
Om met ’n debuutroman ’n prestige prys soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys op te raap, sit nie in enige skrywer se broek nie. Johan Jack Smith het onlangs hierdie uitstaande prestasie behaal. Zola, sy boek oor ʼn reeksmoordenaar wat sy minibustaxi as ʼn soort martelkamer gebruik om jong meisies wreedaardig te vermoor, het verlede jaar die winkelrakke getref en lesers gou laat regop sit. Dis nie bloot ʼn gewone misdaadroman nie. Hierdie boek is ʼn ware stadsroman waar Johannesburg byna ʼn lewende wese word wat deel vorm van die misdade wat gepleeg word. Rassespanning, geweld teen vroue, apartheidsmisdade en verskeie vergrype word in die verhaal ontbloot en nooit word daar van die werklikheid af weggeskram nie.
Vir Johan was die toekenning ʼn besonder groot verrassing. Hy was vroeër vanjaar op die kortlys vir die Universiteit van Johannesbrug se debuutprys, maar die toekenning het uiteindelik aan Ruan Kemp vir sy roman Gedeeltelik Bewolk gegaan en Johan het nooit eers aan die moontlikheid van ʼn Akademieprys gedink nie. Boonop het hy die eerste oproep wat die nuus aan hom moes meedeel gemis, maar Dinsdagaand 26 Mei kon hy breed geglimlag.
“Eers nadat ek gesien het dat skrywers soos Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk ook die Eugène Marais-prys gewen het, en nadat die gelukwensings begin instroom het, het ek besef hoe groot dit is. Dit gee natuurlik baie selfvertroue om te bly skryf,” sê Johan.
Hy vertel dat sy liefde vir woorde en om skeppend in Afrikaans te wees, gestimuleer is deur die werk van Johannes Kerkorrel wat hy as ʼn veertienjarige skoolseun raakgeluister het. Voor dit was Afrikaanse letterkunde wat deel was van die kurrikulum vir hom geforseerd en het dit nie werklik met hom gepraat nie. Van daar het dinge verander. Iewers het sy Afrikaansonderwyser hom ook verseker dat hy talent het, maar dat hy bloot net te lui was!
Johan, wat die redakteur van die ATKV se tydskrif Taalgenoot is, is nie bloot net ʼn prosaskrywer nie. Vir sy Btech-graad in grafiese kuns en ontwerp het hy ʼn grafiese roman, Die Avonture van Malboer, voltooi. Hy was ook lank deel van ʼn alternatiewerock-groep, Volkspeler, vir wie hy meeste van die lirieke geskryf het. Tans is daar ʼn digbundel wat hy hoop binnekort die lig sal sien. Hy het hiermee by digters soos Daniël Hugo en Charl-Pierre Naudé aangeklop om hulle mening oor sy digkuns te kry.
“Wanneer jy gaan kyk na Zola en die gedigte en lirieke wat ek oor die jare geskryf het, sal jy sien daar is ʼn lyn wat daardeur loop. Dit dra min of meer dieselfde boodskap, elke keer net in ʼn ander baadjie. Baie daarvan is baie persoonlik, maar ek was nog nooit skrikkerig gewees om eerlik te skryf nie. Ek dink baie mense is te bang om eerlik te wees of skryf met ʼn vrees vir kritiek en skram daarom weg van die waarheid af. My skryfwerk laat val die lig op die randfigure, die interessante karakters, maar daar is ook baie nostalgie in my skryfwerk,” sê hy.
As jong seun sou hy nooit daarvan kon droom om eendag ʼn redakteur te word of boeke te skryf nie. Hy het geweldig bewondering gehad vir sy ouer broer wat ʼn polisieman was, en het gedink hy sou eendag sy broer se spore volg. Dit is juis baie van die gebeurtenisse wat sy broer met hom gedeel het, wat as agtergrond vir die skryf van Zola gedien het. Die idee van ʼn moordenaar wat ʼn minibustaxi inspan om sy moorde uit te voer, is geïnspireer deur die rolprent The Highwayman (2004). Ek het gemartel, die boek van die sielkundige, Elaine Bing, wat onderhoude met oudpolisiemanne gevoer het, het hom aangegryp en van die idees vir Zola het daar vlam gevat.
Drome is daar nog baie, sê Johan. Zola is omskep uit ʼn filmdraaiboek wat hy vir sy vriend, Gérard Rudolf, geskryf het. Nadat ʼn uitgewer by hom wou weet of hy nie ʼn manuskrip gereed het nie, het Johan gaan sit en binne ses maande was die filmdraaiboek ʼn manuskrip. Nou droom hy daarvan om eendag by die maak van televisiereekse of rolprente betrokke te wees. Hy sal dit graag wil doen as raadgewende regisseur. In sy laai lê daar ʼn hele paar draaiboeke wat hy graag verfilm sou wou sien.
Die idees vir nog twee boeke met kaptein David Majola en adjudant Jason Basson as hoofkarakters, bly in sy kop draai, sê hy. Indien hy die twee boeke wel skryf, sal hy ook dieselfde roete volg. Eers ʼn draaiboek wat hy dan sal omskep in fiksie: filmies en kragdadig.
Om hierdie debuutwerk van hierdie skrywer te lees, was met tye soos ʼn vuishou in die maag. Die resensent Nadine Petrick verwys daarna as Johan Jack Smith se donker handtekening. Dit maak sy skryfwerk uniek. Eerlik, rou, gewelddadig en spannend. Dankie aan woordkunstenaars soos Johannes Kerkorrel en RR Ryger wat Johan Jack Smith genoeg geïnspireer het om ook sy stem in Afrikaans te laat hoor. Stilbly, die sal hy nie nou meer kan nie.

Vyf dinge wat jy dalk nie van Johan Jack Smith weet nie:
- Hy het grootgeword op die Vrystaatste goudvelde en was in sy studietydperk by die Vrystaatse Technikon die redakteur van die Spekulum, die studentekoerant van hierdie instelling.
- Hy en sy vrou, Almerie, se seuntjie word nou in Junie vyf jaar oud. Rijger is vernoem na een skrywer wat Johan vroeg in sy lewe al geïnspireer het: RR Ryger.
- Johan is ʼn kranige tennisspeler en het op skool vir die Vrystaat tennis gespeel. Die tydperk van inperking waartydens ʼn mens nie ʼn voet op ʼn tennisbaan kon sit nie, was vir hom heel frustrerend.
- Johan het ʼn groot versameling Hot Wheels – DC Comics-karretjies.
- Hy is saam met ʼn paar ander woordmense, soos die akteur Gérard Rudolf deel van die groep Woordenaars. Met hierdie groep se optredes deel hulle van hul skryfwerk en musiek intiem met ʼn gehoor.
Titel: Zola
Outeur: Johan Jack Smith
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903857
Die Taalgenoot is vir my ‘n gunstelingtydskrif.
Welgedaan, Johan Jack Smith!