belangrike lesse … selfs hul daaglikse roetines! En nou is Edwin terug om ‘n splinternuwe, eerlike en op die man af potgooi aan te bied … die keer eksklusief op Afrikaans.com!
Edwin in gesprek met Beer Adriaanse en Bennie Fourie gedurende ‘n Rock What You Got-episode.
Voor Edwin ons egter oor die komende maande gaan bekendstel aan geliefde Suid-Afrikaanse gesigte soos jy hul nog nooit vantevore ervaar het nie, het ons dit goedgedink om hom eers beter te leer ken … Wat het hy tydens sy jaar uit van sosiale media geleer? Wat het hom gelei om die opwindende nuwe platform, NovieGuide, op die been te bring? Hoe voel hy oor Covid-19? Wat is onder sy gunstelingboeke? En, wat het Elton Jantjies en gladdejantjies in gemeen? Luister die gesprek en vind uit!
Edwin van der Walt is ‘n akteur, aanbieder en entrepreneur. Sedert hy vir die eerste keer gehore se harte in 2014 in die romantiese komedie, Hollywood in my Huis, gesteel het, het ‘n rits loktreffers gevolg. In films soos Jagveld, Wonderlus, Ballade vir ‘n Enkeling en Die Pro het hy sy diversiteit as kunstenaar ten toon gestel en die respek van die industrie sowel as aanhangers gewen. Dit is egter die man agter die karakters, Edwin self, wat deesdae groot golwe maak. Onder sy vriende, en nog meer onder die publiek, word hy geken as ‘n persoon wat verbetering van self en van ander voorop stel. Die eerste episode van sy Afrikaans.com-potgooireeks sal in Julie beskikbaar wees.