Alle persone stem nie noodwendig saam dat bloed dikker is as water nie … ondanks jou opinie oor dié gesegde, is die volgende onaanvegbaar: Die nuwe Suid-Afrikaanse reeks, Blood and Water, wat die afgelope week (20 Mei 2020) op Netflix bekendgestel is, is ‘n internasionale treffer. Die program is reeds onder die top 10 gewildste programme in die VSA, Engeland, Frankryk én Suid-Afrika.
Watter faktore het tot die sukses daarvan bygedra? Afrikaans.com het met akteur Arno Greeff, wat die rol van Chris Ackerman in die reeks vertolk, gesels om uit te vind …
Terwyl Blood and Water, wat in Kaapstad verfilm is en deurlopend dialoog in verskillende Afrikatale bevat, eg Suid-Afrikaans is, het die vervaardigers dit ook reggekry om ‘n storie te vertel wat universieel by gehore aanklank vind. Volgens Arno kan dit toegeskryf word aan twee belangrike elemente. Eerstens dat die reeks grensverskuiwend is omdat die twee hoofrolle nie net vroulik is nie, maar swart. Hy sê dat dit veral vir hom ‘n voorreg is om deel te wees van ‘n program wat bewys dat geslags- en rassediversiteit in die vermaaklikheidsbedryf tot groot suksesse kan lei. Tweedens is Blood and Water ‘n jeugdrama. Dit sentreer rondom die lewens van ‘n aantal tieners by die spoggerige hoërskool, Parkhurst College. Dit is dus nie net lekker om te kyk nie, maar ondersoek ook belangrike temas binne die milieu van grootword. ‘n Tiener, of hy nou in Nelspruit of New York is, gaan in alle waarskynlikheid vrae hê oor identiteit, seksualiteit en aspirasies.
Oor sy eie reis tot volwassewording, vertel Arno met groot vrymoedigheid. Vir hom was die jare tussen 14 en 17, daardie jare van wie is ek? teenoor wie wil ek word?, van die moeilikste. Tog klink hy gemaklik en gelukkig met die persoon wat hy vandag is – ‘’al is dit ook ‘n proses!’’ skerts hy. Hy vertel dat hy ‘n diep liefde vir mense het en altyd probeer in ag neem hoe sy woorde en dade iemand anders gaan raak. ‘’Dit is ook dalk waarom ek akteur wou word – dis vir my lekker om mense gelukkig te maak!’’ Later vra ek hom oor sy keuse om die vermaaklikheidsbedryf direk te betree eerder as om eers ‘n dramakwalifikasie aan ‘n universiteit te bekom. Sou hy jong akteurs aanraai om dieselfde te doen? Volgens Arno verskil dit vir elke persoon en is daar nie ‘n regte of verkeerde besluit nie. Na menigte mislukte oudisies, het die oproep van Binnelanders aan die einde van sy hoërskoolloopbaan uiteindelik gekom . Dit is egter nie die paadjie wat almal stap nie. As ‘n mens eers sou gaan studeer, vertel hy, gun dit jou die geleentheid om produktief aan te hou leer terwyl ‘n mens oudisies doen en wag vir daardie deurbraakrol.

Arno Greeff as Chris Ackerman in Blood and Water
Hy deel dan sy opwinding oor die vermaaklikheidsindustrie. Nes Arnold Vosloo, met wie ons ‘n paar weke gelede gesels het (lees die artikel hier), is Arno getuie tot die oplewing en uitlewing van die kunste; in Suid-Afrika en internasionaal. Die geleenthede vir akteurs, vervaardigers en ander rolspelers is legio. Arno is opgewonde om verder plaaslik, en veral in Afrikaans te werk, maar wil terselfdertyd sy horisonne en ervaringe as kunstenaar aanhou uitbrei. Hy vertel dat ‘n aantal lede van Blood and Water se speelgeselskap reeds deur agentskappe in die VSA gekontak is. ‘’Anders as in Arnold se dae, hoef ‘n mens ook nie deesdae in ‘n ander land te wees om oudisies te doen nie. Ek wil graag ‘n agent in Amerika kry, terwyl ek steeds hier gevestig bly.’’
Blood and Water bewys ook dat ‘n mens wêreldwyd opslae kan maak met plaaslike produksies – Suid-Afrikaanse produksies! Arno verduidelik dat die stroomdiensreus, Netflix, tans doelgerig uitbrei om internasionale stories te vertel. Hulle eerste besoek aan Suid-Afrika was in 2018, waartydens hulle ‘n beroep tot produksiemaatskappye gemaak het om konsepte voor te lê. Twee daarvan, Queen Sono (in Februarie van hierdie jaar op die platform bekendgestel) en Blood and Water, is toe gekies vir vervaardiging as oorspronklike Netflix-reekse. Na die sukses daarvan, is ‘n tweede seisoen van Blood and Water beslis in die pyplyn. Ons kan ook uitsien na ander Suid-Afrikaanse stories wat vir ‘n internasionale gehoor vervaardig gaan word.
Blood and Water vertel die verhaal van Puleng Khumalo (Ama Qamata) wat haar suster (wat 17 jaar vantevore as baba ontvoer is) probeer opspoor. Namate die saak heropen word en Puleng se Pa verdink word van betrokkenheid by die misdaad, laat verskeie leidrade Puleng wonder of haar vermiste suster die ster-swemmer, Fikile Bhele (Khosi Ngema) by die rykmanskool Parkhurst College is. Die reeks is internasionaal met lof ontvang.

Ama Qamataen en Khosi Ngema vertolk die hoofrolle, Puleng Khumalo en Fikile Bhele.