Afrikaans.com het onlangs die geleentheid gehad om met Chareldine van der Merwe en Mandie Ehlers van die Vriende van Afrikaans (VVA) te gesels oor hulle “nuwe” virtuele reis en die opwinding wat daarmee gepaardgaan. Chareldine van der Merwe is sedert 2018 die projekbestuurder by Vriende van Afrikaans, ‘n divisie van die ATKV. Mandie Ehlers is werksaam as projekorganiseerder by die taal-en-kultuurafdeling van die ATKV.
Afrikaans.com se René Arendse in gesprek met Mandie Ehlers en Chareldine van der Merwe van die Vriende van Afrikaans.
“Binne elke krisis is daar ‘n geleentheid en dit is presies wat Die Vriende van Afrikaans aangegryp het.”
So begin die eerste virtuele “Ommietafelgesprek” saam met Afrikaans.com se gemeenskapkoördineerder, René Arendse.
Wat gaan die VVA nou anders begin doen?
Chareldine – Om te begin met bietjie agtergrond. Die VVA het in 1994 in Stellenbosch ontstaan waar ons ander andere verskeie projekte aanbied. Ons fokus is hoofsaaklik die waarde en belangrikheid van lees en voorlees. Sedert Oktober 2014, is ons ‘n divisie van die ATKV waarvoor ons baie dankbaar is. Met die inperking, moes ons gaan stilsit en dink hoe ons gaan maak om steeds aan te hou met ons projekte. Ons moet nou, meer as ooit, ouers en onderwysers help. Ons het toe besluit op ‘n paar projekte wat ons digitaal gaan aanbied sodat ons steeds mense kan help. Byvoorbeeld, hierdie “Ommietafelgesprek” gaan ‘n reeks gesprekke wees wat digitaal sal plaasvind. Ons gesels later oor die res van ons projekte. Maar ons gaan voort en mense moet hulle oë en ore oophou vir dit wat kom!
Die VVA gedurende ‘n geleentheid voor Covid-19.
Was die verandering ‘n maklike kopskuif om te maak?
Chareldine – Dit was definitief ‘n uitdaging, want mense word nou skielik oorval met baie inligting. Ons moes dus mooi dink oor wat mense se aandag sal trek. Een aspek wat ons baie belangrik ag, is die voorlees van boeke en ons het begin met die inisiatief “Kwarantyn-storietyd” waar ons weekliks met die toestemming van die skrywer en uitgewers stories voorlees, sodat ons steeds op ‘n manier by kinders kan uitkom wat nie toegang tot boeke het nie. Die ander uitdaging is natuurlik dat baie kinders nie data het nie. Maar enige iemand kan dit aflaai en dis nie nodig vir ‘n klomp selfone nie. Een persoon kan toegang hê. Terselfdertyd, word ouers gehelp en word hulle gewys hoe dit gedoen word en wat jy as ouer by die huis self kan doen. Nou is dit ook ‘n ander tannie en ander stem waarna die kind kan luister, wat ook lekker is.
Hoe toeganklik is hierdie projekte?
Mandie – Dis besonders toeganklik! Dis veral nou makliker om toegang te kry tot die virtuele wêreld. Ons inhoud word beskikbaar gestel op Facebook en YouTube en ek dink nie daar is ‘n kind wat nie weet hoe dit werk nie. Wat ons werk spesiaal maak, is dat ons juis uitreik na mense wat nie altyd toegang het om ons hulpbronne te gebruik nie. Nou word dit meer toeganklik, want ons kan met mense praat vanaf Limpopo en Nelspruit, en selfs tot in die kleinste dorpies. Hulle kan inskakel, saam gesels en saam luister. Mense kan uitsien na meer kwarantynstories, leeskonferensies, doen-en-leer-wenke oor hoe ouers hulle kinders kan help in hierdie tyd en leerondersteuning. Binnekort kom lekker blokkies- en woordraaisels. Dis besonders opwindend, want daar is geen perke daaraan verbonde nie. Dit maak nie saak hoe ver jy is, of waar jy woon nie. Jy kan nou van ons hulpbronne gebruik maak en ons kan jou help!
Vertel ons bietjie oor julle vlagskipprojekte.
Navorsing in 2018 toon dat net 14% van Suid-Afrikaners aktief lees en 58% van huishoudings het nie ‘n enkele boek nie. Ons wil probeer om die hele land se kinders aan die lees te kry. ‘n Kind wat nie met begrip kan lees nie, kan nie optimaal leer nie.
