WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – klik hier en gebruik die kompetisie-kodewoord ‘’Exclusive’’.
Dit is nou al ses maande sedert ons vorige topverkoperlysie van Exclusive Books … en die wêreld lyk veel anders as in Desember. Tog bly boeke ’n konstante – ’n veilige hawe waar ’n mens vriendskap en avontuur kan vind. Sophia Kapp se Kanaän het Deon Meyer se Prooi as die gewildste verkoper in die land vervang. Hoe lyk die lysie verder? Lees en vind uit!
1

Kanaän – Sophia Kapp
Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is ’n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ’n skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ’n uitweg – ’n jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.
2

Hans steek die Rubicon oor – Rudie van Rensburg
Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders maneuvreer hom vanuit hul tuistes oorsee in Huis Madeliefie in, maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.
3

Bloedsteen – Irna van Zyl
Dinge ontrafel vinnig wanneer iemand speuradjudant Storm van der Merwe se ma voor ‘n trein op Paddington-stasie instamp. Storm moet Londen toe, al is sy tot oor haar ore met ‘n moordsaak: Beebee Bukelwa Babu, befaamde Suid-Afrikaanse modeontwerper, lê leweloos in ‘n luukse hotel op Hermanus.
Hande om Storm te help met die ondersoek na Beebee se dood is min, want protesaksie lê die dorp lam. Boonop sweep ‘n charismatiese profeet die skare tot ‘n histerie op.
Storm besef gou dit is nie net haar ma se lewe wat in gevaar is nie. Sy is self ‘n teiken. Intussen probeer haar ekskollega, Andreas Moerdyk, nou ‘n privaat speurder, om ‘n skaars rooi diamant van onskatbare waarde op te spoor. Van Londen se donker strate tot Antwerpen se diamantebeurs, van Port Nolloth se verlate kuslyn tot Storm se geliefde Hermanus, ontvou die storie in Irna van Zyl se derde misdaadroman teen die pas van ‘n sneltrein.
4

Dit proe soos huis – Herman Lensing
In Dit proe soos huis eer Herman Lensing sy ma met sy uitsonderlike talent. Hy weef haar gunstelingresepte, passie vir kos en hul eie stories ineen. Dit is resepte van onthou dié – ‘n kosverhaal wat dít wat is, verbind met dít wat was. Kos is liefde en in die kombuis klop die hart van die huis.
5

Huis van Gruwels – Susan Cilliers
Huis van gruwels is die skokverhaal van die sogenaamde “Springs-monster” wat op die wreedste manier denkbaar alles van sy gesin weggeneem het. Dit is egter ook ’n storie van hoop oor hoe ’n dapper jong vrou uiteindelik geluk en genesing vind. Landi is die oudste van vyf kinders wat uit die sogenaamde Springs-gruwelhuis gered is. Sy is nou 21 jaar oud en vertel vir die eerste keer haar verstommende verhaal. In Mei 2014 het die polisie dié huis ontdek waar ’n sadistiese pa sy vrou en vyf kinders vir jare tussen vullis en rotte aangehou, getreiter en gemartel het. In ysingwekkende besonderhede onthou Landi hoe hul pa hulle aangerand, met ’n skokstok geskok, met ’n gaspistool geskiet en met ’n blaasvlam gebrand het, hoe hy martelmetodes nagevors en hulle byna in ’n bad verdrink het. Sy vertel hierdie herinneringe aan Susan Cilliers, ’n ervare joernalis, wat dit met deernis weergee en dit vernuftig met die feite van die polisie-ondersoek en die hofsaak verweef.
6

Vywervrou: Mirre – Chanette Paul
Hoe kan Mirre haar man – ‘n befaamde huweliksberader – se loopbaan vernietig terwyl sy weet hy is die produk van ‘n disfunksionele gesin? As sy ‘n klag van huishoudelike geweld lê, sal André haar nooit vergewe nie. Boek twee van die Vywervrou Trilogie.
7

