Die gewilde Sonja & Tjokker wat reeds jare lank voorskoolse en juniorfase-leerders met hulle vertonings vermaak, het nou ’n stappie verder gegaan en kort storievideo’s vervaardig wat op Sonja en Tjokker se kanaal afgelaai kan word.
Die stories is beskikbaar in Afrikaans en/of Engels en behandel onder andere onderwerpe uit die leerareas van die vak Lewensvaardigheid, soos in die KABV-kurrikulum (CAPS) uiteengesit.

“Ons poog om vermaak en leer te integreer, gebaseer op ’n Christen-etiek. Die stories is kort (tussen 4 en 7 minute lank) om maksimale impak by die teikengroep te verseker. Die leertemas vorm ’n breë agtergrond vir ons onderwerpe en ons hoop dat dit ondersteunend in ’n leeromgewing of by die ouerhuis gebruik kan word.”
Meer oor Sonja en Tjokker
Die gewilde en geliefde sangeres Sonja Herholdt het in 2012 haar eerste volwaardige kinderalbum “Sonja en Tjokker sing kinderliedjies” opgeneem. Met die opname van meestal nuwe storieliedjies, het Sonja gevoel die produksie kort ’n karakter wat kan help om die stories te vertel. Dit is waar Tjokker, haar beste hondjie-pêl, gebore is. Sedertdien vermaak die twee gereeld die junior fase met instapbesoeke aan skole en kleuterskole. Die besoeke sluit ’n groot dosis pret, vermaak en humor, maar ook leer in.
Sonja vertel dat hulle dagboek met die uitbreek van Covid-19 skielik baie bleek geraak het. “Ons het beplan dat ons in die toekoms Sonja & Tjokker verder op ’n visuele medium wil uitbrei en Covid-19 het daardie proses net baie versnel omdat daar eintlik geen ander keuse is nie. “Dit is moeilik om so ’n produksie tydens inperking te konseptualiseer en tuis met beperkte hulpbronne te verfilm. Daar was aanvanklik ook nie eens hardewarewinkels oop nie. Maar dit was vir ons belangrik om net ’n begin te maak en soos wat die projek moontlik sukses behaal, dit te verbeter.”
Sonja sê dit bly ’n leerkurwe, aangesien hulle op hierdie stadium alles self behartig – tot by die finale video’tjie.
Hoe moet jy maak om die stories af te laai?
WatchaTV is ’n plaaslike stroomplatform en kan op die internet gekry word by www.watchatv.co.za. Deur hulle ”menu”-skakel te volg, kan jy navigeer na Sonja en Tjokker se kanaal. Daar word beplan om weekliks ’n nuwe video by te voeg en teen slegs R10 per video is dit beslis ’n belegging in ons jonger kinders se toekoms! Hou Sonja en Tjokker se kanaal op WatchaTV weekliks dop vir nog prettige, maar leersame video’s.
Laai gerus hierdie twee gratis video’s as voorsmakie af. Afrikaans.com weet sommer die jongspan gaan dit baie geniet.
Wat is ’n virus? Sonja en Tjokker vertel jou meer.
My masker. Leer hoekom dit nou belangrik is om ’n masker te dra wanneer ons winkel of skool toe gaan.