Boektrommelprojek, voorleeswerkwinkels en leeskonferensies:
Ons het aanvanklik begin om stories voor te lees vir die kinders by verkillende kleuterskole in die Stellenbosch-omgewing. Ons fokus het begin by kleuterskole omdat die kind die meeste en vinnigste leer tussen die ouderdom van 0 en 6 jaar. As daar nie genoeg stimulasie en ontwikkeling plaasvind in daardie tyd nie sal die kind met leeruitdagings sit. Ons het vinnig agtergekom dat daar nie genoeg boeke is nie. As kinders nie toegang tot lekker leesboeke het om hulle lief en lus te maak vir lees nie, sal jy nie ‘n leeskultuur by so ‘n kind, in die omgewing, by die huis of in jou klas kan skep nie. Ons het dus gekyk na verdienstelike, geregistreerde kleuterskole om hierdie boektrommels te ontvang. Elke trommel bevat ongeveer 90 – 110 geskikte leesboeke. Dit is belangrik om te noem dat hierdie nie net ‘n boekskenking is nie. Ons het gou agtergekom dat nie almal opgelei is nie en so het ons voorleeswerskwinkels ontstaan. Uit die voorleeswerkwinkels het ons leeskonferensies, wat deur kundiges aangebied word, ontstaan om onderwysers met die leesuitdagings van kinders te help.
Leesondersteuning deur Doen-en-leer-projek:
Dan is daar die leesondersteuning wat ons met ons Doen-en-Leer-projek bied waar ons mense help en oplei om kinders wat ‘n agterstand het, te leer lees. Die resultate van hierdie projek is fantasties! Kinders behaal onmiddellike sukses wat help met ‘n kind se selfvertroue, want ‘n kind wat nie kan lees nie se selfvertroue ontbreek.
Die ATKV vier hulle 90ste bestaansjaar vanjaar.
Watter rol speel die ATKV met hierdie bevordering van lees by kinders?
Met die 90ste bestaansjaar fokus ons juis om die liefde vir lees te bevorder. Ons motiveer kinders om te lees en veral ouers en onderwysers om boeke te koop. Met veral die Kwarantyn- storietyd en deur Doen-en-Leer te bemark en ouers aan te moedig om kinders te help met leesprobleme, verrig die ATKV wondere. Ons het ook boekklubs dwarsdeur die land wat mense aanmoedig om te lees en saam met die VVA projekte aan te bied.
Mandie, jy is binnekort ‘n mamma.
Wat gaan jy doen om jou kind van kleins af te leer om lief te wees vir lees?
Dis so belangrik om reeds terwyl ons swanger is, vir ons babatjies te lees. Nie net leer hulle jou stem of stemtoon ken nie, maar dis ‘n ongelooflike band wat vorm tussen ma en baba. Ek laat selfs my man ook vir haar lees tydens die swangerskap. Ons gaan dit definitief voortsit wanneer sy hier is. Ek het reeds boekies vir haar en sy het haar eie boekrakkie in haar babakamer. Al kan sy dit nie verstaan nie, sal lees definiteif deel van ons daaglikse roetine wees. Dis so belangrik… al lees jy elke dag net vyf minute lank!
Chareldine, jy is baie passievol oor die werk wat jy doen.
Hoekom is dit so belangrik vir jou?
As jy kan lees, kan jy enigiets doen! Ek dink lees is die grootste geskenk wat ouers vir ‘n kind kan gee. Dit help kinders om te droom, gee vaardighede, kreatiewe denke, doeltreffende kommunikasie, want iemand wat nie kan lees nie het eenvoudig nie die woordeskat om hom-/haarself uit te druk nie. My persoonlike motto is dat lees soos enige sportsoort is. Jy moet oefen om ‘n goeie sportman of -vrou te word. Net so moet jy oefen om ‘n goeie leser te word.
Waarna kan mense uitsien?
- Kwarantyn-storietyd elke Dinsdag op ons Facebookblad.
- Leesondersteuning en wenke vir ouers elke Donderdag waarvan woordbouspeletjies en blokkiesraaisels deel sal word.
- Ommietafelgesprekke wat een keer per maand saam met ons vennote, Afrikaans.com en die Afrikaanse Taalmonument, uitgesaai sal word.
- Ons is deurlopend besig met ons boekklubs. So ons wil mense aanmoedig om virtuele boekklubs te begin!
Meer oor Vriende van Afrikaans:
Vriende van Afrikaans is deel van die ATKV. Lees meer hier
Vriende van Afrikaans het talle projekte. Lees meer hier
Volg hulle op Facebook