Die 25-jarige Afrikaanse spraakterapeut van Johannesburg, Marisia van Wyk, is Donderdagaand (30 Mei 2020) as Marc Buckner se finale keuse in die gewilde realiteitsprogram The Bachelor SA onthul. Met haar liefde vir mense, sagte, dog vasbeslote geaardheid en passie vir avontuur en reis wat sy en Marc deel, is sy boonop ook vlot in vyf tale. Onder kykers is Marisia en Marc se liefde met blydskap ontvang. Afrikaans.com het met haar gesels oor haar ervaring op die program en haar verhouding met Marc.
Jy is baie privaat. Hoekom het jy besluit om in te skryf vir ’n program waar mens se lewe aan die groot klok gehang word?Om eerlik te wees, dink ek nie ek het heeltemal besef waarvoor ek myself inlaat nie. Maar, ek het ingeskryf omdat ek werklik op soek was na ’n maatjie – iemand om dinge mee te doen en wat dieselfde belangstellings as ek het. Ek het ook eers ingeskryf nadat Marc as Die Bachelor onthul is – baie meisies skryf in selfs nog voor die seisoen se kandidaat bekendgemaak word … Ek was werklik geprikkel deur Marc en dit wat hy gesê het. Boonop het die advertensie om in te skryf konstant op al my sosialemediablaaie verskyn! Toe, op die sperdag, het ek besluit dis iets wat ek moet doen!
Wat was van die grootste uitdagings tydens die proses?
Die grootste uitdaging vir my was om uit my gemaksone te klim … Dit is baie vreemd om ’n ou te moet deel met ander meisies. Om voor kameras te moet praat en konstant ’n mikrofoon op ’n mens te hê, was ook heeltemal nuut. Maar, ek moes dit opsyskuif en verby dit kyk. Ek moes myself herinner dat ek daar was om Marc te leer ken en tyd saam met hom te spandeer.
Jy was een van die min Afrikaanssprekendes wat deelgeneem het aan die Engelse program. Was dit ’n uitdaging om in ’n ander taal liefde te vind?
Ek sê altyd ek soen in Afrikaans – ek het ook lief in Afrikaans. Dis my moedertaal en ek druk myself die beste daarin uit … So dit is moeilik om myself altyd perfek in ’n ander taal uit te druk en te sê wat ek eintlik bedoel. Ek dink ook baie keer kan mense misinterpreteer wat ek sê as dit in Engels is … veral ook op die program! So, dit was beslis ’n uitdaging! Maar darem ook nie ’n onoorkombare een nie.
Vertel my meer van die proses om liefde te vind op kamera. Is daar sekere dinge wat mens terughou wat jy andersins in ’n privaat verhouding vroeër sou openbaar?
Vir my was dit eintlik maklik om daardeur te werk, want ek weet wie ek is en wat ek na die tafel toe bring. Ek is altyd real met die mense wat naby my is en wat my ken. Ek het dus geweet ek hoef net myself te wees, al was daar kameras. Al sou dit nie goed genoeg wees vir enige kyker, vir Marc of enige van die ander meisies nie, dit is goed genoeg vir my en vir die mense wat regtig vir my saak maak.
Daar is natuurlik baie kompetisie tussen die dames in die huis. Hoe het jy dit ervaar?
Toe ek vir my tweederondte-onderhoude by Mnet moes gaan, het hulle my gevra of ek kompeterend is en ek onthou baie duidelik ek het toe al vir hulle gesê dat ek nie is nie … Ek is nie die tipe mens wat konstant met ander wil meeding nie. Dis ironies, want nou plaas ek myself in ’n program soos The Bachelor! Ek het vrede daarmee gehad dat as dit moes uitwerk, sou dit. Dit het my baie gehelp om nie te veel by van die huisdrama betrokke te raak nie.
Het jy en Marc die program gekyk? Vertel ons van daardie ervaring.
Ek het dit gekyk … en hy sal vir jou sê dat hy dit gekyk het deur my gesigsuitdrukkings! Dit was vir my baie moeiliker as wat ek gedink het en is baie anders as om op die program te wees. Daar was na sommige van die episodes bietjie van ’n atmosfeer tussen my en Marc. Ek het nooit gedink dit sal so moeilik wees om op dinge terug te kyk nie! Terselfdertyd is dit ook interessant om te sien hoe die program aanmekaargesit word.
The Bachelor het geëindig … vertel ons van die afgelope paar maande. Hoe verskil jou en Marc se verhouding nou van wat kykers gesien het?
Ons verhouding groei elke dag en ons leer mekaar elke dag beter ken. Dit is ook lekker om nie die druk van agt kameras op jou te hê nie. Ons is baie meer gemaklik met mekaar. Dinge was altyd real, maar soveel meer nou! Ek voel ook baie veiliger as wat ek op die program gevoel het.
Marisia en een van die ander deelnemers, Andeline Wieland het goeie vriendinne geraak. Foto: Instagram
Die paartjie deel ‘n liefde vir avontuur. Foto: Mnet
Marc en Marisia op die program. Foto: Mnet
Marc en Marisia op die finale episode vanThe Bachelor. Foto: Mnet
Marisia vertel dat sy enigiemand sal aanmoedig om in te skryf. Buiten die kans op liefde, bied die program ook ’n geleentheid om dinge van jouself te leer wat in geen ander omstandighede moontlik sou wees nie. Vir haar was een van die grootste leerskole dat mooi dinge gebeur wanneer ’n mens buite jou gemaksone beweeg. Marisia en Marc is vyf maande nadat verfilming beëindig is, gelukkig saam in Kaapstad.