“Elke sekonde van my lewe is die Krag by my. En as ek sterf, sal ek net dieper daarin glip”
– Elsa Joubert in Spertyd
Die Afrikaanse letterkunde is armer na die dood van die skrywer Elsa Joubert op Sondag, 14 Junie 2020. Sy was 97 jaar oud. Joubert was sedert 1998 na die dood van haar man, Klaas Steytler, ’n inwoner van die Berghof-aftreeoord in Kaapstad.
Elsa Joubert het veral bekendheid verwerf met haar novelle, Die swerfjare van Poppie Nongena. Die boek is uiteindelik in 13 tale vertaal, is vir die verhoog verwerk en in 2019 ook as ’n film vrygestel. Plaaslik is die boek bekroon met die WA Hofmeyr-, CNA- en Louis Luyt-prys. Poppie haal ook die lys van die 100 beste boeke van die vorige eeu in Afrika. Die British Royal Society of Literature het haar vereer met die Winifred Holtby-prys en in 1981 is sy aangewys as ’n “Fellow of the Society”. Joubert se 12 letterkundige pryse sluit ook die gesogte Hertzogprys in 1998 in vir haar boek, Die reise van Isobelle. Talle ander toekennings, twee eredoktorsgrade en die Orde van Ikhamanga in silwer, is ’n verdere bewys van die belangrike bydrae wat Elsa Joubert tot die Afrikaanse letterkunde gelewer het.


Een van die hooftemas van Joubert se werk, is haar “liefdesverhouding met Afrika” – ’n onderwerp van talle van haar romans en “bron van haar politieke oortuigings”. Sy het op ’n keer gesê dat sy deur haar skryfwerk gepoog het om Afrika aan haar lesers bekend te stel en hulle bewus te maak van die res van Afrika. “Dit was vir my belangrik dat ons mense die boeke van Afrika moes lees. Daar is geen toekoms as ons nie ander mense ken nie. Om ander te sien soos hul hulself sien, dis belangrik.”
Joubert se passie vir Afrikaans is welbekend en in ’n berig in Die Burger op 10 Mei 2001, sê sy:
“… Afrikaans is met my wese verweef … Afrikaans is my avontuur en my vennoot. Sonder Afrikaans is ek stom.”
Elsa Joubert se dood laat ’n leemte in Afrikaans wat moeilik, indien ooit, op so ’n besonderse wyse gevul sal word. Sy laat haar seun, Nico en dogters Elsabé en Henriëtte agter.
Afrikaans.com spreek ons innige medelye met die familie uit.
Lees meer
Oor die skrywer en haar oeuvre, Klik hier.