Die Belydenis – Jodi Picoult – in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo
Die ontdekking van ’n dooie baba in ’n skuur op ’n Amiese plaas in Amerika dreig om ’n jong vrou se lewe te verwoes.
Omstandigheidsgetuienis dui daarop dat die 18-jarige Katie Fisher, ’n ongetroude Amiese meisie wat glo die pasgeborene se ma is, vir die moord verantwoordelik is. Katie hou vol: sy het nie die baba vermoor nie.
Terselfdertyd vlug Ellie Hathaway, ’n ontnugterde advokaat, na familie wat in dieselfde streek woon om haar kop skoon te maak. Haar tannie is verwant aan Katie en kort voor lank stem Ellie teensinnig in om Katie te verdedig.
Ellie word as Katie se toesighouer aangestel terwyl sy op borgtog is en moet boonop by die Fishers intrek. Om Katie te verdedig, moet Ellie haar nie net diep ingrawe in ’n wêreld wat radikaal van haar eie verskil nie, maar ook ’n manier vind om Katie volgens háár verwysingsraamwerk te verstaan.
Wanneer ’n man uit haar verlede weer sy verskyning maak, word Ellie terselfdertyd gedwing om haar eie vrese en begeertes te konfronteer.
Uit die pen van die gewilde skrywer van My Sister’s Keeper verskyn dié boeiende verhaal van twee vroue . . . en een geheim.
8

Grensgeval – Marita van der Vyver
Die bloedbevlekte brief wat Theresa tussen haar eksman, Theo, se besittings ná sy dood ontdek, skeur haar lewe oop. Vir jare het sy haar rug op Theo gedraai, ’n man wat sy laaste twee dekades in ’n inrigting moes deurbring. Só ook het sy die land se verlede weggestoot, die tyd toe tienerseuns gestuur is om op die Grens te veg – ’n plek en ’n oorlog waarvan mense tuis bittermin geweet het. Vir Theresa self was dit ’n tydperk van eerste liefdes, disko’s en vakansies by die see.
Theresa besef gou die brief aan Theo toevertrou, is deur ’n sterwende Kubaanse soldaat geskryf en aan sy pasgebore kind gerig – iemand wat, indien hy of sy nog leef, nou reeds veertig jaar oud sal wees. Theresa weet in haar siel sy moet Kuba toe: om die soldaat se kind te vind, om die brief te besorg, om vir Theo en ook vir háár boete te doen.
In die swoelende, afgeleefde Kuba, tussen sy kleurryke motors uit die vyftigerjare en geurige sigaarrook, vervleg Theresa se lewe intiem met diegene wat in Angola as “die vyand” gebrandmerk is. Só ontrafel sy wat dit beteken het om groot te word in die Suid-Afrika van daardie tyd.
9

Kalmte in die malle gejaag – Johannes Bertus de Villiers
Jy wil asemskep en die mooi dinge raaksien. Maar soms raak die lewe dol en jy erg gestres. Bewustelikheid (mindfulness) en meditasie kan mens help om met nuwe oë na die wêreld te kyk. Johannes de Villiers vertel die stories van gewone mense wat geleer het hoe om beter interpersoonlike verhoudings te hê, ‘n positiewe bydrae tot die wêreld te maak, hul woede en stres beter te bestuur en die wonderskone in elke oomblik – ook die moeilikes – raak te sien. Dit kan ook jou storie wees.
10

Die SAW en Cuito Cuanavale – Leopold Scholtz
Dit gebeur dikwels dat ’n skietoorlog deur ’n tweede oorlog gevolg word. Die oorlog word nie met ammunisie of kartetse gevoer of met tenks en bomwerpers nie, maar met woorde. Die oorlog word as’t ware op papier oorgeveg. In 1987/88 het die stowwerige klein Angolese dorpie Cuito Cuanavale die toneel van die laaste gevegte van die Grensoorlog geword.
Vandag is dit die fokuspunt van ’n openbare debat oor wie dan eintlik die Grensoorlog gewen het. Die alliansie van die Angolese MPLA-regering, Kuba en die Namibiese bevrydingsbeweging, Swapo, voer aan dat die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) Cuito Cuanavale as afspringplek wou gebruik om die hoofstad Luanda in te neem, maar dat hulle die SAW gedwing het om uit Angola te onttrek.
Dit het uiteindelik gehelp om ’n einde aan apartheid te bring, beweer hulle. Die SAW-leierskap handhaaf egter dat Cuito Cuanavale nooit vir hulle ’n ernstige doelwit was nie en dat hulle geen planne gehad het om die Angolese regering omver te werp nie. Tientalle SAW-dokumente oor hierdie tydperk is onlangs gedeklassifiseer.
Leopold Scholtz het dit bestudeer om vas te stel wat die ware doelwitte van die SAW in hierdie finale, beslissende gevegte van die Grensoorlog was. Hy bespreek ook sleutelgevegte en ondersoek waarom een kant of die ander gewen of verloor het. Die boek getuig van wat gebeur wanneer oorlog, politiek en propaganda met mekaar vervleg raak.
WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – klik hier en gebruik die kompetisie-kodewoord ‘’Exclusive’’.